Kuier

VERHOUDING­S:

Alle paartjies kry soms stry en jy wil dalk partykeer jou wederhelf se gorrel uitruk, maar daar is maniere om te sorg dat julle dinge uitsorteer sonder blywende skade.

- DEUR ERNUSTA MARALACK *Skuilnaam

Paartjies kan stry sonder skade wat bly

in die koswêreld is daar ’n spreekwoor­d wat lui,“if you can’t stand the heat, get out of the kitchen”, maar dís ook toepaslik wanneer paartjies daaraan dink om ’n argument in die kombuis te begin. As albei partye geneig is om gou warm onder die kraag te raak, is dit dalk beter om op ’n ander plek te stry. Want netnou vlieg die koppies en pierings of glip daai mes waarmee jy nog die ui getjop het en doen dan iets waaroor jy spyt gaan wees.

Oukei, dis nou seker ’n bietjie dramaties gestel, maar wanneer dit kom by verskille uitpraat, is dit belangrik dat paartjies die tyd, plek en posisie (sittend, staande of lêend) reg kies anders kan dinge lelik ontspoor. En indien daar reeds elemente van aggressie teenwoordi­g is in die verhouding, raai kenners paartjies aan om liefs uit die kombuis te bly – juis omdat daar so baie“wapens”is.

Hierdie was ook ’n bespreking­spunt onder die Kuier- span. Een kollega voel dis beter om verskille in die slaapkamer uit te sorteer wanneer albei meer ontspanne is.

’n Ander kollega glo weer jy moenie probleme die slaapkampe­r invat nie, omdat ’n slaapkamer ’n plek vir rus en kalmte is.

Maar dinge hoef nie eens hierdie kookpunt te bereik nie. Paartjies moet net leer om beter te kommunikee­r, mekaar se triggers te verstaan en om toegewings te maak vir die ander een se tekortkomi­nge.

Want dit is baie keer waaroor argumente eintlik gaan – die een party wat iets doen wat nie aan die ander een se verwagting­e voldoen nie of iets doen wat die ander party irriteer.

Sorteer dit uit

Joy Witbooi* (28) van Kraaifonte­in in Kaapstad en haar man is al vier jaar saam en vir drie jaar getroud. In dié tyd was haar geduld al getoets, maar sy sê daar is niks wat hulle nie kan uitsorteer nie. Sy sê dit help baie dat sy hardop sê as iets haar pla en dat haar man altyd die kalm een is wanneer hulle verskil. Sy wil egter onder ’n skuilnaam praat“anders voel my man ek embarrass hom en stry ons daaroor ook”.

“As daar problems is, sort ons dit by die huis uit. Maar as ons iewers anders is en dit kan nie wag tot by die huis nie, is daar‘die kyk’dan weet ons albei dis aan,”vertel Joy.

Oor dinge wat haar man doen wat haar teen die mure uitdryf, hou Joy ook nie terug nie.“Die manier hoe hy kou – dis morsig. Dis nie normal nie. En hy poep saans in die bed. Ek hou nie daarvan nie, want ek kan nie saans loop en vensters oopmaak nie. En ek kan ook nie my kop toetrek nie, want ek wil nie daai ruik nie!” Maar oor die algemeen hanteer hulle verskille as ’n paartjie baie goed, meen Joy.“Ek is nie van daai vroumense wat verwag die man moet ruik hoe ek voel nie. Ek sê dit. En my man sal altyd met die sweetste gesig sorry sê, selfs al was hy nie altyd die verkeerde een nie. En dan beweeg ons aan.” Iemand wat ’n bietjie meer lewenserva­ring het, sê sy het oor die jare geleer dis beter om jou mond te hou en weg te stap van ’n argument voor dit verder handuit ruk. Rosemund September (62) van Delft in die Kaap glo nie daaraan om ’n man se skellery te entertain nie. Sy en haar man is altesaam 26 jaar saam en vir tien jaar getroud. “Die moment as jy ’n argument gaan entertain, gaan dit aanhou en aanhou. As jy stilbly en wegstap terwyl hy skel, gaan hy soos ’n apie lyk omdat hy alleen skel en ná drie minute sal hy ophou,” deel Rosemund oor wat sy gevind het werk vir haar in tye wanneer argumente opduik. Sy sê voorts geld en drank is die onderwerpe wat die meeste stryery veroorsaak omdat haar man alewig wil weet wat sy met die geld gemaak het. Rosemund meen hy verstaan nie dat jy as huisvrou deesdae nie baie met R500- of R1 000kosgeld kan koop nie. Wanneer dit by drank kom, kom die stryery gewoonlik wanneer Rosemund se man byvoorbeel­d sy ses biere vir die dag opgedrink het en dan later by haar geld vir nog kom soek terwyl sy moet budget vir die week. “Die beste om ’n stryery te vermy, is om stil te bly. Jy kry mans wat daarvan hou om ’n show voor ander te gee daarom ignoreer ek die onderwerp heeltemal. Ek sal dit nie eens later ophaal nie, selfs al vra jy om verskoning,”sê Rosemund. Ons wou darem ’n man ook die kans gee om sy spesie te verteenwoo­rdig.

Brendin Jonathan (30) van Eersterivi­er in die Kaap en sy meisie gaan al vyf jaar uit en hy sê“vroumense se langdradig­heid, veral as ons na ’n event toe gaan, laat my bloed kook”.

“’n Man wil net by die event uitkom en het nie nog lus vir daai draaiery nie. En oe, jy kan enige man vra, ons haat dit om saam met vroumense te gaan shopping. Want as mans gaan shopping, gaan ons vir die ding wat ons soek en stap uit, maar vroumense change hul mind oor alles wat hulle wou koop.”

Maar so baie as wat hierdie goedjies sy bloed laat kook, glo Brendin nie daaraan om kwaad te gaan slaap nie. Wanneer daar ’n stryery was, sal hy sy meisie tyd gee om te kalmeer en haar dan approach. “Maar praat dit uit voor julle gaan slaap,”sê Brendin.

Kenners gee raad

Dís wat gewone Kuier- mense sê. Maar wat sê kenners oor wat die regte tyd, plek en posisie is om in te neem wanneer paartjies burning issues het om uit te sorteer? En watter tipe onderwerpe kan nogal neig om warm te raak?

Pam Gillingham, direkteur by die Family Life Centre in Johannesbu­rg wat baie ervaring het met couples’counsellin­g en ook opleiding in hierdie veld fasiliteer, sê die algemeenst­e redes hoekom paartjies gewoonlik stry, is omdat hulle mekaar misverstaa­n of swak kommunikas­ie het.

“Dit (argumente) kan oor enigiets wees – van vullis wat uitgevat moet word tot die tandepasta­buisie wat in die middel gedruk word. Maar dis gewoonlik issues wat na aan iemand se hart is en nie in die verlede aangespree­k is nie,”verduideli­k Pam.

Pam sê sy dink nie die vertrek in die huis waar argumente plaasvind, is die eintlike probleem nie.“Maar in hoë intensitei­tsituasies, bly liewer uit die kombuis uit! Kalmeer ook jouself eers anders nooi jy die ander party uit vir ’n oorlog.”

So, wanneer alles daarop dui dat ’n vurige argument onafwendba­ar is, is dinge soos tyd en plek belangrik, sê Pam.“Die persoon wat die argument begin, moenie guns blazing kom nie anders sit die ander party ’n muur op. Begin eerder die gesprek met‘ek voel . . .’Dit gaan daaroor dat jy ook verantwoor­delikheid vat.”

Wat tyd betref, raai Pam aan jy vra jou maat wanneer die beste tyd is om dinge uit te praat. En wat posisie betref, is dit nie ’n goeie idee om oor iemand te staan terwyl jy jou punt stel nie. Dis intimidere­nd.

Karen Moross, ’n sielkundig­e wat ook as bemiddelaa­r optree vir paartjies wat op skei staan, stem saam met wat Pam sê, maar voeg by dis ook belangrik om te let hóé jy stry.

Sy sê hoewel onderwerpe soos geld en hoe partye dit spandeer; of hul behoeftes bevredig word en ouerskap tot verskille kan lei, baklei paartjies baie keer oor gevoelens.

“Voel ek vernederd, asof ek blameer word, byvoorbeel­d? En hoe reageer ek daarop? Ons reaksie is gebaseer op emosies terwyl ’n respons meer deurdag is. Met ander woorde jy dink voor jy reageer, want jy kan nooit terugvat wat jy gesê het nie.”

Karen beveel ook aan paartjies luister aktief na mekaar en hou oogkontak wanneer hulle hul punte stel in stry-situasies.

“Wys jy het gehoor wat die ander persoon sê deur te parafrasee­r wat hulle sê om seker te maak jy verstaan. Jou stemtoon en liggaamsta­al is netso belangrik. Moenie probleme laat broei nie en moenie optree as jy kwaad is nie. Kies die regte tyd en plek om daai gesprek te hê.”

Daar is niks fout met verskille nie. Solank julle weet hoe om dit uit te sorteer en dit eerder in ’n neutrale omgewing doen waar jy nie in die versoeking kom om jou maat met ’n koppie kookwater te gooi nie!

Moenie probleme laat broei nie en moenie optree as jy kwaad is nie. Karen Moross

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa