Kuier

Die seer van Gister

Jenny het die perfekte man ontmoet, maar sy kan haarself net nie kry om totaal en al gelukkig te wees nie. Sy wil by hom wees, maar iets uit haar verlede keer haar.

- Deur Maria Robyn

Darren neem Jenny se hand waar hulle op die warm sand sit en die mense op die strand dophou. “Jenny, wanneer gaan ons trou?”vra hy. Verbaas kyk Jenny na hom en vra:“Wat laat jou nou daaraan dink?”

“Wel, ons gaan nou al drie jaar uit en ons raak nie jonger nie. Ek wil settle, maar elke keer as ek die onderwerp aanroer, raak jy stil en afgetrokke. Jy is die vrou saam met wie ek die res van my lewe wil deurbring. Voel jy dan nie dieselfde nie?”antwoord Darren.

Jenny besef dat sy Darren seker nie meer langer aan die lyntjie sal kan hou nie. Hy is tog die perfekte man vir haar. Almal is mal oor hom. Hy is standvasti­g en sal goed vir haar kan sorg. Maar Jenny is bang. Sy was so lank alleen en onafhankli­k en het gedink sy sal nooit geluk vind nie.

Sy het Darren drie jaar tevore toevallig by die mall ontmoet toe sy in die parkeerare­a gestruikel en letterlik in sy arms geval het. Hulle het albei uitgebars van die lag. Hy het haar genooi vir koffie en daarvandaa­n het hulle goeie vriende en later minnaars geword. Darren maak haar gelukkig en het haar weer laat lewe. Maar daar is haar geheim . . .

“Wil jy my nie maar vertel hoekom jy nie met my wil trou nie?”bring Darren haar terug uit haar mymering. Jenny sit met geboë hoof en weet nie hoe om hom in die gesig te kyk nie. Teer vee hy ’n haarlok uit haar gesig en lig haar ken saggies met sy vinger sodat sy na hom moet kyk. Jenny staar na Darren en trane wel in haar oë op oor hierdie liefdevoll­e gebaar. Sy sien die liefde en gerusstell­ing in sy oë en haar trane rol oor haar wange.

“Ai, Darren, as jy maar net weet. Dis nie jy nie, dis ek. Ek het issues waarvan jy nie weet nie en ek weet nie hoe om jou te vertel nie,” sê sy.

Daar is ’n stilte tussen hulle. Darren neem Jenny in sy arms.“Vertel my asseblief,” sê hy, “ek wil jou help. Ek is lief vir jou, Jenny en wat dit ook al is, ons sal saam daardeur werk. Ek wil jou net gelukkig sien. Onthou, ek het jou gevang toe jy amper geval het en ek sal jou altyd weer vang voor jy die grond raak.”

Jenny lag deur haar trane, maar die ongemaklik­e gevoel gaan nie weg nie.

“Dalk is dit tyd dat jy die waarheid weet, maar belowe my jy sal nie kwaad wees nie,” antwoord sy.

“Natuurlik nie, my lief, neem jou tyd. Ek het heeldag tyd.”Hy vryf saggies haar bewende hande. Jenny haal diep asem.

“Waar begin ek?”vra sy.“Dis so ’n gemors. Dis lank terug. Tien jaar . . . Ek was jonk, onervare, onskuldig . . . Ek het Shane ontmoet deur sy susters toe ek nog op hoërskool was. Van die begin af was daar hierdie magnetisme tussen ons. Ons het vinnig verlief geraak en wou elke oomblik by mekaar wees. Ek moes hom skelm ontmoet, want my ouers sou nooit ons verhouding goedkeur nie. Ek het in ’n streng huis grootgewor­d. Hy het nie meer skool gegaan nie en ek was ’n akademiese presteerde­r. Hy was ook met rowwe maters deurmekaar. Sy ruwe aantreklik­heid en hierdie rowwe leefstyl het my aangetrek. Maar hy was aan die begin die perfekte gentleman. Diep binne my het ek geweet hierdie verhouding kon nêrens lei nie, tog kon ek dit net nie beëindig nie.”Sy sug.

“My ouers was woedend toe hulle uitvind van ons verhouding, maar dit was soos ’n verslawing – ons kon net nie wegbly van mekaar nie. So twee jaar in die verhouding het ek ontdek dat hy dwelms gebruik. Dinge het vuriger tussen ons geraak en hy het my begin druk om met hom te slaap. Ek wou nie, maar hy het aangehou tot ek een aand ingegee het. Hy het begin jaloers raak en my subtiel begin afknou – fisies en sielkundig.”

Sy sluk swaar en haal diep asem voor sy verder vertel.

“Dit het met ’n pluk aan my hare hier, ruk aan my arm daar, begin. Al hoe meer gewelddadi­g, klappe, vuishoue, later skoppe.

“Dan was dit weer hemels tussen ons vir ’n tydjie wanneer hy weer jammer was oor sy woedeuitba­rstings. Ek het gedink sy jaloesie en afknouery is omdat hy my so liefhet en my nie wou verloor nie. Dit het al erger geword tot ek op ’n dag wou selfmoord pleeg, want hy wou my nie aflos nie. O, die blou oë wat ek met grimering moes verbloem, die leuens oor die merke in my gesig. Ek was bang vir hom en het maar net elke keer gedoen soos hy sê.

“Ek het my afgesonder van my familie en vriende . . . ek het ’n eensame, lewensmoeë mens geword. Ek kon nie glo die hande wat my liggaam met soveel liefde kon bemin, is dieselfde hande wat my liggaam só kon seermaak nie.”

Die simpatieke en liefdevoll­e kyk in Darren se oë gee haar die moed om deur te druk.

“Maar die ergste was die emosionele mishandeli­ng – die woorde wat hy my toegesnou het, het my laat glo dat ek die oorsaak van alles is. Dat ek ’n gemors is en dat ek nie beter verdien nie. Die vernederin­g wat ek moes verduur. Dit het my gebreek, Shane.

“Almal wou weet hoekom ek hom nie los nie, maar hoe verduideli­k jy aan mense dat jy bang is, dat jy maar verdra omdat hy jou sal treiter al is jy ook waar? Hoe verduideli­k jy dat jy hom maar net gelukkig wil hou sodat jy ook gelukkig sal wees? Hoe verduideli­k jy dat hy jou dreig hy sal die wêreld vertel jy is ’n slet, want jy het by hom geslaap? My lewe was een groot gemors. Gelukkig het ek gaan studeer en is suksesvol. Dit het my die moed gegee om hom finaal te los.

“My familie was so ondersteun­end gedurende daardie moeilike tyd, want jy moet weet, hy het my elke dag getreiter tot ek ’n interdik gekry het.

“Die sielkundig­e en emosionele letsels gaan nooit weg nie. Nou nog kyk ek na mans se hande en wonder of hulle vroueslane­rs is. Ná Shane was jy die eerste man wat ek weer vertrou het. Ai Darren, jy verdien nie om aan ’n lyntjie gehou te word nie. Ek is bang om te trou. Ek het so onafhankli­k geraak.” Jenny huil hartseer. “Jy hoef nie meer bang te wees nie, liefling,”sê Darren terwyl hy haar rug vertrooste­nd streel.“Ek belowe jou vandag voor die almagtige God dat ek jou nooit fisies of emosioneel sal seermaak nie. Ek het jou lief met my hele hart en siel, Jenny.

“Jy sou nou al in hierdie drie jaar agtergekom het of ek ’n vroueslane­r is of hoe?” Jenny knik haar kop. Darren skulp haar gesig in sy hande en soen haar lank en innig.

Jenny glimlag, vir die eerste keer in jare voel sy volkome gelukkig en vry.

“Ja, dierbare Darren, ek sal met jou trou, al het jy nog nie rêrig amptelik gevra nie,” sê sy met ’n glimlag in haar stem.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa