Kuier

VOORBLADST­ORIE:

Sepiesterr­e gesels oor liefde op die kassie

- DEUR Tarren-Lee Habelgaarn

Kykers was onlangs geskok toe Vince en Aggie, twee van die Laan se gunsteling-karakters, ná jare van vriendskap liefde by mekaar vind. Die buite-egtelike gevry het sommige nogal warm onder die kraag gemaak. Boonop was Vince nog altyd smoorverli­ef op Bonita en Aggie is mos almal se beste vriendin wat nooit regtig ’n liefde van haar eie gehad het nie. Soos gewoonlik het Suid-Afrikaners hulle heeltemal in die storielyn ingeleef en volgens Rosa-Mari Erasmus, 7de Laan se woordvoerd­er, was nie almal aanvanklik mal oor die idee dat Vince en Aggie ’n paartjie is nie. “Maar hulle het gou gewoond geraak aan die twee. Hulle liefde was vars en opreg. Albei die karakters het verdien om ’n bietjie geluk te vind ná die afgelope tyd se drama. Kykers het dit ook makliker gevind om Aggie en Vince te aanvaar eerder as Bonita wat Vince verneuk het met sy eie broer.” Al Aggie se verhouding­s was met mans wat haar misbruik het, maar vir die eerste keer sedert ons haar 12 jaar gelede ontmoet het, is sy die leading lady en ons hou van wat ons sien. Gewoonlik is Aggie, vertolk deur Nobuhle Mimi Mahlasela (35), die een wat almal aanraai om die regte ding te doen. Dus was dit vir Mimi aan die begin moeilik om ’n storielyn te vertolk waar Aggie op haar getroude vriend, Vince (Bonita se man), verlief raak.

“Vince en Bonita was steeds wettiglik getroud. Dit is iets wat ek as Mimi nooit sou doen nie en ek moes eers met die skrywers gaan praat om te verstaan hoekom hulle dit geskryf het sodat ek my rol so goed as moontlik kan vertolk. Die skrywers het vir my verduideli­k hulle het altyd iemand van buite vir Aggie gekry en dit het nooit uitgewerk nie, maar soms is liefde onder ’n mens se neus, maar jy sien dit net nie raak nie,”vertel Mimi.

Hoewel ’n toekoms vir Aggie en Vince, wie se karakter deur Jacques Blignaut (38) vertolk word, nog onbekend is, geniet hierdie vriende dit om so intiem teenoor mekaar te speel.

Mimi, wat al vir ’n hele paar jaar in ’n gelukkige verhouding is, lag lekker wanneer sy oor Aggie se liefdesdra­mas gesels.

Die lewe gaan aan

Dit is die eerste keer dat Mimi op ons voorblad verskyn en al is Jacques ’n ou bekende gesig vir Kuier- lesers, het ’n paar dinge in sy lewe ook verander sedert ons laas in 2013 met hom gesels het.

Dit gaan goed met Jacques en sy groeiende gesin, hy is ook steeds baie passievol oor sy sterk geestelike waardes en hoop om volgende jaar meer betrokke te raak in die bediening. Hy geniet dit ook nou om die pa van ’n seun te wees. Toe ons laas met hom gesels het, het sy dogter Emmy pas een geword en nou het Angie (7) en Emmy (5) ’n boetie, Raphael (14 maande), bygekry.

Jacques sê dis baie anders met ’n seun in die huis. Hy meen die band tussen pa en seun is net anders as met dogters.

“Dit is ’n spesiale band en my klong is amazing. Sy susters is baie woelig en hy is net rustig. Ná ’n lang dag love ek dit om net saam met hom voor die televisie te lê. Daar is niks lekkerder vir my as om tyd saam met my familie deur te bring nie, maar die lewe met drie kinders is baie meer crazy as met twee. Dit kan somtyds moeilik raak en daar is baie waarby ’n mens nie altyd kan uitkom nie,”sê hy.

Jacques sê voorts ouerskap vereis dat hy soms sy eie behoeftes op die agtergrond skuif.“Ek kan nie altyd al die promosiege­leenthede bywoon met die aanhangers nie en as ek tyd gehad het, sou ek dalk aan ’n movie ook wou werk, maar tyd saam met my kinders verruil ek vir niks. Ons is so geseënd en daarvoor kan ek net dankie sê aan die Here.”

Soos Jacques, meen Mimi dit is slegs deur die Here se genade dat sy geseënd is ten spyte van alles wat teen haar getel het en dat sy nou elke dag haar passie kan uitleef.

Mimi kom uit ’n huis waar daar huishoudel­ike geweld was en haar ma het uiteindeli­k alleen weggetrek. Mimi en haar jonger broer het by haar pa in Soweto agtergebly. Sy was te jonk om die hoekoms te verstaan.

Mimi was agt toe sy besluit dat sy nie meer by haar pa wou bly nie en het op ’n taxi geklim om by haar ma in Alexandrat­ownship in Johannesbu­rg te gaan bly.

Hier het sy met talle niggies en neefs grootgewor­d. Mimi sê as sy nou daaraan terugdink, moes sy iewers in haar onderbewus­syn aangevoel het sy hoort by haar ma. Eers noudat sy ouer is, sê sy kon sy deur baie van die dinge van haar verlede werk en vrede vind.

“Baie dinge maak nou eers sin vir my en besef ek nou byvoorbeel­d dat ek ook saam met my ma misbruik is. Dit is my ma se storie en ek kan dit nie vertel nie, maar ek besef nou terwyl sy elke dag geslaan was, moes sy my beskerm. Ek het nie verstaan hoekom my ma net eendag haar sakke gepak en weggegaan het nie, maar nou weet ek sy moes dit doen om haarself en ons as kinders te beskerm. Dit is hoekom ek nou soveel meer waardering vir haar het,” sê sy.

Meer oor mimi

Mimi se skooljare was ook nie die maklikste nie. Sy is die meeste van haar lewe geboelie, maar het nie toegelaat dat dit haar toekoms bepaal nie. Sy het doelbewus ’n bedryf betree waar sy dikwels onder kritiek deurloop vir haar gewig en waar dit nie altyd maklik is vir iemand wat volgens die samelewing“te vet”is om leading lady-rolle los te slaan nie.

Maar die borrelende Mimi lag wanneer sy sê sy verwelkom die uitdaging en meen dit maak haar net meer lus om mense verkeerd te bewys. Sy het tot dusver ’n goeie loopbaan gehad en weet dat elke rol wat sy al ontvang het op meriete is en nie vir haar voorkoms nie.

Mimi sê wanneer sy nie op die stel van 7de Laan is of aan ’n teaterprod­uksie werk nie, sal mense haar altyd by haar ma en ouma in Alexandra vind. Vir hierdie lewenslust­ige aktrise is haar familie en vriende die mense wat haar nog altyd bygestaan en laat lag het.

“Dit was nie altyd maklik nie. Ek was altyd die vet vriend of niggie en dit het my nie gepla nie, maar wanneer jou selfbeeld aanhoudend afgeknou word, is dit moeilik om positief te bly. Ek was vir ’n baie lang tyd kwaad en het nooit geweet hoekom ek so voel nie of wat met my aangaan nie, maar iewers het ek besef dat jy nie net dinge kan uitblok nie,”sê sy.

Sy sê sy moes leer hoe om blind en doof te raak vir mense se kritiek, want wanneer jy toelaat dat hul woorde jou seermaak, wen hulle. Dit het van haar ’n sterk persoon gemaak en nou hoop sy om ander ook te inspireer veral deur plus size-modelwerk.

Jacques, wat saam met sy vrou, Melanie (35), baie betrokke is by hul kerk en vermaak-werkswinke­ls aan die kinders van hul gemeenskap aanbied, hoop om ook mense te inspireer en te help deur sy predikants­kap. Hy is tans besig om teologie te studeer en wanneer hy klaar is, beoog hy om nog meer tyd daaraan toe te wy.

“Ek het nog altyd ’n sterk geloof gehad. Ons het ’n drama ministry by die kerk en ek en my vrou is baie passievol daaroor. Dit is ons manier van teruggee aan die gemeenskap en veral nou dat ek kinders het, is dit vir my belangrik om kinders te help om hul potensiaal te bereik,”sê hy.

Maak nie saak of dit persoonlik of by die werk is nie, Mimi en Jacques wys ons dat die liefde en passie altyd wen en dat wat ander van jou te sê het nie belangrike­r is as wat jý van jouself te sê het nie.

 ??  ?? HOOFFOTO: Mimi Mahlasela en Jacques Blignaut is albei baie gelukkig met hul lewens. REGS ONDER: Hulle speel ’n verliefde paartjie in die sepie 7de laan.
HOOFFOTO: Mimi Mahlasela en Jacques Blignaut is albei baie gelukkig met hul lewens. REGS ONDER: Hulle speel ’n verliefde paartjie in die sepie 7de laan.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa