STOKPERDJIE:
Man maak kites om familietradisie voort te sit
bobby Gathoo (51) van Steenberg in Kaapstad behoort aan ’n baie skaars, spesiale groep mense in Suid-Afrika – hy maak kites!
Kite-makers het eindelose verbeeldings en Bobby glo vas as jy dit kan droom, kan jy dit maak.
Gebore in Lenasia, Johannesburg naby Soweto (dit is waar die Indiërs in die apartheidsjare gewoon het), was hul gesin brandarm en die kinders het nie baie speelgoed gehad nie, sê Bobby. Kites was egter baie gewild en Bobby vertel sy pa en al sy ooms was almal ekspert-kite-makers en hulle het weer by hul pa, oupa en oupagrootjie geleer. Sy pa is van Pakistan, waar kites ’n baie gewilde tradisie is en Bobby is baie trots op sy erfenis.
Hy het sy eerste kite gemaak toe hy net vyf jaar oud was. In Bobby se kinderdae was hulle egter nie bevoorreg genoeg om die regte materiale, soos bamboes en tissue papier te koop nie, dit was veels te duur. Hy en sy broers het hulle kites gemaak met die middelste blaaie van hul skoolboeke, sy ma se garing (wat hulle skelm moes gaps!) en drie vuurhoutjies.
Later van tyd het hulle bamboes wat by die rivier gegroei het, gebruik en al hul geld bymekaargeskraap om nou en dan tissue papier te koop. As gom het hulle ’n pasta gemaak van meel en warm water.
“En dit het gewerk!”onthou hy met ’n glimlag.
Maar hulle het nog altyd ordentlike kites begeer en partykeer, wanneer iemand anders se skouspelagtige kite oor hul huis gevlieg het, was die versoeking net te groot. Hy en sy broers sou ’n klippie aan ’n tou vasmaak, die mooi kite daarmee vang en dit onder hulle bed wegsteek!
Op 16 het Bobby Kaap toe getrek om by die weermag aan te sluit en het vir ’n hele paar jare nie die inspirasie, tyd of geld gehad vir kites nie. Sy passie het ’n paar jaar gelede weer begin vlam vat toe hy begin kites bou om sy vislyne dieper in die
see in te vlieg.
Die Kaapse wind is op ’n goeie dag heeltemal te sterk vir tissue papier, so Bobby gebruik nou meestal gewone plastieksakke om sy vlieërs te maak.
“Dis baie goedkoop, oral beskikbaar en ’n mens herwin so!”Bobby bestee baie tyd aan sy kuns en probeer om die leer te klim en sy kennis nog meer te verbreed. Hy sê ’n mens kan nooit ophou leer wanneer dit by kites kom nie. Hy en sy vrou, Vivienne, geniet sy stokperdjie saam. Sy vrou het selfs ’n kite-dans ontwikkel – wanneer hy met ’n kite vlieg, na-aap sy die kite se bewegings op die grond in die vorm van ’n dans.
Partykeer maak Bobby sommer die kite aan ’n stok vas, sodat daar altyd een by hul huis vlieg, al is hy besig met iets anders. Hy bind dan ’n klokkie aan die kite vas sodat hy kan hoor hoe dit vlieg.“Dis ’n merkwaardige gevoel om iets uit niks te skep, om te sien hoe jou eindproduk vreugde vir ander bring, veral kinders, is baie lonend,”meen hy. Elke kite wat hy skep, word gemaak met liefde en hy probeer sy bes om so perfek en akkuraat as moontlik te werk.
kreatiewe skeppings
Bobby het al ’n paar keer toekennings vir sy kites ontvang en het vanjaar én verlede jaar die gesogte Cape Town International Kite Festival-prys vir die Erfenis-afdeling ten bate van Cape Mental Health verower.
Verlede jaar het sy pienk-en-swart swaeltjie (tradisionele swaeltjies of Kaapse swaeltjie is ’n onmiskenbare deel van ons erfenis) kite gewen. Dié swaeltjie-tipe kite het saam met die Maleisiese en Indonesiese slawe meer as 300 jaar gelede SuidAfrika toe gekom. Hierdie jaar het Bobby ’n spoggerige skool visse laat wapper. Hy het deelnemers van China, Engeland, Duitsland, Nederland en Pole uitgestof met sy fyn afwerkings en kreatiwiteit.
“Om met ’n kite te vlieg, is iets wat jou laat opkyk, outomaties jou hele gees ook oplig, opkikker,”vertel hy opgewonde.
“Jy is daar buite, in die natuur, in die vars lug. Jou brein kry nuwe, inspirerende gedagtes. En om jou eie skepping, jou droom daar bo in die lug te sien – die kleure en patrone in die wind te voel wapper . . . dis asemrowend!”
En as daar ’n windjie waai, vertel Bobby, sal hy altyd ’n kite in die lug hê vir so lank as wat hy lewe.