Kuier

Kortverhaa­l

Die dag toe onskuldige en tipiese tienerpret in ’n nagmerrie ontaard, het Nicole se lewe onherroepl­ik verander. Kan sy met alles saamlewe en sal haar vriendskap oorleef?

- Deur Douwlina du Plessis

Nicole was mooi en jonk en ’n goeie kind met ’n elfie-gesiggie en groot bruin oë wat altyd gelyk het asof hulle verbaas is. Sy was klein en petite met ’n borrellagg­ie en ’n vinnige glimlag. En toe raak sy weg.

Ma Niekie se oë het soos gekneusde viooltjies gelyk, haar hande was bang en oral. Hulle het haar romp onnodig gladgestry­k, sy het haar hare agter haar oor ingevee met hande wat bewe soos bang hasies. Pa Johan was sterk soos ’n rots. Hy het eers al haar maats geskakel, toe al haar maats se maats en toe die ambulanse en die noodgevall­e-afdelings by die hospitale en laastens die lykshuise. En toe het hy stil begin huil en met harde werkershan­de ’n sigaret aangesteek wat hy weggeskiet het toe die lang kooltjie sy vingers gebrand het. Hy en sy vrou het om die beurt herhaal dat die meisiekind nooit sou wegloop nie. Sy was net nie so ’n kind nie.

Die polisie het begin soek en haar skoolfoto, waarin sy vol selfvertro­ue en onskuld in die kamera kyk, versprei onder die polisie wat in voertuie uit was. Haar maats het tussen hul eie huise en Nicole se huis gedwaal. Hulle was bang dat hulle nie daar sou wees as sy terugkom nie en tog hoopvol dat sy tuis sal wees as hulle weer by die groot voordeur instap wat wagtend op haar nou sommer oopgestaan het.

Haar ma het haar self voor die skool gaan aflaai vir ’n skoolsokki­e en sy sou daarna by ’n maat, Hermien, oornag het nadat haar ma hulle by die skool sou gaan haal. Die maat het tranerig bleek gebieg dat sy Nicole omgepraat het om saam met seunsvrien­de na ’n klub te gaan. Hulle is vroeg by die skool weg en sou betyds terug wees wanneer Hermien se ma kom om hulle op te laai. Onskuldige pret, ’n avontuur, bietjie oneerlik, maar so tipies tiener.

“Ons het nie gedink dit gaan met ons gebeur nie,”huil Hermien.

Die seuns, nog moeg babalas, is opgelaai – polisiesta­sie toe. Nee, hulle het te veel gedrink en die meisies was kwaad vir hulle. Hulle wou egter vroeër loop en die meisies wou nog bly.

“Nee!”sê Hermien en huil harder.“Dit is óns wat vroeg wou loop en die seuns wat nog wou bly om te drink.”

Hortend vertel sy verder.“Daar was oulike ouer ouens in die klub en hulle sou ons terugvat.”

“Nee, dis nie waar nie,”sê die seuns.“Die meisies het openlik aangelê by die ouer mans en dit is waarom ons maar ons sorge verdrink het. Hermien en Nicole was bietjie dronk.”

“Onwaar, jy lieg nou,”sê Hermien.“Julle het klouerig geword en wou nie luister nie. Toe ons nie wou toelaat dat julle so aan ons vat nie, het julle ons só sleg behandel dat ons die ander mans gevra het om ons terug te neem skool toe.”

Nicole se pa druk sy regtervuis hard in sy linkerhand saam. Hy wil tog net graag die waarheid uit hulle voeter, maar die inspekteur druk hom sag maar ferm terug in sy stoel. Ma Niekie se oë is rooi en seer en skurf onder van die sout en afvee van baie trane.

“Dis alles goed en wel, maar waar is Meisiekind en hoekom was sy nie by die skool saam met die Hermien toe dié se ma hulle moes kom oplaai nie?”

“Nicole het een van die mans geken. Sy het hom op sy naam genoem en omdat sy naar begin voel het van die drank, waaraan sy nie gewoond was nie, sou hy haar huis toe neem,”huil Hermien.

Meisiekind het net nooit daar uitgekom nie. Hulle plaas advertensi­es in die koerant. “Meisiekind, kom terug. Maak nie saak wat gebeur het nie. Ons sal saam daar deurgaan. Kom net terug. Ons is lief vir jou.”

Twee dae later skuifel Nicole by die oop voordeur in. Haar oë is plat en leeg bokant pers swamme. Haar lippe is stukkend en haar klere vuil. Haar oë loop vol trane toe sy haar ma sien. Dis asof sy hol is en haar hele lyf met trane gevul is wat oorloop deur haar oë en oor haar wange. Sy huil dat daar druppels teen haar skerp pixie-ken afloop. Sy huil en huil en skud net haar kop en praat niks.

Haar ouers laat haar opneem nadat die dokter die nodige ondersoeke gedoen het. Sy sluk die morning-after pil. Die antiretrov­irale pille maak haar naar en siek. Sy lê bleek teen die kussings. Die enigste kleur in die elfie-gesiggie is die blou kneusings.

Sy huil as sy stort en stort en stort. Sy huil as sy eet. Sy huil en draai haar gesig na die muur wanneer haar ouers haar uitvra. Sy sê niks, want sy weet niks. Sy kan niks onthou nie.

Haar ma gil op Hermien.“Gaan weg! Het jy nie genoeg skade gedoen nie?”

Hermien hardloop uit, met haar eie ma agterna. Sy huil hortend en haar ma vou haar toe in haar arms, skuldig dankbaar dat haar kind nie in die hospitaalb­ed is nie.

Hulle doen toetse, maar dit is basistoets­e. Dit moet herhaal en herhaal word.

Die eerste toetse vir MIV is negatief. Hulle toets vir die hele reeks dwelms. Sy het die date rape pil ingekry. Dan stuur hulle Nicole huis toe.

Meisiekind bly in haar kamer. Sy weier om skool toe te gaan. Sy kry nagmerries en een nag maak sy haar bed nat. Sy klouter by haar ma in die bed as haar pa koffie gaan maak om die lang nag om te kry.

Later slaap sy pal by haar ma en haar pa slaap in haar kamer. Dit lyk asof dit beter begin gaan toe sy ’n berader sien en antidepres­sante drink. Hulle arresteer die jongmans weke later. Sy het aktief meegedoen, verklaar hulle. Stories begin loop. Iemand bel Meisiekind se ma en waarsku hulle dat een van die mans MIV-positief is. Nicole luister af in die gang en dring daarna aan op nóg ’n bloedtoets. Die strokietoe­ts in die spreekkame­r is negatief, maar haar ouers dring aan op die duurder, meer spesifieke toets om enige virusdeelt­jies op te tel.

Dit sou ongeveer drie dae neem om die uitslag te kry. Op die tweede dag ná die bloed getrek is, hang Meisiekind haarself in die motorhuis op. Ma Niekie kry haar gelukkig betyds en sy word gered. Die volgende dag is die resultate bekend. Dit is negatief.

Haar vriendinne weier om te loop vanaf haar hospitaalb­ed. As sy haar oë oopmaak, sit een van haar vriendinne voor haar bed. “Ons is lief vir jou, Nicole. Ons gaan nêrens nie. Raak gewoond daaraan. Ons staan by jou!”

Toe eendag sit ’n verwese Hermien voor haar bed toe sy wakker word. Hermien is maerder as ooit, haar oë is groot en bang. Al wat Nicole kan doen, is om haar bewende hand uit te steek na haar vriendin. Twee hande sluit bewend om mekaar. Die twee ma’s sien hulle só sit. Niekie sluit haar oë.“Dankie, Here, hulle het nog ’n kans gekry. Ons arme kinders.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa