Kuier

Wes-Kaapse boer suksesvol deur werkers te help

Dié appel-en-peerboer se klein begin as verkoper en harde werk laat hom groot oes en met sy familie se ondersteun­ing kan hy net verder groei.

- DEUR TARREN-LEE HABELGAARN

Toe ’n voormalige vrugteverk­oper 17 jaar gelede besluit het om sy polisse te laat uitbetaal sodat hy ’n appelplaas kon koop, kon selfs hý nie voorspel hoeveel lewens dit sou verander nie. Vandag is hy nie net ’n welvarende plaaseiena­ar nie, maar het ook gehelp om ’n hele plaasgemee­nskap te verander.

Van die pad af lyk die plaas Cortina soos enige ander vrugteplaa­s in die omgewing, want tussen Grabouw en Villiersdo­rp in die Wes-Kaap is daar baie. Maar dit is wanneer jy op die plaas kom dat jy sommer kan aanvoel – hiér is iets spesiaals. In elke hoekie van die 56 ha appel-en-peerplaas is iemand besig om iets te doen, maar selfs die besigste werker vat ’n oomblik om op te kyk en jou te groet. Daar heers ’n vrolike atmosfeer en jy kry dadelik die gevoel die mense hier is lief vir hul werk en geniet wat hulle doen.

’n Mens sou verwag dat die plaaseiena­ar en -boer dalk in ’n kantoor sou wees, maar nie Richard Myburgh (55) nie. Met Kuier se besoek was hy self besig om die bokse op ’n trok te laai. Dit is ’n familiebes­igheid en sy gesin werk ook op die plaas. Sy vrou, Yvette (51), is in beheer van die boeke en die administra­tiewe verantwoor­delikhede op die plaas, terwyl hul middelseun, Wilrick (21), die pakhuis bestuur en hul oudste seun, Ricard (25), vyf jaar gelede die boerdery by sy pa oorgeneem het. Die paartjie het ook ’n jonger seun, Billraé (18), en dogter, Yverne (14).

Richard en Yvette meen dis juis omdat hulle so ’n goeie verhouding met hul werkers het dat hulle vandag die vrugte van hul harde werk kan pluk. Maar hul sukses het nie sommer oornag gebeur nie.

Anders as sy oudste seun wat ná skool landbou gaan swot het, het Richard alles wat hy van boerdery af weet by sy oupa geleer. Sy oupa en ouma het vir jare op ’n appelplaas gewerk en van kleintyd af het Richard naweke sowel as skoolvakan­sies saam met sy oupa op die plaas gaan werk. Sy oupa het vir hom geleer van die verskillen­de tipes grond, temperatur­e en hoe om ’n boom te ver-sorg. Hy was ook piepklein toe sy oupa vir hom wys hoe om ’n trekker te bestuur.

liefde vir boerdery

Dit is waar sy liefde vir boerdery begin het en van daar het dit net gegroei.

“Die tyd met my oupa het vir my ’n goeie agtergrond gegee. Dit het vir my ’n goeie kennis van boerdery gegee en dit is wat my oor die jare gehelp het. Ek het nooit enige formele opleiding gekry nie, maar ek het klein begin en geglo as ek hard werk, ek ’n sukses van my besigheid kan maak,” sê Richard.

Richard het begin deur vrugte van produsente te koop en dan aan klein

ondernemin­gs te verkoop. Sy besigheid het vinnig gegroei en toe die pakhuis wat hy op ’n ander plaas gehuur het te klein word, het hy besluit dis tyd om sy eie plaas te koop. Hy het meestal aan mense op die platteland en in die Kaap verkoop.

klein begin

“As jy klein begin en jou besigheid stadig laat groei, is daar minder ruimte vir failure en kan jy beter aandig gee aan elke deel van die besigheid. Dit is ook minder finansiële druk op jou, maar om ’n besigheid te begin is nie grappies nie. Dit sal nooit die regte tyd wees nie en mens voel jy het nooit genoeg geld nie, maar dit is moontlik en dan moet jy hard werk en weet wat in jou besigheid aangaan,”sê hy voorts.

Richard, wat oorspronkl­ik van Pniel buite Stellenbos­ch is, het saam met 50 werknemers sy vrugteverp­akkingsbes­igheid begin en nou verpak, vervoer en voer hy maandeliks duisende appels plaaslik en internasio­naal uit. Afhangende van hoeveel werk daar is en wat die aanvraag is, is daar tussen 100 en 150 wat op die plaas werk.

Hul sukses het Richard en sy gesin in staat gestel om vir twee generasies van plaaswerke­rs werk aan te bied en vir hul eie kinders se toekoms te sorg. Hulle kon vir elkeen van hul seuns hul eie bakkie koop en het onlangs een van die ou huise op die plaas vir hul oudste seun opgekikker. Die gesin neem nie baie vakansie nie, maar geniet wel een plaaslike en een internasio­nale vakansie jaarliks.

Die familie mag dalk groot sukses behaal het, maar wanneer jy saam met hulle op die plaas rondry en sien hoe betrokke hulle is in elke deel van die plaas en hoe hulle hul mense behandel, sal jy vinnig agterkom hierdie gesin is plat op die aarde.

Richard se seuns moes naweke vir hul sakgeld appels gepak het en het vakansies saam met hom op die plaas rondgery om te sien wat hy doen.

Ricard, wat net so lief is vir boerdery soos sy pa, sê daar is niks anders wat hy wil doen nie en glo ook dat ’n mens moet weet wat aangaan.

As jy enige lid van hierdie gesin vir ’n uur op kantoor kry, is dit jou gelukkige dag.“Ek besoek elke dag die appels sodat ek self kan sien wat daar aangaan. As jy heeldag in die kantoor sit, sal jy nie weet wat daar aangaan nie en sal jy somtyds skade ly wat jy maklik kon verhoed het,”sê Richard.

“Omdat ek buite met my mense is, weet ek hoe die bome moet lyk en as ek iets verkeerd sien kan ons dit vinnig regmaak, voordat die vrugte sleg word. Ja, dit is goed wanneer jou mense goed is in hul werk, maar jy moet altyd die voorbeeld stel en netso hard soos hulle werk.”

Plaaskultu­ur

Volgens Yvette is nog ’n rede vir hul sukses die kultuur wat hulle op die plaas geskep het. Sy en Richard glo as jy mooi na jou mense kyk, sal hulle na jou kyk. Daarom het hulle oor die jare hard gewerk om die swak gewoontes soos drank en bakleiery onder hul werkers te verbeter.

“Vandag drink hulle amper glad nie meer nie en voel ’n mens trots wanneer jy sien hoe ons mense hulself opgebou het. Baie van hulle het onlangs motors gekoop en almal het al flat screens gekoop,”sê sy met ’n lag in haar stem.

Yvette voeg ook by dat dit lekker is om nie net te sien hoe hul mense groei nie, maar ook hoe die volgende generasie die besigheid met passie oorneem. Sy kon nooit haar kinders straf deur te sê hulle mag nie televisie kyk nie. As sy haar kinders wou straf moes sy vir hulle sê hulle mag nie in die pakhuis gaan werk nie!

“’n Mens vind nie altyd dat kinders ’n belangstel­ling in die familiebes­igheid het nie. Baie keer wil kinders in hul eie rigting gaan, maar ons is gelukkig dat ons kinders ook ons passie het. Dit is lekker om saam te werk en te weet dat hulle eendag verder sal bou op wat ons begin het,”sê sy.

Dit gebeur alreeds. Ricard het onlangs die Agri SA Toyota-toekenning vir Best New Harvest gewen. Dit word jaarliks aan ’n belowende boer gegee wat ook dinge doen om landbou te verbeter. Ricard is onlangs Amerika toe waar hy ook meer oor hul landbou gaan leer het en om te sien wat hy hier kan toepas.

Die Myburgh-familie probeer ook om elke jaar iets nuuts met hul appelprodu­ksie te doen en is steeds besig om hul besigheid te groei. Van generasie tot generasie wys hierdie gesin dat wanneer jy ’n plan het en ’n passie daarby, jy nie net jou eie lewe kan verander nie, maar die lewe van ’n hele (plaas)gemeenskap.

 ??  ??
 ??  ?? ONDER: Richard se seun Wilrick, die pakhuisbes­tuurder. REGS: Richard en sy seun Ricard in die appelboord­e.
ONDER: Richard se seun Wilrick, die pakhuisbes­tuurder. REGS: Richard en sy seun Ricard in die appelboord­e.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa