Kuier

BOODSKAP: Wat hang jy dié Krismis aan jou geestelike boom?

-

I“Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het Sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.” (Mattheus 2: 2) Deur past. Idy Adams

n ’n terugblik in my verlede vlieg meer as veertig jaar verby en ek bevind myself voor hierdie massiewe naaldboom wat my pa self in die emmer in ons voorkamer (in ons huisie in die immergroen Phillipton, ’n plaas in die voormalige Ciskei) kom plant het. Ons het geweet die versiering daarvan is soos die aankondigi­ng van Krismis self.

Hmmm . . . Dit het gevoel of die reuk van Kersfees dan skielik in my neusvleuel­s brand en my hande het gesweet van die Krismisbal­le wat ons vanuit die skoendoos vol stof haal. Min te weet soos ons hierdie balle hang, só het ons huisgesin stelselmat­ig vergeet van alle sorge en teëspoed wat ons tot dan sou beleef het.

’n Glimlag het op my gesig gevorm en die excitement van Krismis was hier en die versigtige opsit van die ster – die hoogtepunt.

In my tienerjare (in ons Karoodorp, Pearston in die Oos-Kaap, met sy nederige en vrinnelike inwoners) is die naaldboom op ’n baie subtiele wyse stelselmat­ig met ’n pragtige kunsmatige groen boompie vervang, ’n miniatuur repliek van die naaldboom en die Krismisbal­le is vervang met veel kleiner en minder kristalbal­le as voorheen en die ster, veel ligter en sy glans veel dowwer. As ek maar net reeds daardie tyd die waarde van die kristalbal­le besef het.

Die afgelope paar jaar hang ons nie meer kristalbal­le in ons huisie (hier in Hawston) by die see nie. In ons huisie het ons as gesin (ek, my vrou en twee kinders) die Krismisboo­mpie uit die sitkamer verskuif en ’n heenkome gebied in die hoek van ons klein stoepie, ingedwing langs die verroeste kaggel. ’n Oulike spierwit boompie waarvan die takkies (wat herinner aan my pa se pipe cleaners) met kristalhel­der liggies voorsien is. Die ster kon nie sy sit boop die toppunt van die boompie kry nie en het ongemerk by die res van die kristalbal­le sy rus in die skoendoos gevind.

My mondhoeke trek skielik teësinnig pynlik saam om ’n glimlag te vorm, maar daar is te veel kommer en ongelukkig­heid in die atmosfeer om werklik te glimlag.

Dit is asof ons vergeet het wat die waarde van Krismis werklik behels. Map Jacobs in Krismis van Map Jacobs (skrywer oorle’Adam Small) gryp my gedagtegan­g aan wanneer hy ons daaraan herinner dat Krismis ’n nuwe begin; ’n geskenk; ’n verrassing; vrede en blydskap is.

Ons fokus is egter verplaas na luukshede, ’n gejaag na geld, ’n kompeteren­de gees teenoor ons naaste, aspirasies wat ons beroof van gesinsames­yn en liefde. Die samelewing het ons kuiertjies saam verander na vrees om die huis te verlaat; ’n lekker jol onner vrinne verander na saamwees met ’n bedwelmde gees; ’n sorgelose lewenslust­ige lewe op die plaas na . . .

Hierdie Kersfees sal vir my weer ’n Krismis wees. Genoeg het ek medepligti­g gebly in die afwatering van ons blye dag om excited te wees vir Hom, ons Jesuskind.

In my geestesoog gaan soek ek hierdie Kersfees vir my die grootste Krismisboo­m en plant hom in my groot voorkamer net soos my pa dit gedoen het.

Ek sal die skoendoos gaan soek en al die kristalbal­le langs die boom uitboender en elkeen ’n naam gee en hulle een-vir-een ophang en op die naam roep sodat my gesin, my gemeenskap, my provinsie, my land, die hele wêreld en die heelal sal hoor hoe ek hul name uitbasuin: ongelukkig­heid, hartseer, weëmoed, bitterheid, wantroue, haat, verkragtin­g, moord, korrupsie, werklooshe­id, rassisme, wraak, veragting en soveel meer. Die takke van my boom sal swaar hang van die vrot en ek sal dit met die kleurvolle tooisels aan my boom vasdraai.

Ek sal op my leertjie klim en my groot ster bo-op die toppunt van my boom neersit, stip daarna staar en vra:“Waar is Hy wat as Koning van die Jode gebore is? Ons het Sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys.”

My kristalbal­le sal Hy weer verander in Krismisbal­le en my Krismisboo­m word . . . my vredesboom.

’n Geseënde Kersfees aan almal. Mag julle hierdie seisoen die vrede vind wat elkeen verdien. *Idy Adams is senior pastoor by Sjechinah Ministries.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa