TWEE KEER DIE TRAUMA: Ma verloor twee kinders in huisbrande
Vir ’n ouer is dit onbeskryflik seer om ’n kind te verloor. Maar hoe gaan ’n ma aan wanneer twee van haar kinders op dieselfde tragiese wyse jare uitmekaar sterf?
Twee kinders se plekke by die etenstafel is leeg. Net soos in hul ma se hart. Nooit weer sal sy hul kinderlaggies hoor, hul einas kan wegsoen of hul trane kan afdroog nie.
Twee verwoestende brande het twee van haar kinders net twee jaar uitmekaar van haar af weggeruk. Boonop op dieselfde erf.
Al wat nou vir haar oorbly, is haar liefde en herinneringe, maar ook die bittere wete dat sy hulle nie kon red nie. En nou moet sy elke dag opstaan en sonder hulle aangaan met haar lewe ter wille van haar twee oorlewende kinders. Want al is sy tans ’n gebroke ma, het dié twee haar nodig om ook húlle te help dra aan die seer van hul sibbe wat nie meer daar is nie . . .
Dít is vandag die tragiese realiteit vir Joslyn Adams (41) van Macassar buite Kaapstad, nadat die huisbrande twee van haar kinders (onderskeidelik vyf maande en 13 jaar oud) twee jaar uitmekaar geëis het. Eers het haar babaseun, Vandrol (vyf maande), in 2016 onverklaarbaar in haar ouers se huis doodgebrand. En verlede maand het haar wendyhuis agter in haar ouers se jaart in Seemeeustraat, Macassar ook onverklaarbaar vlamgevat en haar dogter met Down-sindroom, Venisha (13), se lewe geëis.
Vir Joslyn, wat ook ma is van twee dogters, Juwaan (20) en Lashaun (12), spook die pynlike manier waarop beide Vandrol en Venisha gesterf het, dag en nag by haar.
Sy was nog nooit oor Vandrol se tragiese dood nie toe sy waaragtig op 5 Februarie vanjaar dieselfde verpletterende pyn moes beleef. (Juwaan het ’n ander pa as Lashaun, Venisha en Vandrol, met wie Joslyn vir 15 jaar in ’n verhouding was.)
Albei kinders se dood was erg, maar veral Venisha s’n ruk haar, want haar dogter“vir wie almal so lief was”, het ’n intense vrees vir vuur gehad, vertel Joslyn. Dit is amper ongelooflik om te dink dat Venisha van kleins af bang was vir vuur, amper asof sy geweet het hoe sy hierdie aarde gaan verlaat.
Niemand weet egter wat die brand waarin Venisha gesterf het, veroorsaak het nie. Selfs die forensiese span kon geen leidrade vind nie, sê Joslyn.
Venisha moes eintlik daardie dag by die skool gewees het, maar omdat hulle die oggend verslaap het, het Joslyn haar by haar oupa en Juwaan gelos terwyl sy gaan werk het.
verwoestende brand
Die gemeenskapskoerant DistriksPos het berig Juwaan was besig om haar oupa se huis skoon te maak toe sy die bure histeries hoor skreeu het dat daar rook uit hul wendyhuis trek. Juwaan het dadelik na die wendyhuis gehardloop waar Venisha gelê
en slaap het, maar dit was te laat om haar te red. Die vlamme was reeds te hoog, die vuur te warm en die rook te dig. Sy kon nie by haar suster uitkom nie.
’n Groot groep mense het gou naby die huis saamgedrom, maar hulle moes magteloos staan en kyk na die toneel wat voor hulle afgespeel het, want daar was niks wat enigiemand kon doen om die huis of Venisha te red terwyl die vlamme hul verwoestende werk gedoen het nie.
Die tragiese gebeure het die gemeenskap nie onaangeraak gelaat nie en hulle probeer steeds die gebroke gesin ondersteun waar hulle kan.
Waar Joslyn vandag in die huis van haar kêrel, Leon Galant (40), se ma, Hendriena (75), in Wellington haar hartverskeurende storie vertel, kan ’n mens sien die wonde van haar hart is nog rou. Sy het hierheen gekom om te kom rus en weer sterker te word.
Ek sukkel nou nog met Vandrol se dood. Nou moet ek wéér . . . Ek dink nie ek kan dit maak nie. Die forensics vermoed niks. Wat was dit dan? Joslyn Adams
Maar twee weke ná Venisha se dood is Joslyn nog platgeslaan asof dit gister gebeur het. Sy is nog nie werklik gereed om te praat nie, maar voel sy moet probeer. Ten tyde die onderhoud het sy keer op keer oorstelp geraak, die damwalle het gebreek en daar was geen keer aan haar trane nie. Soms het sy selfs amper hiperventileer as gevolg van die verdriet en smart en moes Hendriena haar probeer kalmeer. Tog het sy moedig begin om die twee grootste tragedies in haar lewe te herleef.
Dit was beslis een van die hartverskeurendste onderhoude wat Kuier al ooit gedoen het.
Joslyn se oë skiet vol trane wanneer sy die dag van Venisha se dood onthou. Op die oog af was dit ’n doodnormale dag. Maar soos wat sy terugdink, besef Joslyn daar was tog ’n paar tekens wat haar moes waarsku oor die tragiese gebeure wat haar lewe uitmekaar sou ruk.
voorgevoelens
’n Paar dae voor die lewensverwoestende brand, het Venisha die heeltyd vir haar ma en enigiemand wat wou luister, vertel iets brand, maar nie een keer kon iemand anders iets ruik nie.“Venisha was van kleins af vreesbevange vir vuur,”onthou Joslyn hartseer,“ek moes na my kind geluister het.”
Die Maandagoggend van 5 Februarie het sy en Leon ’n klein meningsverskil gehad, onthou Joslyn. Hulle het boonop verslaap en haar pa het gesê Venisha is te laat vir skool (sy gaan na ’n skool vir kinders met gestremdhede) en kan maar by hom by die huis bly. Juwaan was ook in die rondte om te help kyk na haar. Joslyn onthou sy het daardie dag gevoel sy moenie gaan werk nie, maar sy het,“want die rekeninge moet betaal word”. Sy vertel sy is nogal iemand wat voorgevoelens kry.
“Ek is bang om te sê ek is ingesny vir dit, dit kom van my eerste kind af wat ook gebrand het.”Vandrol was net vyf maande oud in 2016 toe hy in sy ouma se kamer doodgebrand het. Die vreemde ding is niks anders in die huis het uitgebrand nie, selfs nie eens die bed se base waarop hy gelê het nie, sê Joslyn. Niemand kon die oorsaak van die brand opspoor nie, maar Joslyn glo“vuilgoed”is betrokke. Sy kan tot vandag toe nog nie oor sy dood kom nie.
Dit is vir haar baie moeilik om te aanvaar en sy voel skuldig omdat sy niks kon doen om hom te red nie. Minute voor sy dood was sy by hom en het net die skottelgoed gaan was voor badtyd. En toe breek daardie brand uit wat haar enigste seun se lewe geëis het.
Nooit het sy gedink sy sou skaars twee jaar later dieselfde hel deurmaak nie, maar soos met Vandrol se dood, het sy op 5 Februarie vanjaar weer so ’n voorgevoel gekry.
Joslyn is ’n masjienoperateur by McAdams in Blackheath. Omtrent halftwaalf daardie dag was Joslyn in die kleedkamer by die werk toe ’n koue rilling en hoendervleis haar oorval. Sy kon nie verstaan hoekom nie, maar sy het dadelik ’n onheilspellende gevoel ervaar en besef êrens is alles nie pluis nie. Sy het die voorgevoel afgemaak as niks, haar gesig afgespoel en teruggegaan na haar werkstasie, waar haar manager op haar gewag het. Hy het haar geneem om haar suster te gaan haal, wat in dieselfde fabriek werk en het die nuus aan hulle gebreek: Daar was ’n brand, haar huis is vernietig en haar sonskynkind, haar Venisha, het binne-in die vlammehel gelê en slaap. Niemand kon haar help nie.
’n Mens kan nie anders as om te hoop Venisha het aan die slaap gebly tydens die brand nie en dat sy saggies in haar drome heengegaan het nie. En ook dat sy salig onbewus was daarvan dat haar grootste vrees waar geword het, dat die vlamme besig was om haar in te sluk.
Alles vernietig
Hulle het Joslyn dadelik na die toneel gehaas en oor wat haar daar in die gesig gestaar het, kan sy nie praat nie.
Die foto’s van die DistriksPos vertel egter ’n storie van verwoesting. In die puin is die enigste ding wat ’n mens kan uitken, ’n gesmelte oranje wasgoedmandjie.
Somtyds wil ek probeer selfmoord pleeg. Ek weet nie wat om verder meer te maak met my lewe nie. Joslyn Adams
’n Hele leeftyd, nou net ’n hoop rommel en as. Jamey Gordon, verslaggewer van dié koerant, vertel sy berig gereeld oor brande in haar werk, maar hierdie is een wat haar altyd sal bybly.“Dis selde dat jy op ’n toneel kom en die verkoolde lyk is nog daar. Dit spook half by jou,”sê sy.“Selfs die volgende dag toe ek daar kom om die familie te besoek, was dit vir my asof ek haar steeds daar kon sien lê.”
Jamey onthou op die toneel het talle mense saamgedrom en het in skok gestaar terwyl noodpersoneel en brandbestryders hulle werk gedoen het. ’n Mens kon nie veel sien van die pad af nie, omdat die wendy in die agterplaas was. Toe sy daar aankom, was die brand reeds geblus, maar die reuk wat in die lug gehang het, het haar vir dae daarna bygebly.“Dis ’n reuk wat aan jou vashaak – hare, klere . . .” vertel Jamey. Die ergste vir haar was die familielede wat in rou gedompel was.“Dit raak elke keer aan jou hart om hul hartseer te aanskou,”meen sy.“Van hulle, veral die ma se suster, het ineengestort toe sy die nuus hoor. Dit raak soveel mense. Jy kan nie help om jouself in hulle, veral die ma, se skoene te sit nie. Dit is my grootste nagmerrie.”
’n Ander ding wat vir Jamey opgeval het, was die kinders, veral in die lig van die huidige waterbeperkings.“Daar was ma’s met hulle kleintjies wat ook na die toneel gekom het. Van die kinders het daar in die water baljaar, salig onbewus van die tragedie wat om hulle afspeel,”onthou sy.
ondenkbare pyn
Joslyn begin onbedaarlik huil wanneer sy onthou Venisha het blykbaar vroeër die oggend haar oupa gaan roep en gesê iets brand, maar weereens kon hy niks verkeerd kry nie. Joslyn vertel met trane in haar oë dat as Venisha gedink het iets brand, sy nie alleen in die huis sou bly nie. Sy kan glad nie verstaan dat haar kind rustig sou lê en slaap, as sy gedink het daar is ’n vuur êrens nie. Sy was net te bang.“Om eerlikwaar te sê, ek weet nie wat daardie dag gebeur het nie,”vertel Joslyn.
Mense sê vir haar sy moet haar daarby berus dat dit God se werk en wil is, maar sy stem nie saam nie.“God doen nie dít nie,” sê sy beslis,“ek blameer Hom nie. Hy was nie verantwoordelik daarvoor nie.”Met hierdie woorde begin Joslyn onbeheersd huil en daar is ’n stortvloed van trane. Dis asof die wete dat sy nooit weer haar dogter in haar arms gaan vashou nie, haar weer van vooraf onkant vang.
Sal Joslyn ooit weer vir haarself in die spieël kan kyk sonder om aan haar twee kinders se liefdevolle ogies te dink wat nooit weer na hare sal kan staar nie? Die aardse besittings wat sy verloor het, sal sy eendag kan vervang, maar dis haar hart wat gebroke en leeg bly. Daardie leemte sal nie sy nie kan vul nie. Joslyn weet nie of sy ooit die gruwelike dood van haar kinders sal kan verwerk nie. In hierdie stadium lyk dit onmoontlik. Partykeer as sy alleen is met haar eie gedagtes, kry sy net ’n brandreuk en dan weet sy haar kinders is by haar. As sy maar net daar vir hulle kon wees in hul laaste oomblikke . . .
Daar is nie eens meer ’n versameling foto’s of ’n aandenking oor om te koester en die kinders mee te onthou nie. Die reuk van rook hang nog in die lug daar by haar ouerhuis. Dis ’n stille herinnering aan alles wat vir altyd verlore is.
Toe sy haar emosies onder beheer kry, vertel Joslyn almal was lief vir Venisha. Sy was ’n lewenslustige, lieflike dogtertjie, altyd opgeruimd.“Haar eerste woord was ‘babelas’,”lag Joslyn deur die trane.
“Sy was Leon se‘Pampoentjie’. Dis vir ons almal net so hard. Ons was al so gewoond aan haar wat hier gekuier het,”vertel Hendriena en vee die trane af wat saggies oor haar wange rol.“Sy het in almal se harte gekruip,”beaam Joslyn. Haar gesig vertrek van die pyn voordat sy weer begin huil.
Hoe kon so iets gebeur?“Forensics sê daar was niks kortsluitings of tekens van brandstigting of earth leakage nie,”vertel Joslyn.
Die smart is so diep dit het Joslyn in ’n donker gat van depressie gedompel. “Somtyds wil ek probeer selfmoord pleeg,” snik sy.“Ek weet nie wat om verder meer te maak met my lewe nie. Maar ter wille van Leon en my ander kinders is ek nog hier.”
Deesdae klou Joslyn vas aan haar drome, want dit is waar haar kinders naby aan haar voel.“Ek het ’n droom gehad van twee wit budgies (voëltjies) wat ek gevang het. Een het weggevlieg en toe weer teruggekom,”vertel sy. Hierin vind sy ’n mate van vertroosting.
“Ek sukkel nou nog met Vandrol se dood. Nou moet ek wéér . . . Ek dink nie ek kan dit maak nie. Die forensics vermoed niks. Daar’s niks nie. Wat was dit dan?”wonder sy en begin verdrietig snik. Hoe is ’n ouer veronderstel om sin te maak van so ’n dubbele tragedie? Wat Joslyn tans deurmaak, die warboel van skuldgevoelens, emosies en verlange, is so ondenkbaar, so hartverskeurend dat ’n mens net kan bid dat tyd haar gewonde hart ’n bietjie sal kan genees, haar swaar las ’n bietjie meer draaglik sal maak. Dat sy in ’n stadium net die mooi herinneringe van hulle lewens sal koester.
Maar sal sy ooit die skok en seer kan oorkom en die stukke van haar hart kan optel en aangaan met die lewe? Net die tyd sal leer . . .