Kuier

MY STORIE: Suster se verlies groot toe sy albei broers verloor

Toe haar een broer in bendegewel­d sterf, het sy deur diep waters gegaan om seker te maak haar jonger broer loop nie dieselfde paadjie nie.

- DEUR SHIRMONEY RHODE

‘Vir ons wat op die Kaapse Vlakte grootword, is dít die koue realiteit van ons daaglikse bestaan: Almal is bang vir bendes. Almal in die gemeenskap weet wie die moordenaar­s en rowers is, maar niemand wil praat nie, want daar is die konstante vrees dat jy jou lewe deur bendegewel­d kan verloor. En as daar seuns of jongmans in jou huis is, vrees jy dat hulle deur bendes ingetrek sal word en op dié manier van jou weggeruk sal word. In my geval, hét my oudste broer by bendes betrokke geraak en weens hierdie leefstyl gesterf. En dit was amper my jongste broer se lot ook, maar as sy ouer suster het ek alles in my vermoë gedoen om dit te verhoed.

Die jaar 2015 was vir my ’n moeilike jaar. Dit was die jaar toe ek my jongste broer, Clayton (16), begin verloor het, maar ek het dit nie toe geweet nie. Dit was ook die jaar toe ek hom byna soos my oudste broer, Clayon (19), aan bendes verloor het . . .

uit die bendes

Maar net toe ek dit regkry om Clayton uit bendes se kloue te hou en weer op die regte pad te kry nadat hy tydelik die pad byster geraak het en skool gelos het, sterf hy einde 2017 onverwags en tragies, maar aan natuurlike oorsake. Hy het bloeding op die brein gehad. Ek het geweet my lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Dis moeilik om jou storie te skryf soos dit is, met al sy rou en seer en vuil. Maar ek weet vir ’n feit daar is êrens op ’n plek iemand wat deur ’n soortgelyk­e situasie gaan of dalk iets erger deurmaak en daarom mag (en móét) ek dit skryf. My storie is vandag een van beide hoop, liefde, hartseer en verlies en lees só . . .

Ons oudste broer, Clayon, is op 19 jaar

oud vermoor. Ek moes op 15-jarige ouderdom die oggend van 26 September 2006, sy lyk op ’n verlate skoolveld gaan uitken.

’n Jaar voor sy dood was hy vir twee jaar lank in Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad op aanklagte van gewapende roof en poging tot moord. Dié poging tot moordsaak het ontstaan as gevolg van sy inisiasie tot ’n bekende bendegroep. Clayon se betrokkenh­eid by die bende het vir ons huisgesin baie trauma veroorsaak.

’n suster se liefde

My oupa, wie eintlik die rol van Clayon se pa gespeel het, het gesterf toe Clayon 14 jaar oud was en daarna het dit vir hom gevoel asof sy hele lewe inmekaar tuimel.

As sy suster, weet ek dat Clayon se storie nie net swart-en-wit was nie. Baie jong kinders wat kies om by bendes betrokke te raak, s’n is ook nie. Ons het Clayon aan ’n wrede dood afgestaan en daarom het ek myself belowe om seker te maak dat Clayton nooit daardie pad sal stap nie. En hy het nie. Hy het van kleins af afgryse vir bendegewel­d getoon, want hy is as kleuter reeds blootgeste­l aan die wreedheid daarvan.

Ek en Clayton was van sy geboorte baie geheg aan mekaar. Ek is tien jaar ouer as hy en juis daarom het ek nog altyd my rol as sy ouer suster baie ernstig opgevat.

’n Paar maande ná Clayon se dood het my ma uitgetrek. As ’n 15-jarige het ek haar gehaat daarvoor. Maar as ek nou terugkyk, besef ek dat my ma, veral daardie tyd, so stukkend was. ’n Jaar voor Clayon se dood het haar kêrel (Clayton se pa), Tommy, ook gesterf. Ek kon nie veel doen om haar pyn minder te maak nie.

Ek en Clayton het alleen by my ouma agtergebly. Dis hier waar ek my rol as sy suster moes volstaan. Ek moes sy klere was, hom met sy huiswerk help, hom leer hoe om sy skoenveter­s vas te maak en saans voor ons in dieselfde bed aan die slaap raak, saam hom voor die bed kniel en bid. Ek was ook verantwoor­delik om hom te discipline as hy uit lyn getrap het. Al het my ma nie meer by ons gewoon nie, het sy haar bes probeer om seker te maak dat ons alles het, so ons het nooit regtig kort gekom nie. En my ouma het mooi na ons omgesien. Clayton het amper elke naweek met my ma deurgebrin­g en sy het saans ná werk na ons toe gekom. So my ma was nie afwesig in ons lewens nie.

Hy was ontsettend baie lief vir my ma. Vir hom was my ma nooit weg nie, sy was net af in die pad. Maar omdat ek van geboorte tot op 15 saam haar gewoon het, het dit my hard getref.

Ek het matriek geslaag en vir vyf jaar gestudeer. In my tweede jaar het ek uitgetrek by my ouma en by ’n vriend van my ma geloseer. Tydens hierdie jare het Clayton by my ouma gebly. In 2014 het ek en ’n varsity-vriendin saam ’n plekkie gehuur. En in die middel van sy graad 7-jaar het Clayton probleme by die skool begin gee. Dit was skielik en my klein broertjie was ook nie meer so klein nie. Hy het daardie jaar af en toe by my kom bly. As gevolg van sy dissiplinê­re probleme, het hy nie graad 7 voltooi nie.

In 2015 het ek en Clayton en my ma vir die eerste keer in nege jaar weer saam gewoon. Clayton het graad 7 oor begin en ek het gedink dit sal hom help as ons drie weer saam is. Hy het in graad 5 al besluit hy wil ’n DJ word. Ek het nooit baie van die idee gehou nie, maar het hom toegelaat om ’n DJ-app op my laptop te laai en te gebruik. My ma het vir hom ’n laptop van sy eie gekoop en dis toe die moeilikhei­d begin het. Ek en my ma was albei vroeg uit die huis en Clayton het sonder ons wete uit die skool gebly, vir weke aaneen. Hy het soggens opgestaan. Sy skoolklere aangetrek. Sy kosblik gevat. Maar nooit by die skool uitgekom nie. Toe ek uitvind, was ek smoorkwaad. Ek was eendag by die skool om uit te vind wat aangaan. Dis toe ek by een van sy onderwyser­s hoor dat hy vir almal sê hy hoef nie skool te gaan nie, want hy gaan ’n DJ word en hy makeer nie die skool om ’n DJ te word nie. Ek was baie ongelukkig. Elke keer as Clayton nie in die skool was nie, het ons baklei. Ek was moeg. Dit was my eerste jaar van skoolhou. Die eerste jaar dat ons weer as ’n gesin, hoe gebroke ook al, kon saam lewe sonder finansiële gebrek. Ek het baie met Clayton gepraat, geraas, gehuil, geskree. Toe niks meer werk nie,

Elke keer as Clayton nie in die skool was nie, het ons baklei. Shirmoney Rhode

het ek hom gevra om sy klere te pak en te loop. Dit was die seerste ding wat ek nog moes doen, maar ek wou hê hy moet rede insien. Hy is toe weer terug na my ouma toe. So drie weke nadat ek hom uitgesit het, bel my ouma my eendag terwyl ek by die werk is. Ek het die oproepe gemis toe ry ek na werk by haar om om te hoor wat fout is.

Sy was winkels toe en met haar terugkeer, het sy vir Clayton in ’n toestand onder haar bed tussen haar skoeneboks­e gekry.

Hy vertel haar toe dat van die bendes in die straat hom weke lank al pla. Hulle wou hê hy“moet nommer optel”(by die bende aansluit) en“sabela”(bendetaal praat).

Hy het baie hardekwas die een bendelid uitgevloek en dis toe dat hulle vir hom sê hulle gaan hom vrekskiet nog voor die son sak. Hy wou na my uncle in die Strand gaan. My ouma kon my nie in die hande kry nie en sy het ook nie my uncle se nommer gehad nie. Sy het ’n kombers gevat, dit oor haar kop gegooi en na God uitgeroep. My ouma se geloof het haar al uit soveel situasies gehelp. Toe sy klaar gebid is, was daar ’n klop aan die deur. Dieselfde uncle, oor wie Clayton toe onder haar bed lê en huil het, staan toe daar in die deur net nadat sy kla gebid het. Sy het vir uncle Willempie vertel wat gebeur het, hulle het Clayton se klere in ’n sak gegooi en toe is hulle daar weg.

Toe my ouma my vertel wat gebeur het, was ek hartseer maar so kwaad dat ek straat af geloop het. Ek het tot by die gangster wat vir Clayton met die dood gedreig het, se huis gegaan. Ek kan nie mooi onthou wat ek alles vir hom gesê het nie, maar ek het nie ’n tikkie vrees in my gehad nie. Ek was moeg van hulle wat dink hulle kan maak en doen met ander mense se kinders wat hulle wil!

Staan op vir broer

In daai oomblik kon ek dalk nie vir die massas opstaan nie, maar ek kon vir my broer opstaan. Ek sou nie die aasvoëls na aan my broer laat kom nie. Hulle moes my ook maar dan vrekskiet.

Clayton was vir twee weke by my uncle. Ons het hom gaan haal en hy het vir ’n rukkie by my antie gaan bly omdat my niggie bedags tuis was. Hy het besef dat daar baie gevare is vir ’n seun van sy ouderdom buite die skoolbanke in ons gemeenskap.

In Desember 2015 is hy na my antie toe op Calvinia. Hier het hy vir my van sy mixes gespeel en ek was verbaas oor hoe goed dit geklink het. Ek was kwaad vir myself omdat ek nie in hom geglo het nie. Ek was kwaad oor ons so ’n ophef maak oor studies, terwyl talle kinders doodeenvou­dig net nie akademies aangelê is nie. Ons leer ons kinders dat as hulle nie ’n rekenmeest­er of ’n dokter wil word nie, is daar niks beters vir hulle nie. Ek was kwaad dat die skoolstels­el nie baie spasie maak vir kinders soos hy, wat kreatief is nie. Ons skoolvakke, veral by staatskole, bied nie naastenby genoeg geleenthei­d vir leerders wat“anders”is nie.

skole

Ek weet en besef dat skole nie daar is om kinders toe te laat om te spesialise­er nie. Maar ons gemeenskap­pe lyk woes. As daar niks is op skoolvlak is wat kinders prikkel nie, gaan bendes vir hulle ’n gun gee in die plek van die pen. Baie kinders kies die gun, want hul omstandigh­ede dryf hulle daarna. En daar is nie altyd ’n ouer suster wat die aasvoëls weghou nie. Hulle is nog so bloedjonk, hulle verstaan skaars die nagevolge van hulle keuses.

Clayton het in 2016 self besluit om agter te bly in Calvinia en daar het hy uiteindeli­k sy graad 7-jaar suksesvol voltooi. In 2017 is hy na ’n kosskool net buite Kaapstad om sy hoërskooll­oopbaan te begin, maar op 27 November 2017 het Clayton ongelukkig om 6:20 die oggend weens bloeding op sy brein gesterf.

Die jare 2016 en 2017 het ook met baie uitdagings gekom, maar Clayton se moed om aan te hou ongeag hoe moeilik dinge geword het, sal my altyd inspireer om self voort te stu. Ek is vandag ’n suster wat kaal gestroop is, maar wat in die proses geleer het wat dit kos om regtig lief te wees vir my broer, wat geleer het hoe en wanneer om hard te wees, maar ook wanneer om saggies te werk met die mense wie God aan my vertrou het.

Ek was kwaad vir myself omdat ek nie in hom geglo het nie. Shirmoney Rhode

 ??  ?? Shirmoney Rhode en haar jongste broer, Clayton, wat sy uit die greep van bendes gered het.
Shirmoney Rhode en haar jongste broer, Clayton, wat sy uit die greep van bendes gered het.
 ??  ??
 ??  ?? Clayton, Shirmoney en hul ma gelukkig op die strand.
Clayton, Shirmoney en hul ma gelukkig op die strand.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa