Begaafde kinders het spesiale sorg nodig
Ouers is altyd bly as hulle kan spog met ’n slim of talentvolle kleinding, maar as jou kind werklik begaafd is, het sy ekstra aandag nodig.
Elke ouer dink reeds hul kind is die mees spesiale kind in die wêreld en wanneer die kleinding dan nog op ’n vroeë ouderdom begin loop, praat of iets ongewoons vir hul ouderdomsgroep doen, is dit natuurlik vir ’n ouer om te begin glo dat hul kind regtig begaafd is.
Maar dan is daar daardie wonderkinders wat eenvoudig almal, nie net hul ouers nie, verstom met hul buitengewone vermoëns en talent. ’n Wonderkind (child prodigy) is nie net ’n slim kind nie, maar iemand wat so natuurlik talentvol is dat hulle reeds as kind ’n meester van hul besondere vaardigheid word. Terwyl sommige kinders dus met Legos en karretjies speel, doen wonderkinders byvoorbeeld baanbrekeroperasies of is meesterpianiste. Die beroemde musikant Mozart was een, hy het simfonieë geskryf en vir konings gespeel toe hy net vyf jaar oud was. Die skilder Pablo Picasso het op die ouderdom van nege sy eerste van 22 000 olieverfskilderye voltooi. En meer onlangs, in 2012 was Akrit Jaswal, toe sewe jaar oud, die jongste chirurg in Indië.
Selfs in Suid-Afrika het ons wonderkinders. Een van ons bekendste begaafde kinders is die bekende tromspeler Daniel Petersen (14). Hy was op 11 jaar oud die jongste student in Suid-Afrika toe hy by die Universiteit van die Wes-Kaapland (UWK) as musiekstudent aanvaar is. Hy is ook sedertdien deur die voormalige Amerikaanse president Barack Obama vereer en het in Januarie by die Grammy-toekennings se after-party in New York voor kunstenaars soos Usher en Rihanna opgetree.
meer as net talent
Sy pa, Danny (39), sê hulle kon reeds op ’n jong ouderdom sien Daniel se begaafdheid is meer as net talent. Hy was as kind baie nuuskierig en kon op die ouderdom van een al volsinne maak. Hy het met alles rondom hom gespeel en het ’n goeie verbeelding gehad. Hy wou ook altyd deel van grootmense se gesprekke wees en wou nie regtig rondom kinders wees nie.
Sy ouers het sy gedrag vreemd gevind en is deur ’n vriendin aangeraai om hom te laat toets. Die aanlegtoets het bevestig dat hy ’n begaafde kind is en hulle moes onmiddellik besluit hoe hulle sy skoolloopbaan gaan aanpak en sy talent gaan ontwikkel.
“Dinge het vinnig gebeur en ons kon teen graad 2 sien dat hy nie gelukkig was by die skool nie. Ons het hom in ’n private skool geplaas en op 11 (toe hy graad 5 moes wees) het hy al met universiteitsklasse begin. Dit het ons baie verbaas, maar ons is baie trots op hom en wat hy bereik het. As ons nie goeie raad gekry het nie, kon dinge dalk anders gewees het,”sê hy.
“Dit is baie belangrik dat mense hul
kinders dophou en professionele hulp kry as hulle vermoed dat hul kinders begaafd is sodat hulle die beste ondersteuning vir hul kind kan kry,”sê Danny.
Volgens die sielkundige Angelique Brown (29) van Kaapstad, is dit nodig vir ouers om ’n assessering te laat doen as hulle wil bepaal of dit werklik tekens van begaafdheid of ’n wondermens is wat hulle in hul kinders raaksien.
Dit moet verkieslik deur ’n opvoedkundige sielkundige, met ’n intieme kennis van begaafdheid, gedoen word. Volgens Angelique het begaafdheid met meer as net ’n hoë intelligensiekwosiënt (IK) te doen en is vroeë fisiese mylpale – soos om vroeg te leer loop – nie die beste maniere om dit te bepaal nie. Daarenteen kan dit ’n teken van begaafdheid wees as jou kind vroeg leer praat.
Ander eienskappe sluit in vroeë belangstelling in die wêreld, ’n vinnige begrip van konsepte, ongewone belange, leergierigheid en ’n behoefte om nie oppervlakkige antwoorde te aanvaar nie. Dít kan alles gesien word as moontlike tekens dat jy ’n wonderkind het, maar dis nie ’n waarborg nie.
“Taal is baie belangrik vir die ontwikkeling van intelligensie vir ooglopende redes,”verduidelik Angelique.
“Vroeg lees is ook nie noodwendig ’n teken nie, maar dit kan wees. Dit is die probleem – so baie kinders wys eienskappe van begaafdheid dat dit maklik is om die verkeerde gevolgtrekkings te maak, daarom is die beter om seker te maak met assessering.”
Volgens Angelique is dit verskriklik belangrik dat begaafdheid reg geïdentifiseer word omdat begaafde kinders in die kategorie van kinders met spesiale behoeftes val en reg gestimuleer moet word.
“Begaafde kinders het spesiale opvoedkundige, emosionele en sosiale behoeftes. As dit nie herken of reg hanteer word nie, kan die kind emosionele probleme ervaar wat hulle negatief kan beïnvloed.”
Shirley Kokot, mede-eienaar van Radford House, die enigste skool in die land vir begaafde kinders, sê ’n gebrek aan stimulering by die skool, verveeldheid met ’n kurrikulum wat hulle reeds bemeester het en belange wat nie deur die begaafde kind verstaan word nie, is dikwels redes hoekom hulle nie by gewone skole hul volle potensiaal bereik nie.
“Hulle het dikwels baie sosiale probleme. Hulle sukkel as gevolg van emosionele sensitiwiteit omdat hul gevoelens diep en intens ervaar word. Dikwels moet dit van die wêreld verberg word wat dit nie verstaan nie,” sê Shirley.
Sy glo een van die grootste probleme met begaafde kinders is die gebrek aan begrip, wat lei tot ongelukkigheid, verwarring en dikwels depressie. Wanneer daar begrip is vir hul toestand, soos by Radford House, begin kinders om te blom. Aggressie, depressie, slegte gedrag en die res verdwyn stadig met tyd.
BLINK OF begaafd?
Sy beklemtoon weer dat daar ’n groot verskil tussen blink en begaafde leerders is. Volgens haar is ’n blink leerder ’n kind met ’n goeie, hoë intelligensie, ’n persoonlikheid wat dissipline as belangrik beskou, deursettingsvermoë en gewoonlik goeie sosiale vaardighede het.
“Dit is dinge wat sommige begaafde kinders deel, maar dikwels nie. Dit is duidelik dat intellektueel begaafde kinders baie goed kan doen op ’n IK-toets, maar soms doen hulle juis nie omdat die antwoorde op verskillende maniere geïnterpreteer kan word.
“’n Hoogs begaafde persoon, veral diegene wat besonder kreatief is, sal alternatiewe antwoorde kry.”
Shirley sê terselfdertyd is verveelde begaafde kinders baie besig en hulle vergeet dikwels om take te voltooi. Hulle sukkel om te konsentreer en dus word hulle soms verkeerdelik met aandaggebrek-hiperaktiwiteit (ADHD) gediagnoseer.
“Die gedrag lyk dieselfde, maar die redes vir die gedrag is anders. Begaafde kinders het dieselfde behoeftes as ander kinders. Ons moet almal verstaan en op skool geakkommodeer word volgens ons vlak van vermoë en potensiaal. Ons moet ook die geleentheid gebied word om soortgelyke vriende te kan maak en te ontmoet.”
Shirley sê die meeste begaafde kinders is gelukkig in hul gesinsverband. Hierdie kinders het die vermoë om op ’n hoër vlak te kommunikeer wanneer hulle jonk is, wat volgens haar ook dikwels ’n lieflike sin vir humor toon en die wêreld op ’n ander manier sien.
Sy raai ouers aan om nie te veel van hul kinders te verwag nie. Hulle is nie in hierdie wêreld om hul ouers of skole eer te bring nie.
“Moenie te hoë verwagtinge hê nie. Hulle is bloot kinders en moet optree op die vlak wat hulle vir hulself opsteek. Moenie verwag dat hulle klein volwassenes is nie. Moenie verwag dat hulle talentvol sal wees in elke aktiwiteit nie. Moenie verwag dat hulle altyd goeie skoolverslae huis toe bring nie,” sê sy.
“Ons het almal ons besondere belange en mag nie net op sekere vakgebiede konsentreer nie. Laat hulle net hulself wees en hulle sal gelukkig wees.”
Die beroemde musikant Mozart was een, hy het simfonieë geskryf en vir konings gespeel toe hy net vyf jaar oud was.