Ashwin Willemse:
Dit gons oor rugby-rasseherrie
Toe die oud-Bok Ashwin Willemse op Saterdagaand 19 Mei van die SuperSport-stel afloop ná ’n woordewisseling tussen hom, Naas Botha en Nick Mallet, het hy die rasse-sweer in Suid-Afrikaanse rugby met mening laat oopbars.
Dit het menige Suid-Afrikaner geskok gelaat. Sommige was teleurgesteld en ander was net vies. Die debat rondom transformasie in sport het weer met mening opgevlam en sosiale media het onmiddellik gegons oor die voorval.
Dit is nie heeltemal duidelik wat presies gebeur het nie, maar wat ons wel weet, is dat Ashwin duidelik ontsteld was oor iets wat Nick of Naas aan hom gesê het. En as jy na die video kyk, wil dit voorkom asof dit oor die kwessie van kwota-spelers was.
Ashwin het duidelik aanstoot geneem en toe aan sy kollegas gesê:“Ek het hard gewerk om sukses te bereik en gaan nie ondermyn word deur mense wat tydens apartheid en ’n verdeelde (segregated) era vir die Bokke gespeel het nie.”
SuperSport het aanvanklik ontken dit was ’n rasse-voorval, maar het later aangekondig ’n amptelike ondersoek word gedoen. Die kanaal het verder aangekon- dig dat Naas, Ashwin en Nick ook tydelik nie kommentaar oor enige wedstryde op SuperSport gaan gee nie. ’n Finale besluit oor hul toekoms by die kanaal sal geneem word sodra die ondersoek afgehandel is.
Maar dit lyk of die voorval reeds die nasie verdeel het. Sommige kykers het begrip gehad vir Ashwin terwyl ander na hom as“kwota-speler”verwys het. Maar na dese is daar steeds nie ’n duidelike antwoord oor hoe die kwessie van transformasie in sport en veral die sogenaamde kwotastelsel benader moet word nie.
Prof. Rozeena Maart, direkteur by die Sentrum vir Kritiese Navorsing oor Ras en Identiteit aan die Universiteit van KwaZuluNatal, meen inklusiwiteit, veral tussen verskillende rassegroepe in Suid-Afrika, word nie reg benader word nie.“Die Aswhin Willemse-sage gaan nie nou meer net oor rugby en transformasie in sport nie, maar oor diskriminasie, rasseverhoudings en subtiele rassisme. Dit gaan oor hoe jy mense met die nodige respek moet behandel en nie neerhalend teenoor ander moet optree nie. Die reaksie op sosiale media bevestig hoe ver verwyderd ons nog van mekaar is. Die wittebroodperiode van die 1995 Rugbywêreldbeker is verby en ons moet nou die realiteit in die gesig staar,” sê sy.“Wat Ashwin gedoen het, was nodig en is slegs die begin van ’n belangriker gesprek oor veral hoe wit, bruin en swart Suid-Afrikaners met mekaar in die werkplek, op die sportveld en selfs net in die alledaagse lewe omgaan. In Suid-Afrika het ons nog baie te leer oor rasseverhoudings. Ons was te lank van mekaar verwyderd en probeer nou mekaar verstaan en vind.”
Meer agter die storie
Prof. Maart sê die feit dat SuperSport die bogenoemde saak nou meer indringend ondersoek, is ’n aanduiding dat daar dalk meer agter die hele storie steek.
Ná die Ashwin-voorval het ons met ’n swart en ’n wit Springbok-rugbyspeler gesels om hul opinie oor transformasie in die sport te kry. Weens die sensitiwiteit rondom die kwessie ná die Ashwin-voorval, het hulle gevra om anoniem te bly.
Die wit speler het gesê:“Daar moenie ’n kwotastelsel wees nie, want spelers voel daar word as gevolg van hul velkleur teen hulle gediskrimineer en dus word hulle nie vir sekere spanne gekies nie.”
Die swart speler het daarenteen gesê: “Daar word soms steeds na ons as kwota-
spelers verwys. Die stigma wil net nie weggaan nie. Maar ons het transformasieteikens nodig omdat ons nie die afrigters kan vertrou dat hulle ons sal kies nie.”
So, hoe balanseer jy die kommer van wit spelers en verseker terselfdertyd dat swart spelers nie voel daar word teen hulle gediskrimineer nie?
Ná die Ashwin-voorval het ander sportsterre ook by die debat rondom transformasie betrokke geraak. Die voormalige Statebondspele-medaljewenner en atleet Geraldine Pillay sê:“Om na enige rugbyspeler of sportpersoon as kwota-speler te verwys, is ’n belediging en verdien minagting. Die enigste standaard om ’n span te verteenwoordig, behoort meriete te wees.”
Ongelukkig blyk dit ’n fabrieksfout iewers in die Suid-Afrikaanse Rugby-produksielyn te wees. Suid-Afrika het van die beste rugbytalent op skoolvlak ter wêreld. Baie jong spelers kies nou egter om oorsee te gaan speel en sommige maak geen geheim daarvan dat hulle eerder ander lande wil verteenwoordig nie.
Só skop die voormalige Cheetahsspeler Clayton Blommetjies binnekort sy loopbaan by Scarlets in Wallis af. Tydens ’n onlangse onderhoud het Clayton aan Walliese media genoem dat hy graag vir hul nasionale span sal wil speel. Ons kan hierdie spelers egter nie blameer nie. Hulle verdien tot drie keer meer as in Suid-Afrika en daar word blykbaar nie oorsee teen hulle gediskrimineer nie.
Jana Hartman, ’n arbeidsprokureur by Frylinck en Walker Prokureurs, sê vanuit ’n arbeidsoogpunt kan verskillende prosesse gevolg word as jy voel daar word teen jou gediskrimineer.“Die klagte kan spruit uit ’n geskil tussen werkgewer en werknemer of soos in die Ashwin-geval, tussen twee werknemers. In laasgenoemde geval moet die werkgewer ’n proses volg. Die proses kan intern plaasvind, soos SuperSport nou gedoen het, of ’n eksterne proses waarby die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (CCMA) betrokke sal raak. As jy genoeg bewyse het, behoort jy die saak te kan wen,”sê Jana.
die pad vorentoe
SA Rugby sukkel om die transformasieresep te vervolmaak en in die proses faal hulle wit, bruin en swart spelers. Die Unie is wel in Mei vanjaar deur ’n verslag van die Eminent Persons Group (EPG) geloof vir die vordering wat hulle in transformasie gemaak het.“Rugby is suksesvol in die transformasieproses en ons is tevrede met die resultate van die EPG-verslag,”het Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby, gesê.“Rugby in Suid-Afrika moet voortgaan om te transformeer as dit in ons land se veranderende demografiese landskap wil oorleef, soos die verslag beklemtoon.”
Ongelukkig beskou baie Suid-Afrikaners van ander rasse steeds rugby as ’n sport wat deur witmense beheer word.
Afrigters speel ’n belangrike rol in die transformasieproses. Voormalige afrigter Allister Coetzee se spankeuses vir die Bokke is week ná week gekritiseer en veral die feit dat hy weggeskram het om gereeld spelers van kleur geleenthede te gee. ’n Voorbeeld is die derde toets teen Frankryk verlede jaar op Ellis Park in Johannesburg, toe die kaptein Warren Whiteley kort voor die wedstryd ’n besering opgedoen het.
Dit was ’n goeie geleentheid vir Allister om vir Siya Kolisi as kaptein vir die Bokke te kies. Siya het vroeër daardie jaar die Stormers aangevoer, wat ná die Lions as die tweede beste Suid-Afrikaanse span in die toernooi geëindig het. Allister het egter vir Eben Etzebeth as kaptein gekies. Eben het op daardie stadium nog nie enige span op professionele vlak aangevoer nie.
Allister het vroeg in 2018 die trekpas gekry en is deur Rassie Erasmus vervang. Vir sy eerste toets teen Wallis asook die reeks teen Engeland, het hy 20 spelers van kleur in sy groep van 43 ingesluit. Erasmus het ook vir Siya as Bokkaptein gekies.
Die Blitzbok-afrigter Neil Powell het klaarblyklik die resep reggekry. Die Blitzbokke het verlede jaar die wêreld sewesreeks gewen met ’n span wat die transformasieteiken oorskry het.
Krieket het ook die transformasieproses tot ’n sekere mate reggekry deur spelers soos Hashim Amla, Kagiso Rabada en Vernon Philander gereeld in die Protea-span in te sluit. Jonger spelers soos Lungi Ngidi, Khaya Zondo en Themba Bavuma kry nou ook gereeld die geleentheid om die nasionale span te verteenwoordig. Ottis Gibson is ook in 2017 deur Krieket Suid-Afrika as nuwe afrigter aangestel. Hy is die eerste swart persoon om die pos te beklee.
Maar hoe voel gewone Suid-Afrikaners? Carlo Viljoen van Kaapstad sê:“Baie maklik, jy transformeer die beste speler na die span. Mense wil sport kyk, nie politiek nie.”
Jandre Demas, ook van Kaapstad, voel die afrigters se denkwyses moet eers getransfomeer word. Tans vertrou hulle nie spelers van kleur nie en kies sommige bloot omdat die teikens dit vereis.
David-Dawie Jacobs van Pretoria sê: “Maak seker dat transformasie met sukses op die sportveld gepaard gaan. Ons sewesrugbyspan is ’n goeie voorbeeld en is gewild onder alle Suid-Afrikaners juis omdat hulle suksesvol is.”
So met die debat oor transformasie in sport, kan ons diegene in beheer van sport en veral rugby in die land vertrou om dit meer inklusief te maak en met ’n werkbare transformasieplan vorendag te kom waar alle belanghebbendes ingesluit sal voel?
Ons sal moet wag en kyk. *Jody Hendricks is ’n sportjoernalis.