Aktueel:
Kindermoorde op Kaapse Vlakte bly skok
Haar naam is Stacey Adams, nog ’n merkie, nog ’n klad, nog ’n lyfie, leweloos, begrawe in ’n vlak graf. Wie is sy, Stacey Adams? Wie is sy, Courtney Pieters? Wie is sy, wie is sy, waar is sy, waar is sy, begrawe, weggegooi, geknak, wie is sy?
Dié post skryf ek die aand van Sondag 24 Junie vanjaar op my Facebookblad ure nadat die gemeenskap van Eastridge, in Mitchells Plain op die Kaapse Vlakte, die lewelose liggaam van Stacey Adams (6) in ’n vlak graf by ’n huis in De la Reystraat kry.
Sy is vermoor en heel moontlik verkrag ook. Na bewering deur haar ma se eks.
Ek sit in trane, want weereens is een van ons kinders vermoor. Deur iemand bekend aan haar. Iemand wat sy vertrou het, iemand wat haar moes beskerm. Ek sit by die huis terwyl die inligting via Facebook en WhatsApp instroom. Mitchells Plain is waar ek woon. Eastridge se inwoners is woedend.
Emosies kook oor. Video’s van die woedende skare wat die verdagte se ouerhuis aanval, gaan viral.
Mense se kommentaar stroom in op Facebook. In my hart ondersteun ek hulle, my verstand sê egter nee, hy moet hof toe gaan. Ek hoop en bid terselfdertyd dat die polisie opdaag sodat die man in hegtenis geneem word. Tog wens ek ook dat hy iets oorkom.
Soos ek die inligting ontvang, stuur ek dit aan ons nagkantoor by Netwerk24. Iemand vra my of ek na die toneel gaan. Ek sê nee, ek is af. Ek het die oggend gewerk
en ek doen nie meer kindermoorde nie.
As misdaadverslaggewer het ek die afgelope tien jaar te veel kindermoorde gesien. Dit het sy merk op my gelaat. Ek is ’n emosionele wrak wanneer ek lees nog ’n kind in een van ons gemeenskappe het weggeraak. Ek ken daai gevoel, ek weet waardeur elke ouer, elke ma, elke pa, elke familielid wat omgee, gaan die dag wanneer jy hoor een van jou familiekinders is weg.
En terwyl Stacey se vermeende moordenaar nou hof loop, dink ek aan klein Courtney Pieters (3). Sy is verlede jaar vermoor, ook deur iemand bekend aan haar.
Die afgelope maand het ek die verhoor van Courtney se vermeende moordenaar, Mortimer Saunders (41), gedek. Saunders het in sy pleitverduideliking erken dat hy vir Courtney vermoor het. Hy het vir haar miergif ingegee omdat hy kwaad was vir haar ma. Hy ontken dat hy haar verkrag het, maar erken egter dat hy haar met sy vingers gepenetreer het. Sy is verwurg en versmoor.
Saunders het in ’n kamer gewoon in dieselfde huis waar Courtney saam met haar ma Juanita, pa Aaron en broer en suster gewoon het. Sy het saam met sy dogter gespeel en vir hom gesê Uncle Mortie.
Nou hoe word ’n grootmens so kwaad vir ’n ander mens dat hy haar kind skade aandoen om haar terug te kry? Hoe?
En hoewel ek nou 90% van die tyd nie kindermoorde doen nie, lees ek tog die berigte wat my kollegas skryf. Ek sien daai seer, ek ervaar dit self.
Meer as 14 jaar gelede het my nefie, Rafique Hardien (5), ’n week ná sy vyfde verjaardag só weggeraak. My oogappel, my lieflingkind. Sy lyk is 17 dae later in bosse digby die Westridge- munisipale swembad gevind. ’n Swembad waar ek, sy ma, Shaakirah Hardien, en haar broers gereeld as kind geswem het.
seer is persoonlik
Ek huil nog elke dag oor hom. Ek wonder watter soort jong man hy vandag sou gewees het. Hy is ook vermoor deur iemand bekend aan ons familie. Die persoon is egter weens die knoeiwerk van die polisie nooit vir ons kind se moord aangekla nie.
Met elke kindermoord op die Kaapse Vlakte word die rofie oor die seer van Rafique net weer afgeruk. Maar dis nie net Rafique se moord wat sy merk op my gelaat het nie. Ek was hoogswanger in 2013 toe ek die grumoord op Anene Booysen van Bredasdorp gedek het.
Ek het die storie destyds in Die Burger gebreek. Ek was die enigste joernalis wat oor die aard van haar beserings geskryf het nadat een van die trauma-chirurge wat probeer het om haar lewe te red, my gekontak het.
Ek het geknak daai dag. Só erg was die seer wat ek nie vir daai kind kon wegneem nie dat ek myself vir meer as ’n uur nadat ek die storie geskryf het, in ons studio gaan toesluit het, waar ek gesit en huil het.
Ek het twee weke later geboorte geskenk aan my dogtertjie. Sy is nou vyf.
Ek het gehuil vir elke kind wat reeds vermoor is, vir elke kind wat nog aan die hand van ’n wrede moordenaar sou sterf. Ek het gehuil omdat ek magteloos staan en niks kan doen om ons kinders te beskerm nie.
Ek het gehuil omdat ek geweet het dat ek my dogtertjie nie vir altyd teen die slae van die lewe sal kan beskerm nie.
En intussen leer ek haar nie net van“stranger danger”nie, maar ook van“family and friends danger”. Ek is paranoid, ek bel haar heeldag wanneer sy onder my oë uit is en by ander familie vir ’n dag is wanneer ek of haar pa moet werk.
Sy weet niemand, soos in niemand behalwe ek, haar oumas, haar nanna en haar tietie mag haar was nie.
Wanneer sy ongemaklik is met iets of iemand, moet sy skreeu. Sy soen nie mense nie, nie eens familie nie. Sy hoef nie, want dis haar spasie.
Sy aanvaar nie goed van vreemdelinge of mense as ek haar nie die go-ahead gegee het nie. Wanneer ek of haar pa nie saam is nie, is dit in elk geval ’n taboe.
Elke verhaal, elke kindermoord laat my in trane. My dogtertjie is ’n jaar ouer as Courtney en ’n jaar jonger as Stacey. Ek bid elke dag dat sy gekoester bly. Dat die seer, die wreedheid wat ek, haar ma, elke dag sien, haar nooit oorkom nie. Ek weet ook dat ek haar nie vir altyd teen die kwaad in die lewe kan beskerm nie. Maar wat ek weet, is dat ek my lewe sal gee om haar vir altyd te beskerm.
En dis nie net klein kinders wat slagoffers is nie, die dood van jong vroue maak ook opslae.
Só is die Bolandse dorp Wellington geruk toe eers die lyk van Chantell Matthysen (21) en toe dié van Maria Isaacs (34) gevind is. Volgens berigte is dit maar net die begin van ’n nagmerrie en ’n beweerde moontlike reeksmoordenaar, want die beendere van Natalie Jonkers (35) is ook daar naby gevind.
En op die vooraand van Vrouemaand in Augustus, wonder ons waar gaan dit alles eindig? Hoeveel vroue en kinders gaan nog moet sterf en vermink word?
Genoeg is genoeg.
*Maygene de Wee is ’n senior verslaggewer by Netwerk24.