Sanitêre produkte: Vroue trek swaar aan belasting
Of jy nou wil of nie, jy betaal dieselfde belasting op jou broodnodige sanitêre produkte as op luukshede soos gesigroom. En dis die armes en veral skoolmeisies wat aan die kortste end trek terwyl die regering geld maak.
Min vroue sien uit na dáái tyd van die maand. Nie net voel jy goor en buierig nie, maar dit kan ’n morsige besigheid wees. Tog aanvaar jy jou lot, want dit is ’n onvermydelike deel van vrouwees. Maar beteken dit jy moet finansieel daarvoor gepenaliseer word?
Die regering beskou sanitêre produkte as“luukse items”en daarom moet vroue 15% VAT (belasting op toegevoegde waarde) daarop betaal. Dis amper asof hulle dink vroue het ’n keuse.
Die regering maak dus geld uit jou maandstonde! Dit laat nogal ’n bitter smakie in jou mond as jy só daarna kyk – dat daar teen vroue gediskrimineer word vir ’n natuurlike proses.
Behalwe dat dit onregverdig voel, het dit ook verreikende gevolge vir baie SuidAfrikaanse meisies. Volgens UNICEF mis een uit elke 10 meisies in Afrika skool elke maand as gevolg van hul maandstonde en baie moet noodgedwonge onhigiëniese“alternatiewe”soos ou lappe, blare of koerantpapier gebruik omdat sanitêre produkte so peperduur is.
Dié kwessie is onlangs opgehaal deur sommige parlementslede wat daarop aangedring het dat sanitêre produkte op die lys goedere moet kom wat nie belas word nie en selfs vrylik beskikbaar moet wees.
“Ek het drie tienermeisiekinders en om elke maand deur te kom met my pay-pakkie is nie altyd maklik nie. ’n Mens kan nie nee sê vir pads nie, maar sjoe jong, dit vat aan ’n mens se sak,”vertel Marilyn Joseph (45) van die Strand. Sy het nie geweet ’n mens word belas op sanitêre produkte nie.
“Ek het al gehoor van daai reusable pads en cup-goeters en dat mens so kan geld spaar, maar dit klink vir my te grillerig en ek sien nie daarvoor kans nie.”
Daar is tans ’n lys van 19 items wat deur die regering as noodsaaklik geklassifiseer word en nie belas word nie. Sanitêre produkte is nie op daardie lys nie.
Monja Posthumus-Meyjes van die Universiteit Stellenbosch se regskliniek sê dit breek haar hart om te dink dat meisies tot drie dae per maand skool mis omdat hulle nie sanitêre produkte kan bekostig nie.“Vir baie ma’s is dít hul grootste vrees vir hul dogters elke maand.”Monja en haar span het onlangs oorlog teen die sogenaamde tamponbelasting verklaar. Hulle voel ook minderbevoorregtes behoort gratis sanitêre produkte te ontvang.
Tas jou regte aan
Volgens Monja is vroue se struggle met sanitêre produkte teenstrydig met SuidAfrikaners se fundamentele grondwetlike regte, insluitend die reg op menswaardigheid en die reg op vryheid en sekerheid van die persoon omdat dit ’n nadelige impak op hul persoonlike higiëne, waardigheid en welstand het.
“Ons is egter optimisties dat die belasting op sanitêre produkte afgeskaf gaan word. Ons het geweldige ondersteuning gekry vir ons voorlegging aan die Nasionale Tesourie om sanitêre produkte op die ‘zero tax’-lys in te sluit. Indien dit egter nie gebeur nie, sal die regskliniek litigasiestappe oorweeg,”meen Monja.
Dis ’n feit dat baie vroue, en veral skoolmeisies in ons land, nie tampons en pads kan bekostig nie. Volgens Monja gaan ongeveer 30% meisies nie skool toe wanneer hulle menstrueer nie omdat hulle nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Dit beteken hulle verloor omtrent 90 skooldae per jaar, net omdat hulle vroue is. Sy meen daarom is die produkte beslis nie ’n luuksheid nie, maar ’n noodsaaklike deel van elke vrou se lewe en waardigheid.
Volgens Tlangelani Shilubane, assistentwoordvoerder van UNFPA (United Nations Population Fund), die Verenigde Nasies se seksuele en reproduktiewe gesondheidsagentskap se Suid-Afrikaanse tak, is daar na raming meer as 3 miljoen menstruerende meisies in Suid-Afrika wat potensieel nie sanitêre produkte kan bekostig nie. Dit raak veral huishoudings waar dinge so moeilik gaan dat kos voorkeur kry bo sanitêre produkte.
Leandré Geraldson* (17) vertel sy slaan
party nagte in koue sweet uit wanneer dáái tyd nader kom.“Ek het drie jonger boeties en ek weet my ma het skaars geld vir kos, wat nog te sê van pads,”sê sy saggies. Partykeer probeer sy toiletpapier gebruik – dis nou te sê as hulle dit in die huis het. Leandré, wat lief is vir leer en graag eendag ’n prokureur wil word, haat dit om skool te mis, maar op haar“swaar”dae sien sy net eenvoudig nie kans om skool toe te gaan nie. Sy het ook al probeer om vir haarself pads te maak met ou stukke materiaal, maar dit het nie lekker gewerk nie en sy voel altyd vuil wanneer dit haar tyd van die maand is.
Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap sê:“Op geen manier kan enige instansie toelaat dat so ’n normale biologiese verskynsel in die pad staan dat jong meisies hul volle potensiaal kan ontwikkel nie. Dit klink soos iets uit Levitikus waar jong meisies uit die samelewing verban word en as onrein beskou word. Dis primitief en blatante diskriminasie. En gegewe die hoë vlakke van armoede in ons land, is dit onredelik om hierdie koste op arm gesinne te plaas. ’n Vrou se lyf mag nie gebruik word om teen haar te diskrimineer nie.”
’n Mens kan net hoop die regering voel ook so. * Skuilnaam ** Die Ministerie van Vroue en die Nasionale Tesourie het teen druktyd nog geen kommentaar gelewer op Kuier se navrae nie.
"Op geen manier kane nigeinstansie toelaat dat so'n normale biologiese ver skynsel in deipad staan dat jong meisies hul volle potensiaalkanontwikkelnie."