Kuier

Wellington: Inwoners en beskuldige praat oor moorde

Wellington is tot in sy fondamente geskud toe drie lyke gevind is en daar is sprake dat nóg kan volg. BOHEMIA HOFFMEESTE­R het met inwoners én die beskuldigd­e gaan praat.

-

Wellington buite die Kaap sal nooit weer dieselfde wees nie. Inwoners van dié Bolandse dorp is geruk deur die nuus dat ’n beweerde reeksmoord­enaar al sedert 2006, sonder hul medewete, daar doenig is. En na bewering het die beweerde moordenaar in Junie, in die middel van die winter, toegeslaan. Drie vroue se lyke is al opgegrawe en sommige dink die dodetal kan tot 15 styg . . .

Hulle het vermis geraak en was laaste in die geselskap van die beskuldigd­e, Johan Williams (47), van Wellington, gesien. Jy kan amper die skok, ongeloof en onsekerhei­d op die dorp aanvoel. Mense kan nie glo dat die skuldige glo jare lank houtgerus tussen hulle jag gemaak het op desperate vroue wat werk gesoek het nie.

En nou is die dorp vasgevang in ’n wurggreep van vrees. Ouers hou deesdae ’n fyner oog op hul kinders en niemand weet hoeveel lyke nog opgegrawe gaan word nie. Mense praat en gis oor wat gebeur het en wat nog voorlê . . .

Die sweer van geweld het oopgebars nadat die lyk van Chantell Matthysen (21) op 2 Julie vanjaar in ’n vlak graf naby die plaas, Aubon Rue, gevind is. Sy is glo verwurg. Twee dae later, op 4 Julie, is die gedeelteli­k verbrande liggaam van Maria Isaacs (33) van die plaas Middelpos op Malmesbury, naby die plaas, Bakenhof op die R45 gevind. En op 5 Julie is ’n geraamte langs die R45 gevind.

Chantell is laas op 23 Junie gesien nadat sy ’n trein Wellington toe gevat het om die vermeende moordenaar te ontmoet nadat hy haar werk as ’n vrugtepakk­er in die omgewing belowe het. Baie glo as dit nie vir Chantell se ma, Carol Petersen, was nie, sou hulle Johan dalk nie vasgetrek het nie. ’n Vasbeslote Carol het dag en nag in Wellington na haar geliefde dogter gesoek. Carol vertel sy het nooit Johan se “liegstorie­s”geglo nie. Volgens haar het sy onraad vermoed toe sy nie van haar dogter hoor nie.“Elke keer as ek haar bel, was haar foon af of hy het die foon opgetel. Dan het hy net gesê sy is by die werk of sy het haar foon by die huis vergeet of dit is nie gecharge nie.”

Johan is in hegtenis geneem kort nadat Chantell se lyk gekry is en hy het glo daarna die ander twee lyke aan die polisie uitgewys.

Klaarblykl­ik het hy dieselfde slenter met Maria Isaacs (33) en Natalie Jonkers (35) gebruik, want albei het vermis geraak nadat hy hulle glo werk belowe het. Vir Maria, ’n ma van drie, het hy blykbaar werk in Touwsrivie­r belowe. Sy het op 16 Junie vermis geraak. Vir Natalie het hy glo belowe hy sal ’n vergaderin­g fasiliteer waar sy R5 000 kon kry om haar skuld af te betaal. Sy het op 12 Junie 2012 vermis geraak.

GEMEENSKAP GESKOK

Mense wat Johan ken, was glad nie voorbereid op die skok nie. Nie een van hulle het hom as ’n moordenaar aangesien nie. Trouens, hulle beskryf hom as ’n stil, netjiese en behulpsame man wat hom uit ander se sake gehou het.

Johan het op ’n plaas grootgewor­d. Bettie Goodman van Wellington, in wie se jaart hy die afgelope vier maande gewoon het, sê sy het niks agtergekom het nie.

Bettie sê sy ken hom eintlik al vir die afgelope ses jaar en het nooit gedink hy is tot so iets in staat nie.“Ek voel seergemaak. Wat as dit een van my meisiekind­ers was? Hy het veral met een van my dogters gespeel. Ek het hom vertrou,”vertel Bettie.

Sy sê dit maak haar siek dat alles onder haar neus gebeur het en sy niks onraad vermoed het nie.“Die ding het my so siek gemaak ek kon skaars slaap. Dit het so te sê onder my dak plaasgevin­d en ek het niks agtergekom nie.”

Bettie sê haar hart is stukkend en gaan uit aan die families wat hul geliefdes op só ’n wrede wyse verloor het. Volgens haar het die moorde haar soos ’n vuishou getref en vat sy dit nou maar een dag op ’n slag om alles te verwerk.

Nog ’n inwoner, Katie White, vertel sy was tot in haar skoene geskok toe sy Johan se gesig in die koerant sien.“Ek het gedink, ‘Haai, dis mos die man wat elke dag verby ons huis loop.’Hy was altyd stil en het net gegroet.”

Mitchell Hartogh, die voorsitter van die Bellevue-buurtwag, vertel hulle het gehelp om na Chantell te soek. Mitchell ken Johan van sien in die gemeenskap en sê hy het glad nie vermoed Johan was eintlik die culprit nie.“Dit kon met enigeen van ons kinders in die gemeenskap gebeur het. Die gemeenskap sal nou meer waaksaam moet wees. Ons weet nie of daar dalk nog lyke is nie,” sê Mitchell.

Abraham Mentoor, ’n inwoner en ook lid van die buurtwag, sê die hele gedoente het die gemeenskap erg skrik op die lyf gejaag. Volgens hom het Johan nou vir Wellington ’n slegte naam gegee.

Mentoor voel die owerhede moet nou strenger optree en rekord hou van elkeen wat in ’n wendy-huis in iemand se jaart wil kom bly.“Die gemeenskap is glad nie gelukkig oor die hele saak nie. Ons is seergemaak. Ons is bang vir ons kinders. Ons het nie gedink só iets hier sou gebeur nie.”

As jy van aangesig tot aangesig met Johan Williams kom, soos ek gedoen het toe ek hom in die Allandale-gevangenis in Paarl besoek het, is daar geen teken van die stil man soos hy vroeër beskryf is nie.

beskuldigd­e praat

Sy oë lyk wild en sy hande grof. Hy is korter as ek en hy praat met soveel selfvertro­ue. Toe ek hom eers ontmoet, het ek nie geweet hoe om te voel nie. Ek was eers erg senuweeagt­ig, maar dit het vinnig verander toe ek eers met hom begin praat.

Trouens, hy het nogal baie te sê. Hy is baie bekend onder die ander gevangenes en spog half by hulle dat ’n joernalis vir hom kom kuier het.

Ek was nie juis bang vir hom nie en wou hom aan my kant hê. Maar eers soek hy R15 000 betaling, ’n gros sigarette en KFC voor hy begin praat. Toe hy sien dit gaan nie materialis­eer nie, begin hy vertel hoe hy elk van die drie vroue vermoor het.

Hy wil sy kant van die saak stel, sê hy, “want alles wat in die media oor hom geskryf is, is leuens”.

“Wanneer ek hier uitkom gaan ek almal sue. Hulle weet nie wat daartoe gelei het dat ek die moorde pleeg nie. Die mense wat die goed in my kop geprint het, loop nou lekker daar buite rond.”

Johan staan tereg op twee aanklagte van moord, verkragtin­g en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Met sy vorige hofverskyn­ing het die hof gesê hulle mag dalk nog klagtes byvoeg. Hy verskyn op 11 September weer in die hof.

Wat egter nog in die hof gaan uitkom, sal ons moet wag en sien.

reeksmoord­enaar

Prof. Dap Louw, ’n buitengewo­ne professor in forensiese sielkunde en kriminolog­ie, verduideli­k: “Daar is verskeie definisies van ’n reeksmoord­enaar. Die volgende omskrywing word egter wyd aanvaar: Dit is ’n persoon wat drie of meer persone oor ’n periode van meer as ’n maand vermoor het, met ’n redelike‘afkoelings­periode’tussen elke moord. ’n Reeksmoord­enaar moet nie met ’n massamoord­enaar verwar word nie. Laasgenoem­de is iemand wat vier of meer persone tydens dieselfde geleenthei­d en op een plek vermoor. Daar is dus nie ’n ‘afkoelings­periode’nie.

“Reeksmoord­e kom min voor en maak minder as 1% van alle moorde uit. Hierdie soort moorde het nie noodwendig ’n seksuele motivering nie. Verskeie ander motivering­sfaktore kom voor, byvoorbeel­d die blote emosionele opwinding (’adrenalien rush’) om iemand dood te maak, finansiële gewin, woede of selfs om ‘beroemd’te wees.

“Relatief min reeksmoord­enaars ly aan so ’n ernstige psigiese versteurin­g dat dit deur die hof in aanmerking geneem sal word. Psigopatie, wat veral deur ’n gebrekkige gewetensfu­nksie gekenmerk word, kom wel dikwels voor.

“Dis interessan­t dat reeksmoord­enaars tydens hul‘afkoelings­periode’(wat selfs jare kan duur) met hul normale lewe voortgaan asof niks gebeur het nie. Hulle vertoon nie vreemd nie, het dikwels ’n huis, gesin en werk. Dis een van die hoofredes waarom hulle nie gouer gearrestee­r word nie. Reeksmoord­enaars is ook dikwels ‘werksaam’in ’n spesifieke geografies­e area waarmee hulle bekend is.

“Dit word algemeen aanvaar dat daar nie een identifise­erbare oorsaak van reeksmoord is nie. Die goue reël in die sielkunde dat elke mense uniek is, dit geld ook vir reeksmoord­enaars. Daar is dus nie ’n profiel van ’n reeksmoord­enaar nie. Byvoorbeel­d, hoewel reeksmoord­enaars dikwels uit ’n onstabiele agtergrond kom, is van die bekendste reeksmoord­enaars van stabiele en ondersteun­ende huisgesinn­e afkomstig. Reeksmoord­enaars kom van enige etniese afkoms en meer as 90% is mans.”

 ??  ?? Johan Williams, ’n beweerde moordenaar, word daarvan verdink dat hy vroue in die Boland rondom Wellington gelok en vermoor het.
Johan Williams, ’n beweerde moordenaar, word daarvan verdink dat hy vroue in die Boland rondom Wellington gelok en vermoor het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa