Okkapyp: Oppas vir groot gesondheidsgevare
Die gevare van okkapype is g’n geheim nie, maar steeds suig tot kinders onder tien aan dié pyp. En as ouers nie waaksaam is nie, gaan dit baie meer probleme tot gevolg hê.
Baie mense dink om okka-, hookah- of waterpyp te rook is veiliger as sigarette. Klaarblyklik glo veral Suid-Afrikaanse jong mense dis die geval en hulle word dikwels gesien waar hulle oor naweke in kuierplekke beurte vat om dit te rook. Die reuk van tabakgeure soos strawberry en coconut wat in die lug hang, is immers ver beter as die bitter en walglike reuk van sigarette. Maar agter daardie soet geure steek net soveel gesondheidsrisiko’s as sigarette. Jessica Steyn* (nou 26) van Kuilsrivier buite Kaapstad het kroniese asma, maar dit het haar nie gekeer om op 14 okkapyp te begin rook nie. Haar asma was so erg dat sy ten minste een keer al oor ’n paar maande in die hospitaal beland het weens haar swak bors. Sy sê sy het okkapyp gerook om te ontspan en het dit altyd met haar vriende gedoen. Haar gunstelinggeure was cherry en mint. Sy het dit meestal net naweke gerook. Toe sy egter met universiteit begin, het sy dit meer gereeld begin doen en vir haarself ook ’n okkapyp gekoop. Sy sê sy het soms kopsere gekry en dat dit haar soms duiselig laat voel het. Sy het dit egter aanhou rook omdat sy geglo het dat dit minder skade as sigarette aan haar asma-bors sou doen en dit het haar ontspanne laat voel.“Dit het ’n fruity reuk. Nie soos sigarette nie, so ek het gedink dis veiliger.” Eendag tydens ’n kuier met vriende, het Jessica vir ure aaneen okkapyp gerook. Sy het duiselig begin word, maar het dit aanhou rook. Sy het ook begin naar voel. Toe sy huis toe loop, het sy gevoel hoe haar bene begin ingee en sy het omgekap. Sy het probeer om op te staan en weer te loop, maar het weer geval.“Ná dit het my mind blank geslaan. Volgens my vriende het hulle gesukkel om my wakker te maak en daar het foam uit my mond gekom. Hulle het my in ’n motor gelaai en was op pad na die hospitaal met my toe ek bykom. Toe sê ek hulle ek wou nie hospitaal toe gaan nie, want ek
was bang my ouers vind uit.”Toe Jessica by die huis kom, het sy opgegooi waarna haar ma haar na ’n dokter geneem het. “Hy het gesê die aantal rook wat ek daardie dag ingeneem het, kon bygedra het. Ná dit het ek vir ’n jaar nie okkapyp gerook nie.”
wat sê ouers?
Ouers met wie Kuier gepraat het, sê hulle het glad nie gehou van die idee van hul kinders wat okkapyp rook nie, maar het dit in hul huise toegelaat omdat hulle dan verseker kon wees dat ander dinge soos dagga nie bygevoeg sal word nie.
Felicia Daniels* (42) van Malmesbury buite Kaapstad, sê haar seun was 12 toe hy begin om okkapyp te rook. Sy sê sy was bang dat dit ’n“gateway”tot ander dinge soos dagga sou wees.“Ek het maar laat hy dit in die huis rook dan weet ek daar word nie ander goed bygegooi nie. Hy het later ’n hoes begin ontwikkel en dit was mos nie reg om sy jong longe so op te mors nie. Toe gooi ek eendag daai pyp met al daai nonsens stukkend.”
Lana Williams* (54) van Stellenbosch, het al okkapyp met vriende gerook en sê sy sal toelaat dat haar seun wat tans 13 is dit onder haar toesig doen wanneer hy die toepaslike ouderdom bereik. Sy het al opgelees oor die okkapyp sodat sy ’n besluit kon neem oor of haar seun dit kan doen.“My persoonlike ondervinding daarmee het nie enige negatiewe gevolge gehad nie. Ek dink om dit af en toe te gebruik en dit reg te gebruik is seker nie skadelik nie. Ek dink die probleem kom in waar dit met klomp mense gebruik word en wanneer verkeerde middels bygevoeg word.”
Zainab Kader is ’n berader en navorser by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Vir haar doktorsgraad ontwikkel sy ’n ingrypingsprogram om okkapypgebruik te verminder.“My navorsing wys dat 6% van die bevolking tussen 2 tot 6 jaar het al okkapyp gerook, 11% tussen 7 tot 11 jaar oud en 30% tussen 12 en 14 jaar oud. Dis dus baie algemeen onder adolessente en pre-adolessente eksperimenteer al hoe meer daarmee.”Sy het sover ’n opname onder 1200 skoolkinders in die Wes-Kaap gedoen en beplan om volgende jaar kenners te raadpleeg oor hoe die ingryping moet lyk.
Die gesondheidsrisiko’s van okkapyprook is al in verskeie internasionele studies bevestig. Okkapyprokers stel hulself bloot aan verskeie gifstowwe, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO). Daar is ’n wanpersepsie onder party rokers dat soos die rook deur die water getrek word, die gevaarlike deeltjies in die rook verwyder word deur die filtrasie. Studies het egter bevind dat die vlakke van die nikotien nie verander wanneer die rook gefiltreer word nie. Bewyse wat sedert Junie 2014 beskikbaar is, toon dat okkapyprook waarskynlik met mond-, esofageale-, en longkanker verbind word. Dit kan ook lei tot asemhalingsiektes, hoofsaaklik kroniese brongitis. Soos tweedehandse blootstelling aan sigaretrook skadelik kan wees vir nie-rokers, kan tweedehandse okkapyp-rook ook skadelik wees. Voorts is daar vroeë bewyse dat okkapyprook as ’n gateway tot die rook van sigarette onder jong mense kan wees. Dié hipotese word egter nog verder ondersoek.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is okkapype egter minder toeganklik as sigarette, weens grootte en die tyd wat dit verg om voor te berei. Dié kenmerke is beperkend vir verslawende gedrag wat gereelde gebruik benodig. Dit kan lei tot die gevolgtrekking dat jong mense wat tabak met ’n okkapyp begin rook, dalk na sigarette kan kyk wat makliker beskikbaar is om vinniger hulle afhanklikheid op tabak te hanteer.
Studies bewys mense beskou okkapyp as veiliger en minder verslawend as sigarette. Redes hiervoor sluit in die feit dat baie mense dit net vir ontspanning doen.
Die nasionale department van gesondheid se voorgestelde Control of Tobacco and Electronic Delivery Systems Bill plaas ’n verbod op rook in openbare plekke. Dit sluit ook die gebruik van toestelle soos okkapype in, volgens Popo Maja, ’n woordvoerder van die departement.
Volgens Popo is ’n gebrek aan beleide en regulasies wat spesifiek die gebruik van okkapype aanspreek, een van die faktore wat bydra tot ’n verhoogde gebruik van okkapype. Nóg ’n faktor is die sosiale aanvaarbaarheid weens die café- en restaurant-kultuur.
studie van studente
In ’n studie in 2013 onder 389 studente in die fakulteit van gemeenskaps- en gesondheidswetenskappe by UWK, is bevind 48% uit die 154 okkapyprokers in die groep, dink die gevare van die okkapyp word oordryf. Voorts het 34% gesê om ’n okkapyp te deel, is nie gevaarlik nie en 90% het gesê dit is nie so verslawend soos sigarette nie. Slegs 55% het gesê die rook wat ingeasem word, bevat skadelike chemikalieë. Die studie is juis onder studente in die fakulteit gesondheidswetenskappe gedoen omdat die navorsers gedink het hulle sou meer bewus wees oor die gesondheidsrisiko’s. Die gemiddelde ouderdom waarop die deelnemers aan die studie vir die eerste keer begin okkapyp rook het, was 15 jaar oud. Die algemeenste rede hiervoor, was ontspanning. 70% van die rokers het gesê hulle rook okkapyp elke dag.
“Dié resultate bevestig die vals persepsie dat waterpyprook skadeloos en nie-verslawend is in vergelyking met sigaretrook. Dié bevindinge beklemtoon die behoefte vir verdere navorsing om die mate van gebruik van waterpyprook by ander universiteite en in die openbaar in Suid-Afrika, vas te stel,” luidens die studie.
Diéresultatebevestig dievalspersepsiedat waterpyprookskadeloosen nie-verslawendisinvergelykingmetsigaretrook. STUDIE ONDER STUDENTE