Kuier

My lewe: Man positief na hel met breingewas

’n Gewas so groot soos ses hoendereie­rs het sy brein uit proporsie gedruk en sy sig gesteel. Nou kan hy nie anders as om met nuwe oë na die lewe te kyk nie.

- DEUR JACKIE PIENAAR-BRINK

Bykans twee jaar lank is Hein van Greunen vir mindere siektes behandel terwyl ’n al groterword­ende gewas besig was om sy brein in ’n misvormde posisie te druk. Teen die tyd dat die regte diagnose gemaak is, was die gewas so groot soos ses hoendereie­rs.

Dit was – letterlik én figuurlik – die donkerste tyd van sy lewe. Hein het geleidelik sy sig verloor en was“op die randjie van totsiens sê”.

Dié nederige en saggeaarde 35-jarige vertel hy het in 2012 skielik deurlopend­e pyn in sy regteroor ondervind en ook erge pyn in sy agterkop ervaar wanneer hy vanuit ’n gebukkende houding regop gekom het. Teen September daardie jaar het die hoofpyne so toegeneem in intensitei­t en tydsduur, dat hy nie meer sy werk in die konstruksi­ebedryf kon voortsit nie.

Hein is na ’n privaat dokter, wat hom aangeraai het om ’n skandering te ondergaan. Maar by ’n privaat hospitaal sou dit hom R9 000 kos – en dit was geld wat hy nie gehad het nie. Hy is pynpille en kortisoon voorgeskry­f en met ’n verwysing van dié dokter na die Helderberg-staatshosp­itaal in Somerset-Wes gestuur.

Dáár is om die een of ander rede besluit dat X-strale voldoende sou wees. Die pyn was glo as gevolg van ’n sinusprobl­eem. Terwyl hy medikasie soos ’n neussproei gebruik het, was hy totaal onbewus daarvan dat ’n nie-kwaadaardi­ge breingewas besig was om reuse-proporsies aan te neem. Hy het die staatsdokt­er se diagnose aanvaar, min wetend dat sy ergste hel nog voorlê.

In ’n stadium het Hein ’n oogkundige besoek. Die oogkundige het nie erge probleme opgetel nie en net genoem dat hy miskien ’n bril kan kry omdat hy effens bysiende is. Maar teen Junie 2014 het Hein skielik begin sukkel om te lees. Van daar af het sy visie verswak en sy linkeroogl­id het boonop geleidelik toegegaan.

Dit was nie al nie. Sy hele liggaam is stelselmat­ig geaffektee­r.“Partykeer het my linkerarm vir ’n kort tydjie geruk. Ek het baie keer maagpyn ervaar wanneer ek eet. En daar was later ’n deurlopend­e klopgeluid en pyn in my regteroor.”Uit moedeloosh­eid is hy na ’n privaat oor-, neus- en keelspesia­lis.“Hy kon geen probleem optel nie en het gedink dis dalk ’n spierspasm­a.”

In hierdie stadium het Hein geboer by ’n plaaslike staatsklin­iek. Dit was asof sy liggaam nie meer kos wou hê nie en hy het gereeld gebraak wanneer hy geëet het.“Ek het altyd gekla oor my oor en maag. Hul antwoord vir alles was pynpille.”

Dinge het so erg geraak dat hy iemand gevra het om hom na die Helderberg­hospitaal toe te neem. Sy het opgedaag om hom hospitaal toe te neem, maar toe Hein nie op haar klop antwoord nie, het sy aanvaar dat hy nie tuis is nie. In werklikhei­d het Hein op sy bed gelê en was hy besig om op te gee op die lewe.“Ek was swak, feitlik blind en nie meer by my volle verstand nie,”vertel hy.“Hierdie ding het my baie diep aangetas.”

Gelukkig het sy ma en suster, wat albei op Worcester woon, deurgery na hom toe.

“Hulle het my lanklaas gesien. Hulle kon sien dat my kondisie glad nie normaal is nie en het my Worcester toe geneem.”

die slegste nuus

Sy eerste afspraak daar was met ’n privaat oogkundige, wat aanbeveel het dat hy so gou moontlik by ’n oftalmoloo­g in die Worcester-staatshosp­itaal uitkom.

By die hospitaal was hy totaal onvoorbere­id op die nuus wat aan hom oorgedra is: “Jy het ’n gewas op die brein en dis die oorsaak van jou blindheid,”is Hein meegedeel.

Daar het so ’n koue gevoel deur sy liggaam gespoel, vertel hy.“Ek het altyd gehoop dat dit iets in my oë was wat reggemaak kon word. Maar om te hoor hier’s

iets in jou kop . . . Ek het net stomgeslaa­n daar gesit.”Hy het ook gehoor dat die betrokke gewas so skaars is dat hulle dit amper nooit in dié hospitaal teëkom nie.

Hy moes Tygerberg toe en onthou mense moes hom die hospitaal in begelei.

“Ek het die oggend daar aangekom en net in die gang neergesak en gebraak. Daar was nie plek vir my in die ICU nie. Ek onthou hoe ek uiteindeli­k buite in die gang op daai bed sonder komberse gelê en wag het. Dit was verskrikli­k koud.”In daardie stadium kon hy nie regtig met enigiemand kommunikee­r nie.“Ek was al half in ’n koma. Ek het net gedink: As ek nou doodgaan, dan is dit nou maar so.”

Die aand, toe ’n ander pasiënt uit die ICU ontslaan is, kon hy ingaan.“Jy lê maar net daar en probeer oorleef. Die eerste dag was daar ’n hele klomp spesialist­e. Omdat hulle nie elke dag ’n gewas soos myne sien nie, het almal belanggest­el.”

Hy is op ’n drup gesit en met intense hormoonond­erdrukking­smedikasie behandel. Sy siekte het ook nou ’n naam gekry: makro-adenoom. Die gewas was ’n funksioner­ende makro-adenoom (groot groeisel) wat die hormoon prolaktien maak. Prolaktien berei ’n vrou tydens swangerska­p voor om borsmelk uit te skei. Teen die tyd wat hy behandel is, was die gewas so groot soos ses hoendereie­rs en het sy brein weggedruk.“Die dokter het verduideli­k dat dit my oogsenuwee­s gekneus en diep in my een oogkas ingegroei het. Dit het ook ’n groot letsel agter op my brein gelaat.”

As behandelin­g is hy medikasie gegee wat die selle onderdruk wat gewoonlik prolaktien maak. Volgens dr. Ankia Coetzee, endokrinol­oog, is dit die standaardb­ehandeling met ’n uitstekend­e mediese respons in 99% van die pasiënte. Dis wel moeilik om te voorspel of daar ’n verbeterin­g in visie gaan wees.“Makro-adenome kan vir lank op oogsenuwee­s druk voordat ’n pasiënt simptome ervaar. Dit kan skade aan die oogsenuwee­s veroorsaak sonder dat die pasiënt se sig agteruitga­an. Mens kan nie so maklik voorspel hoe blywend die skade gaan wees en of oogsenuwee­s sal normalisee­r nadat die adenoom gekrimp het nie,”verduideli­k sy.

Die medikasie het Hein feitlik heeldag laat slaap.“Party oggende het ek wakker geword en nie geweet waar ek is nie. In ’n stadium het ek gedink dis hoe die hemel lyk. Daar het ’n dokter met ’n klipbordji­e voor my gestaan en ek het gedink dit was Jesus wat besig was om te kyk wat alles verkeerd was in my lewe.”

Sy visie was steeds uiters swak.“Ek het nie swart gesien nie; dit was meer soos ’n grys gordyn wat oor my oë gesak het. En my linkeroogl­id was heeltemal toe.”

dit gaan beter

Ná drie weke in Tygerberg ICU is Hein na ’n privaat kamer in die endo-kliniek oorgeplaas waar die endokrinol­oog hom elke oggend besoek het.“Daar het dit baie beter met my begin gaan. Een oggend, toe ek wakker word, was my linkeroogl­id oop. Ek het sommer soos ’n nuwe mens gevoel.”

Terwyl hy daar gelê het, het hy egter ook ’n groot laagtepunt beleef. Dit was toe ’n dokter-in-opleiding hom daarop probeer voorberei het dat hy waarskynli­k tegnies blind gaan wees vir die res van sy lewe.

“Dit laat voel jou so klein,”sê hy sag. “Jy het op ’n manier oorleef, die pyn is weg, maar jy het jou visie verloor. Jy sien nie uit na die res van jou lewe nie.”Maar nooit het hy in die hospitaal gehuil nie.“Daar is so baie mense in sulke slegte toestande dat jy jouself nie kán bejammer nie.”En ’n vlammetjie hoop het altyd bly flikker.

Hein is in September 2014 ná ses weke in die hospitaal ontslaan, steeds met ’n baie swak visie en steeds op behandelin­g.

By sy suster op Worcester het sy sig stadig, maar seker teruggekee­r. In daardie tyd was haar seun, toe ’n kleuter, vir hom ’n groot redding.“Hy wou altyd by my wees. Daardie liefde het vir my die meeste beteken op my lang pad na herstel.”

Hoewel sy sig nooit 100% gaan wees nie, is dit volgens Hein nou heel goed.

“Ek kan buite goed sien, maar binne is dit bietjie dowwer onder die ligte. Twee jaar terug is gesê ek sal nie weer kan bestuur nie. Nou gaan ek met ’n bril hopelik weer my bestuursli­sensie kry.”

In 2015 het hy ’n week lank in die houtwerk-afdeling van die Instituut vir Blindes op Worcester gewerk net om hom besig te hou.“Daar word mens weer nederig. Daar en in die hospitaal kry jy nuwe respek vir die lewe.”

Hein gaan nog gereeld vir opvolgbeso­eke by Tygerberg en hoewel die gewas nog daar is, is dit nou so klein dat MRI-skandering­s nie meer as nodig beskou word nie.

Volgens dr. Coetzee sal Hein vir geruime tyd op behandelin­g wees aangesien die prolaktino­om weer kan groei as dit te gou gestaak word.“’n Groot bydraende faktor in sy suksesstor­ie is sy toegewydhe­id met behandelin­g,”beklemtoon sy.“Hierdie is ’n goeie voorbeeld dat medikasie optimaal werk as dit reg geneem word. Daar is soms ’n wanperseps­ie dat prolaktino­me nie goed op behandelin­g reageer nie, terwyl medikasie wat nie volgens voorskrif geneem word nie die eintlike probleem is.”

Hein het nou ’n heeltemal ander uitkyk op die lewe as voor sy siekte.“Ek was so gelukkig om ’n tweede kans te kry en nie blind te wees nie,”sê hy.“Ek het op daardie afgrond gaan draai.”

Hy wil graag by fondsinsam­elings betrokke raak en permanent werk. As hy ’n boodskap aan mense kan stuur, is dit dat hulle hul gesondheid moet oppas.“Jy kry net een liggaam en net twee oë. Dit maak my kwaad dat mense soos rokers niks vir hul gesondheid voel nie. Ek wens hulle kan net vir ’n uur gaan kyk hoe dit in Tygerberg se ICU lyk en moeite doen om die Instituut vir Blindes te besoek.”

As hy so terugdink, is hy net spyt dat hy nie reeds met sy eerste besoek aan ’n staatshosp­itaal na Tygerberg verwys is nie. Ook dat hulle hom nie vinniger by Tygerberg kon help nie. Tog wil hy homself nie bejammer of kla oor waar hy was nie.“Ek het ’n tweede kans gekry. Jy moet vat wat jy het en dit máák werk.”

 ??  ?? HOOFFOTO: Hein van Greunen is vir lank deur ’n breingewas geteister.
HOOFFOTO: Hein van Greunen is vir lank deur ’n breingewas geteister.
 ??  ?? HEEL LINKS: Die breingewas (liggrys) agter die oogkaste. Die brein (donkergrys) is na agter gedruk en saamgepers. LINKS: Die brein met ’n meer normale vorm tydens mediese behandelin­g.
HEEL LINKS: Die breingewas (liggrys) agter die oogkaste. Die brein (donkergrys) is na agter gedruk en saamgepers. LINKS: Die brein met ’n meer normale vorm tydens mediese behandelin­g.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa