Kuier

Kortverhaa­l

Charmaine leef vir haar kinders en toe sy ’n knop in haar bors voel, verander alles. Die res van haar lewe hang af van wat die dokter sê en sy dink nie sy is gereed daarvoor nie.

- Deur Ansunette Bothma

Ma, waar is my kosblik?” skree Charlene uit die kombuis.

“Dis op die kombuistaf­el, langs die broodblik. Jy moet gou maak, netnou is jy laat vir skool! Jou broer wag al klaar buite,”skree Charmaine, haar ma, uit die kamer.

Wat sal hulle tog sonder haar doen? Almal sê hoeka sy bederf die kinders te veel, maar dit maak haar hart warm om vir hulle ietsie ekstra te doen. Buitendien, hulle is al wat sy het. Wanneer laas het ’n man tog in haar belang gestel?

Sy hoor ’n getoet in die straat. Vandat Lenie van Maxwell sy lisensie gekry het, kom laai hy elke skooldag die kinders op in die ou Volkswagen Beetle wat hy self opgebou het. Hy en Charlene is glo net vriende, maar sy sien hoe haar kind soggens eers weer in die spieël loer om seker te maak elke haar is op sy plek voordat sy by die deur uithuppel. Charmaine wens net hy sal ophou om so op die toeter te lê en eerder aan die deur kom klop.

“Dankie, Ma! Bye!”

Die voordeur klap toe. Charmaine kyk op haar horlosie. Sy sal self gou moet maak, netnou verpas sy die bus. John, die busbestuur­der, wag vir niemand nie. Gelukkig hoef sy nie te wonder wat sy vandag gaan aantrek nie. Sy haal die inbelsentr­um se wit bloes en swart langbroek af wat sy gistergist­eraand gestryk en teen die kasdeur gehang het.

Sy ruk haar hand weg toe sy weer ingedagte aan haar linkerbors voel. Sy verbeel haar sy kan die knop deur haar onderklere voel. Soos nou die dag toe sy seep aan haar lyf smeer in die stort. Dit sit daar soos ’n druiwekorr­el onder haar vingers. Sy was skielik yskoud al het die stoom druppels teen die spieël en teëls gemaak.

Op die bus glimlag sy en knik af en toe sodat Sophia op die sitplek langs haar tog nie vandag moet agterkom dat sy skaars ’n woord hoor van dié se klaagliede­re nie. By die werk wag Joey haar oudergewoo­nte in die portaal in sodat hulle saam die hysbak na die vyfde vloer kan vat. “Wat is fout?”wil Joey dadelik weet. “Hoe meen jy nou?”

“Daardie verskrikli­ke frons op jou voorkop. En jy lyk bleek. Is dit die kinders? Jy moet hulle kortvat! Charlene en Robbie sit vierkantig op jou kop.”

Charmaine weet sommer haar vriendin dink nou aan die ding met Rafiek, Joey se broer. ’n Tyd gelede het hy gereeld by haar kom kuier, maar die kinders was dikmond daaroor en sy het hom gevra om eerder nie weer te kom nie.

“Nee, dis nie die kinders nie. Ek . . . Ek het ’n knop. In my bors.” “Was jy al by die dokter?” Charmaine skud haar kop. “Mens speel nie met sulke goed nie!” raas Joey.“Jy verwaarloo­s jouself! Jy bekommer jou net oor die kinders. Wat is jou dokter se nommer? Foon!”beveel sy en hou haar hand uit toe Charmaine nie vinnig genoeg na haar sin reageer nie.

Joey soek die nommer in die adreslys op en druk die belknoppie.“Môre, dokter Fourie se spreekkame­r? Ek wil asseblief ’n afspraak maak vir my vriendin, Charmaine Kiewiets. Dis dringend.”Sy bly ’n rukkie stil.

“Kwart oor een vanmiddag? Baie dankie,

ek bring haar.”

Gelukkig is dit tydens hul etenstyd, dink Charmaine. Sy hoef nie af te vat nie en hulle behoort betyds weer terug te wees by die werk.

“Moenie vir my wag nie,”sê sy vir Joey toe dié net ná eenuur sukkel om parkeerple­k te kry voor die spreekkame­r.“Jy pak mos nooit vir jou middagete in nie. Gaan kry vir jou iets te ete by die kafee hier oorkant. Ek sal jou kom soek sodra ek klaar is by die dokter.”

Charmaine kan byna dadelik ingaan. Dokter Fourie frons bekommerd terwyl hy haar ondersoek.

“U het u beslis nie verbeel nie, Mevrou. Daar is definitief ’n knop. Dit kan goedaardig wees, maar op hierdie stadium kan ek nie met sekerheid ’n opinie waag nie.”

Hy verlaat die ondersoekk­amer sodat sy kan aantrek en toe sy voor hom gaan sit, skuif hy ’n toegeplakt­e koevert oor die lessenaar.“Ek verwys u vir ’n mammogram sodat ons kan vasstel wat die probleem is. Sonja by ontvangs sal vir u dokter Hansen se spreekkame­rnommer gee sodat u ’n afspraak kan maak. Skakel asseblief so gou moontlik.”

Toe sy buite kom, staan Joey reeds by die motor. Charmaine druk die papier waarop die nommer geskryf is in haar vriendin se hand.“Maak jy asseblief die afspraak,” fluister sy. Haar trane sit vlak.

Die hele week is Charmaine in ’n dwaal. Gelukkig is die kinders te besig met hul eie dinge om dit agter te kom. Charlene bekommer haar oor wat sy gaan aantrek as Maxwell haar dalk matriekafs­keid toe vra en as Robbie nie sokker oefen nie, kuier hy by sy vriende.

Die dag van die afspraak breek heeltemal te vinnig aan. Charmaine sukkel die hele oggend om by die werk te konsentree­r en tel die minute af totdat sy kan gaan. Sy besef eers dat Hannie in die hokkie langsaan met haar gepraat het toe sy agterkom dat die vrou vreemd na haar kyk.

“Voel jy vandag nie so lekker nie?”vra Hannie.

Charmaine vryf oor haar voorkop. “Nee, ek voel oukei, dankie. Ek is maar net ingedagte.”

“Ek sien jou gedagtes loop so die wêreld vol. Ons is mos al te oud vir muisneste!” grinnik sy.

Charmaine antwoord nie, glimlag net skalks. Sy is dankbaar toe die toesighoue­r uiteindeli­k langs haar kom staan en sê sy sal haar verskoon.

Joey wag reeds buite. Hulle ry in stilte en in die spreekkame­r bewe haar hande toe sy die vorms invul. Die wagkamer sit vol vroue wat afgetrokke deur tydskrifte blaai.

“Mevrou Charmaine Kiewiets!”roep die ontvangsda­me ná ’n tydjie. Charmaine staan op en stap na waar ’n lang vrou op haar wag.

“Middag, ek is Anne. Ek is die radiografi­s wat u mammogram neem. Stap asseblief saam met my.”

Anne gaan staan voor ’n aantrekhok­kie. Sy buk by ’n mandjie en sê,“Trek asseblief u bostukke uit en trek dit aan.”

Charmaine se vingers voel dom en sy sukkel om die bande vas te maak. Toe sy uiteindeli­k te voorskyn kom, beduie Anne dat sy haar moet volg. Hulle gaan staan voor ’n groot wit masjien.

“Trek asseblief die jurk uit en draai bietjie na links,”versoek Anne.

Charmaine gehoorsaam en terwyl sy styf aan die masjien vashou, skuif Anne haar linkerbors daarop. Charmaine hou haar asem op. Sy het al gehoor hoe sê ander vroue hoe seer dit is. En sê nou die knop bars as dit so vasgeknyp word? “Ontspan u skouer,”sê Anne. Charmaine haal diep asem en laat sak haar skouer. Nadat ’n paar skote geneem is, word die proses regs herhaal. Toe Anne tevrede is, kan Charmaine weer die jurk aantrek. Anne neem Charmaine na ’n skemer kamer.

“Kom lê asseblief op u rug hier op die bed. Dokter Hansen sal nou hier wees.”

Anne trek die deur agter haar toe en Charmaine staar na die plafon. Sê nou sy het kanker? Sy dink weer aan Rafiek met die fyn lyntjies om sy oë en sy mond wat so lekker kan lag. Sy wens hy was hier om haar hand vas te hou en te sê alles gaan oukei wees, sy hoef nie te worrie nie.

Die geluid van die deur wat oopgaan, onderbreek haar gedagtes.

“Aangename kennis, Mevrou. Ek is dokter Hansen, die radioloog,”stel die vrou haarself voor.“Daar is ’n knoppie, maar ons gaan nou ’n sonar neem sodat ons beter kan sien wat fout is.”Met geoefende vingers smeer die dokter jel aan Charmaine en neem dan die sonar. Eers links, dan regs, haar oë vasgenael op die skerm regs by Charmaine se kop. Dan glimlag dokter Hansen. “Dit is beslis net ’n sist. ’n Sakkie met vloeistof,”verduideli­k sy toe Charmaine vraend na haar kyk.“Dis nie kwaadaardi­g nie. Hou dit net dop en as u nie enige nuwe knoppe voel nie, sien ek u eers weer oor ’n jaar. Wag net vir die verslag en X-strale voordat u gaan.”

Die radioloog stop Charmaine ’n hand vol papierhand­doeke in die hand. Dankbaar vee sy die ekstra jel af. In die aantrekkam­er trek sy vinnig aan – nou is haar vingers nie meer dom nie. Sy het haar besluit geneem.

Sy glimlag toe sy by Joey in die wagkamer kom. “Goeie nuus?” “Kom eet vanaand by my. Ek wil dankie sê vir jou moeite. En bring vir Rafiek saam. Ek mis hom.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa