Kuier

Wat die hart van vol is

Ons skoonheid moet eintlik van binne af straal, maar soms is ons so behep met ons voorkoms dat dit ’n tronk word.

- deur Berenice Kogana

Laatjousko­onheidnien­et uiterlikew­eesnie.Jouselfver­troue,joumooihei­dmoetiets dieperwees.Ditmoet onvergankl­ikwees.

Jul skoonheid moet nie bestaan in uiterlike dinge soos haarkapsel­s, juwele en sierlike klere nie. Nee, jul skoonheid moet dié van die innerlike mens wees: blywende beskeidenh­eid en kalmte van gees. Dit het by God groot waarde (1 Petrus 3: 3 – 4).

Wanneer jou lewe uitmekaarv­al en jy na ’n plek vlug waar niemand jou sien nie. Wanneer jou drome aan skerwe lê en jy dag ná dag met ’n gebroke siel rondloop, het die mens baie maniere om die seer weg te steek.

Ek was vir jare ’n gevangene van my haarstyl. Ek het groot bedrae geld spandeer om die perfekte haarstyl te koop. Ek het hare verkies wat in my gesig hang, want dit het die hartseer in my oë verberg.

Ek het soveel seer in my rondgedra dat ek te bang was iemand sou sien en ontdek ek is nie die sterk vrou soos almal dink nie. Ek was nooit sterk nie, my seer was net goed weggesteek.

Menige aand in my alleentyd het ek voor my spieël gestaan en die hare uit my gesig gehaal. Vrees, hartseer en skande is al wat ek gesien het.

Ek het nie meer myself geken nie. Ek het my eie beeld gehaat en die aangeplakt­e beeld het my veilig en mooi laat voel. Die kompliment­e van mense het my laat glo ek lyk net mooi met geplakte hare. Dit was ’n leuen. Ek het die besluit geneem om heel te word en om heel te word, moes ek eg word. Ek moes die waarheid in die oë staar en my innerlike mooiheid na vore bring. Ek kon dit nie sonder God doen nie.

Ek moes lief word vir die vrou sonder die pruik en net soos God my geskape het. Ek het ’n besluit geneem om die wêreld die ware beeld van wie ek is, te wys en ’n besluit geneem om vir ’n tyd lank nooit weer hare in te vleg of te plak nie.

Die kuif waaragter ek geskuil het, het ek uit my gesig gehaal.

Ek het kaal, vreesbevan­ge en lelik gevoel, maar elke dag die besluit geneem om lief te word vir my ware beeld. Ek moes leer dat my opinie oor myself belangrike­r is as anders s’n.

Dag vir dag het my selfliefde gegroei. Ek het die mooi binne my begin raaksien. Ek het al meer kompliment­e gekry en dit begin glo. Ek het in vryheid geleef, want ek kon myself wees en goed voel.

Eers toe ek voluit leef met my unieke skoonheid kon ek weer vals hare dra. Hierdie keer nie as skuilplek nie, maar vir die gerief daarvan. Ek is heel en ek weet my skoonheid word nie aan my uiterlike gemeet nie, maar aan my innerlike wese.

Daagliks gesels ek met vroue wat in die gevangenis is waar ek was – vasgevang in ’n lae selfbeeld. Wanneer ek na ’n vrou kyk wat haar gesig bedek met haar hare, wonder ek wat sy wegsteek.

Daar is niks fout met ’n vrou wat haar skoonheid aanvul nie, maar wanneer jy nie sonder dit kan leef of goed voel nie, het dit ’n gevangenis geword.

Of dit jou hare, grimering of klere is – dit mag nie jou enigste selfvertro­ue wees nie. Dan doen jy presies dit waarteen die Skrif ons waarsku,“laat jou skoonheid nie net uiterlike wees nie”. Jou selfvertro­ue, jou mooiheid moet iets dieper wees. Dit moet onvergankl­ik wees.

My advies is daagliks aan vroue:“Daar is niks fout met hare invleg of plak nie, maar wanneer jy net mooi voel wanneer jy lang hare dra, is daar fout. Daar is niks fout om ’n gedeelte van jou gesig te bedek met jou hare nie, maar as jy nie mooi voel met hare uit jou gesig nie, is daar fout.”

In hierdie oppervlakk­ige lewe wat konstant verander, moet ons iets dieper as ons uiterlike hê om vry en voluit te lewe.

Ons moet ’n kalm en nederige gees hê. Ons moet ware karakter aanleer en diep binne ons weet ek hoef net ek te wees. Geen vrou op die planeet lyk soos ek nie en dít is my krag.

Die skoonheid van ’n ander vrou kanseleer nie my skoonheid uit nie. Met of sonder enige aanhangsel is ek ’n mooi vrou. Staan dapper op, stap uit jou gevangenis en bring jou unieke mooiheid na vore. Laat niemand jou laat glo jou skoonheid is in jou uiterlike nie. Alles wat God geskape het, is perfek. Jy is ook perfek net soos jy is.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa