SKUILING GEE HOM HOOP
Hy was haweloos en hopeloos, maar helpende hande by ’n nagskuiling het hom weer help bou aan die goeie en hulpvaardige jong man wat hy eens vir sy geliefde oorle’ ma was.
Partykeer kan net een gebeurtenis ’ n mens se lewe heeltemal ontspoor, soos ’n jong man van Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte kan getuig.
Ná sy ma se dood het Zahir Ryklief (33) in ’n dwelmkokon vasgevang geraak en op straat beland. Zahir is egter bewys daarvan dat ’ n mens weer uit so ’ n donker put kan klim. Nou is hy weer reg om die wêreld in die oë te kyk. En hy wil dit uitbasuin dat daar wél plekke is wat jou kan help, soos The Haven Night Shelter in Napierstraat, Groenpunt, Kaapstad, waar hy sy selfrespek teruggekry het.
Twee jaar gelede was Zahir, die jongste van drie broers, op ’ n laagtepunt.
Hy het op skool ’ n bietjie met dagga geëksperimenteer, maar nou die hoogs verslawende tik gebruik en dit ook aan ander desperates gesmous.
Eintlik, vertel hy, het hy tot in daardie stadium ’ n heel goeie lewe gelei. Wat alles verander het, was die dood van ma Gasnat, ’ n enkelouer vir wie hy die grootste respek gehad het.
Sy gesig helder op wanneer hy
van haar praat. “Sy was ’n baie sagte persoon, baie hardwerkend en altyd daar vir ons. My ma was my als gewees. Ons het nie die beste lewe gehad nie, maar sy het gedoen vir ons wat sy kon. Sy het my deur skool gesit en ek het nie een aand honger gely nie.” Ná matriek in 2003 aan Salt River Secondary het hy in die familiehuis aangebly en onder meer as pakker, despatch clerk en broodbakker vir ’n supermark gewerk.
KYK NA SY MA
In haar laat sestigerjare het dementia by sy ma begin en sy het toenemend op Zahir vir sekere take staatgemaak. Selfs al het hy 03:00 tuisgekom ná nagskof, het hy met liefde eers haar ontbyt reggesit en middagete vooruit gemaak.
Hy onthou so goed die nag van 25 Februarie 2016 toe sy op 71-jarige ouderdom gesterf het. Hy het toe nog by CFS in Parow gewerk en sy het vir ’ n maand by ’ n ander broer gekuier omdat sy tyd met hom en sy seuntjie wou deurbring.
Vieruur daardie oggend het haar suster gebel om by Zahir te hoor wanneer sy ma se begrafnis is. En dit terwyl hy nie eens geweet het sy het gesterf nie. “Dit was ’ n geweldige skok. My broer het vroeër ’ n SMS gestuur om te sê dat sy afgesterf het, maar ek het dit nie gelees nie. Ek het laat gewerk en was baie moeg toe ek gaan slaap het.
“Ek was in ’ n dwaal,” onthou hy. “Die enigste tyd wat ek gehuil het, was toe ons haar die laaste keer gesien het by die huis met die viewing. Daai het my gebreek. Ek meen, sy was altyd die sterk een. Om te sien sy gaan nou . . .”
Daar het alles begin skeefloop. “Ek was in ’ n ander wêreld. Ek het by die werk resign en crystal meth begin gebruik.”
Ingevolge sy ma se testament kon een van hulle die familiehuis uitkoop. Andersins moes dit verkoop en die geld onder die broers verdeel word. Geld vir uitkoop het hy nie gehad nie. Daarom is die huis ’n jaar later verkoop.
Dit het hom in ’ n verdere depressie gedompel. ’ n Deel van daardie geld het hy vir sy driejarige seun, Abdul-Mueez, se opvoeding gegee. “Ek meen, daai het vir my niks beteken nie. Al die memories was in die huis in . . . Daarna ek het bos gegaan en deurmekaar geraak.”
Zahir het teen R350 per dag in ’ n plek in Langstraat ingetrek. Hy kon dit bekostig omdat hy tik begin verkoop het. Uit 5 gram se verkope, vertel hy, was die wins R750. Sy grootste kliënte was informele karwagte en prostitute.
Vir byna ’ n jaar het dit só aangegaan, maar die skuldgevoelens het hom geteister. En hy het vuil begin voel. “Van binne af. Ek het geweet wat ek doen, is verkeerd. Ek het geweet mense betaal my om ’ n stukkie van hul lewe weg te vat.”
Toe vra hy homself een oggend af of hy vir ewig só wil lewe. Wat as hy gevang word? Net daar het hy ophou tik verkoop. Hy kon nog ’ n tydjie op sy ma se huisgeld leef, maar uiteindelik – einde Julie verlede jaar – het hy op straat beland.
Baie aande het hy net rondgedwaal. Wanneer hy geslaap het, was dit onder ’n brug naby die Groenpunt-stadion.
“Ek het net twee komberse en klere saamgedra.”
Die slegste van die straatlewe was daardie vreeslike koue snags. “En die vroegopstanery vieruur in die oggend wanneer die securities ’n mens wakker maak.”
Ná sowat twee weke op straat het ’ n vriend wat hy daar gemaak het, hom van The Haven-nagskuiling in Napierstraat vertel. Om en by dieselfde tyd het Zahir self besluit om op te hou tik nadat hy sy uitgeteerde liggaam in ’ n spieël gesien het. Kort daarna het hy en sy vriend by The Haven ingestap.
“Ons het vir ’ n paar dae net ontbyt daar geëet,” vertel hy, maar geleidelik het hy takies in die skuiling begin doen. ’ n Personeellid het dit raakgesien en gereël dat hy blyplek kry. Omdat hy nie die verpligte R12 per dag kon betaal nie, het hy in die kombuis begin werk. Van daar af het alles net in plek geval.
Gretig om sy lewe om te keer, en met die personeel se ondersteuning, het hy by programme ingeskakel wat haweloses op hul voete help – “stress relief, job readiness, trauma counselling sodat ek deur my issues kon werk . . . Ek het beter oor myself begin voel en geweet nou kan ek myself verbeter.”
GOEIE DINGE GEBEUR
Toe hy die kans kry om vir drie maande teen betaling in die shelter se kombuis te werk, danksy ’ n program waarvoor die staat betaal, kon hy ook sy shelter fees betaal.
Maar waarop hy die trotsste is, is die hospitality-sertifikaat wat hy verwerf het nadat hy as deel van job readiness ’ n deeltydse kursus by die Lobster Ink-kollege gedoen het.
Zahir het sedertdien uit die shelter getrek en by ’ n vriend op Bonteheuwel ingetrek. “Ek kan nie selfsugtig wees nie. Iemand anders kan my shelter bed vat,” verduidelik hy. Tussendeur soek hy hard werk, verkieslik as kelner, maar hopelik uiteindelik as kok.
Zahir is een van talle suksesverhale van herintegrasie in die gemeenskap wat The Haven kan vertel. Kevin Alexander, bestuurder by die Groenpunt-tak, wys daarop dat The Haven net tydelike verblyf aan haweloses bied. Die hoofdoel is om selfrespek te herbou en dié wat by hul program inskakel met familie te herenig of in die gemeenskap te herintegreer. “Ons glo dis belangrik dat mense verantwoordelikheid vir hul lewe neem.” Dis ook hoekom hulle net diegene inneem wat werklik wíl verander.
Daar is streng reëls, soos jy moet nugter en dwelmvry wees. Permanente personeellede gaan strate toe en moedig mense aan om die straatlewe agter hulle te sit. Vennootskappe en donasies help dat die skuiling se deure oop bly en geld word ingesamel met veldtogte soos Buy a Bed en The Haven Passport.
“Dis altyd awesome om waar te neem hoe kliënte ’ n gedaanteverwisseling ondergaan van timid en insecure na confident en positive,” sê Kevin oor die haweloses wat deel is van hul program.
En, ja, sommige val langs die pad uit, maar ander gryp die kans aan om hul lewe om te keer, soos Zahir.
Ek was in ’n ander wêreld. Ek het by die werk resign en crystal meth begin gebruik. ZAHIR RYKLIEF
*Besoek www.haven.org.za of gaan na @The Haven Night Shelter – Napier Street, GREEN POINT op Facebook.