Kuier

Kortverhaa­l

Ná daai dag op die bus was dié onnie te skaam om weer by ’n vrou aan te klop, maar die nuwe juffrou laat sy hart bokspring. Sal hy haar deur sy vingers laat glip?

- DEUR LINDSAY JEFTHAS

Dit is voor vyf namiddag en meneer Draghoende­r is soos gewoonlik nog doenig by die skool. Hy besluit om vir eers halt te roep en gooi moedeloos die rooi pen voor hom op die tafel neer. Dis weer sulke tyd – merktyd.

As Afrikaans-onnie het hy hope en hope daarvan. Hy is moeg. Sy rug pla hom en sy stuitjie is al seer. Sy besige skedule eis sy tol. Hy maak al sy goed op die tafel vinnig bymekaar. Hy dra swaar aan die sak met sy skoolwerk in. Oor sy linkerskou­er hang ’ n sak waarin ’n bakkie met halfgeëete broodjies in is en met sy regterhand probeer hy ’n boks met nasienwerk balanseer. Hy kyk desperaat rond of daar nie ’ n verlore siel in die gange dwaal om handjie by te sit nie, maar dis net die skool se skadu’s wat rondhang.

Soos hy die voorportaa­l nader, stop hy vir ’ n oomblik. Wie is dan nou nog op die perseel behalwe die opsigters, wonder hy. Hy stap nuuskierig nader aan die klas waar die klank vandaan kom. Hy loer deur die deur wat op ’ n skrefie oop is.

Daar sit sy. Beeldskoon en met die stem van ’n engel. Sy is besig om die mooiste melodieë op die klavier te komponeer en beweeg haar kop ritmies op die maat van die musiek.

Dis juffrou Basson, die nuutaanges­tel- de musiek-onderwyser. Die hoof het gisterogge­nd gesê sy kom van êrens uit die Suid-Kaap. Hoekom sy in die warm Boland haar heil kom soek het, weet nugter alleen. Hy loop stadig agteruit voor sy agterkom daar is iemand, want hy sal nie die moed hê om met haar te praat nie.

Hy is Craig Draghoende­r gedoop. Sy ma se naam, sy pa se van. Eendag het hy ’n meisie op die bus ontmoet. Toe hy sy naam en van gee sodat sy hom ’n friend request kon stuur, het sy so hard begin lag dat die mense na haar gestaar het. “Draghoende­r?” het sy kliphard gevra en verder gelag. Amper die hele bus het toe ook uitgebars van die lag. Hy dink daardie dag het sy vertroue so geknou dat hy nie weer die moed gehad het om iemand van die skoner geslag te nader nie. Van daar af het hy net ál dieper in sy dop gekruip.

Sy senuwees is hoeka klaar vir môreaand se “personeel-samesyn”. Dis ’n maandeliks­e instelling vir opvoeders om saam te kuier en om die nuwes te verwelkom. Hy is nie altyd lus daarvoor nie.

“’Skuus, meneer Draghoende­r.” Hy draai vinnig om. ’n Ongemaklik­e glimlag strek oor sy gesig.

“Hallo,” sê hy en vee sy nat voorkop af met sy mou en sy hande aan sy broek. Juffrou Basson is ongeloofli­k pragtig, dink hy. “Waarmee help ek?” vra hy terwyl hy diep sluk.

“Daisy se voorste wiel is pap.” Sy beduie in die rigting van haar kar. Kan Meneer my dalk help?”

Hy trek effens sy linkermou op om na die tyd op sy horlosie te kyk en sê dan beleefd: “Sekerlik, ek doen dit tjoef-tjoef.” Of is dit nou tjoef-tjaf? Die juffrou se gepratery met hom gooi hom nou heeltemal onderstebo.

In ’n japtrap haal hy die wiel af, maar nog voor hy die spaarwiel uit die kattebak kan lig, herken hy ’ n stem wat al nader kom. ’ n Arrogante een. Dis José, die wiskunde-onnie en rugby-afrigter. Hy is gespierd en vreeslik voor op die wa.

“Yes, yes, als in orde?” wil hy weet, terwyl hy nuuskierig na die pap wiel kyk wat op die grond lê.

“Ja, dankie, Meneer,” reageer sy met haar arms gevou en kyk baie beïndruk na hoe Craig die spaarwiel opsit.

“Gaan Juffrou ook môre die funksie bywoon?” wil José gretig weet. “Ek kan jou metgesel wees en al jou vrae beantwoord,” gaan hy voort.

Craig voel hoe sy bloed kook. Regte ou brêkgat, dink hy. “Dit is gaaf van jou, Meneer, maar ek wou eintlik vir . . .” “Dis afgespreek dan! Dis my plesier . . “Daar’s hy! Reg soos ’n roer,” val Craig

José in die rede en maak hom uit die voete, want hy wil nie ’n sekonde langer in die man se geselskap wees nie.

Dis die aand van die kuier met sy kollegas, maar Craig is eers op pad na ’n voedingske­ma aan die ander kant van die dorp. Hy kyk na sy horlosie. Dit is byna 17:30. Hy gaan dalk ’n bietjie laat wees vir die kuier.

Hy het dié skema twee jaar gelede op die been gebring en tot vandag toe weet nie een van sy kollegas van die werk wat hy daar doen nie. Die plaaslike koerant het een keer ’n berig daaroor skryf, maar hy het geweier dat hulle sy naam noem.

Langs die pad loop hy vir Bernadene, een van sy matrikulan­te, raak. “Hallo Meneer, ons is op pad.”

“Reg so. My ma is by die huis. Sy sal vir julle oopsluit.” Hy het onlangs die garage by sy ouerhuis as ’n studeerple­k ingerig waar leerders in stilte kan huiswerk doen en voorberei vir eksamens.

Hy kom darem nie te laat by die funksie aan nie. Dis ’n lieflike someraand en Craig kan voel hoe klam sy langmouhem­p van die sweet is. Craig help eers braai, maar verkies later om eerder eenkant te gaan staan, want José is weer besig om een van sy vele stories tot groot vermaak van ’n groep jong juffrouens te vertel.

Hy besluit om ’ n ent te stap en kies koers met die smal paadjie wat lei na die sportveld en gaan sit op die krieketbla­d.

’n Koue rilling gaan deur sy liggaam toe hy ’ n hand op sy skouer voel. Dis baie weinig dat hy die aanraking van iemand voel. Nie eens sy ouers s’n nie.

“En as Meneer so alleen sit?” Hy herken dadelik die stem. Sy hou ’n glas in haar een hand en laat rus die ander een op sy skouer. Senuweeagt­ig en ongemaklik kom hy orent.

“Ag, ek het maar net ’ n bietjie vars lug kom skep,” sê hy vinnig. En asseblief, dis na-ure, noem my Craig.” ’n Glimlag trek om juffrou Basson se mondhoeke.

“Okay, Craig,” sê sy met ’ n glimlag wat haar spierwit tande wys. ’ n Oomblik van stilte heers voordat sy langs hom sit en die sterre in die hemelruim bewonder.

“So, vertel my ’ n bietjie meer van jouself,” verbreek Craig die stilte ongemaklik.

“Ag, ek is maar ’ n doodgewone mens. Ek wil eintlik meer van jóú weet, jy lyk na ’n toe boek wat nie gelees wil word nie.”

“Wat wil jy weet, Juffrou?” vra Craig met ’ n glimlag.

“Sê my hoekom jy altyd ’ n langmouhem­p aanhet? Die Paarl se son is kokend en jy volhard daarmee!”

Hy bly vir ’ n oomblik stil en rol dan stadig sy regterarm se mou op tot bo sy elmboog. “Kyk,” sê hy sag. “Ek wil nie hê die kinders moet dit sien nie.”

“Is dit ’ n uil?” vra sy verbaas terwyl sy na die tatoeëerme­rk op sy voorarm kyk. “Ja,” sê hy nou skamerig. Sy lag spontaan. “Hoekom op dees aarde sal jy ’ n tattoo van ’ n uil kry?”

“Wel . . .” begin hy huiwerig. Hy dink aan daai dag op die bus. “’n Uil is ’ n pragtige voël. Stil, op sy plek en nederig. Jy sal hom nie hoor vlieg nie. Hy maak jou nie bedag op sy teenwoordi­gheid nie. Hy maak nie ’n geluid oor dit wat hy doen nie.”

“Net soos jy,” sê sy en knipoog vir hom. “Ek beskou myself as ’ n mier, maar ek het nou nie ’ n tattoo om dit te bewys nie,” sê sy met ’ n glimlag. “Miere is ook wonderlik, Juffrou,” sê hy. “Ek doen vrywillige werk by ’ n plaasskool­tjie Saterdae. Sien jy dalk kans, Meneer die Uil?” Sy kyk na hom met verwonderi­ng en belangstel­ling in haar oë. Craig besef dat sy droewige liefdeslew­e dalk besig is om ’ n ommeswaai te maak en dat hulle saam-saam net meer lewens sal verryk.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa