Soos blits: Jongatleetpronkmetgoud
Op 16 het hierdie Kaapse klong die wêreld aan sy voete en ’n goue medalje om sy nek. En om te dink dit het alles met ’n Streetwise 2 begin!
Met ’n KFC Streetwise 2 as ’ n omkoopprys om hom aan te spoor om atletiek te doen toe hy net sewe jaar oud was, was die koeël deur die kerk vir Suid-Afrika se nuutste atletieksensasie, Luke Davids. Dié klong van Belhar op die Kaapse Vlakte het net daar en dan besluit om die res van sy middae ná skool op die atletiekbaan deur te bring.
Luke (16) het in Oktober stof in sy teenstanders se oë geskop en goud verower by die Jeug Olimpiese Spele in Buenos Aires, Argentinië. Dié spoedvraat van die Universiteit van Wes-Kaapland-atletiekklub het koning gekraai nadat hy die 100 m in ’ n ongelooflike 10,15 sekondes afgeblits het. En daar word nog sommer gróót dinge vir sy toekoms op die atletiekbaan voorspel.
OMGEKOOP
Luke, ’ n graad 10-leerder by die Hoërskool Parow, kom laggend aangestap oor die skoolterrein terwyl hy sy vingers inmekaarstrengel. Dis moeilik om te glo dié tiener wat effens skaam voorkom, is dieselfde atleet wat breëbors en vol selfvertroue akkeltjies uitvoer voor elke wedstryd. Hy vertel met ’ n kinderlike opgewondenheid dat sy atletiekloopbaan begin het toe hy op laerskool was.
“Ek het rugby gespeel toe die atletiekafrigter my raaksien en gevra het hoe-
kom ek nie atletiek ook probeer nie. Hy het gesien ek kan vinnig met ’n ball beweeg, want as ek eers die ball gehad het, was ek weg. Ek het nooit in atletiek belanggestel nie, maar my coach het geweet hoe en met wat om my om te koop,” vertel die tiener laggend. Hy bly dramaties stil voor hy dan uitbundig lag en sê: “Coach het geweet wat my swakpunt was oor ek al van kleins af lief was vir eet en toe ek daai hoender ruik en sien, kon ek myself nie keer nie!”
Hy beskryf homself as ’n rustige, gedrewe en doelgerigte tiener. Hy voeg by hy kan die gevoel wat hy ervaar het toe hy besef hy is die kampioen in Argentinië, steeds nie beskryf nie. Hy snak ’n paar keer na sy asem en begin dan opgewonde verduidelik: “Wow, dis ’n ander gevoel, julle. As ek op die atletiekbaan is, voel ek vry. Asof niemand en niks my kan keer nie. Dis dan net ek en die baan wat voor my uitgestrek lê. Dis waar ek tuis voel, dis my huis.”
Hy sê hoewel hy sy vryheid op die baan geniet, geniet hy dit ook om by die huis te wees en net op die bank te lê. “By die huis is ek net ’n ouboeta, my ma se seun en my ouma en oupa se kleinkind. Ek is ’n baie rustige mens en die dae wat ek nie op die baan is nie, is ek gelukkig by die huis of tussen my vriende.”
Dinge was egter nie altyd maklik vir hom nie en hy sê hy moes in 2016 die emosionele besluit neem tussen rugby en atletiek. “Ek het albei sportsoorte verskriklik geniet en van ’n jong ouderdom gedoen. In 2016 is ek gekies as deel van die Westelike Provinsie se atletiekspan en ons moes ook op ’n rugbykamp gaan. Ek het my hart gevolg en besluit om atletiek te doen. Tot vandag toe is ek glad nie spyt oor die besluit wat ek gemaak het nie, hoewel ek dit mis om rugby te speel.”
Sy gesig verstrak vir ’n rukkie voor dit weer binne enkele sekondes verander na een van pure geluk.
“Maar wat vir my een van die beste herinneringe was, was toe ek twee weke gelede op die Kaapstadse lughawe kom en sien hoeveel mense daar is wat my ondersteun. Ek kon my oë nie glo. Ek het altyd geweet ek het lojale ondersteuners en mense wat in my glo, maar nooit sou ek kon dink dat so baie mense in my glo, ondersteun en trots is op my nie. My ou- pa was so gelukkig en het splits gedoen voor die mense. Hy hou daarvan om my verleë te laat voel, maar dis iets goed.”
Op die vraag oor wie sy rolmodel in die atletiekbedryf is, antwoord Luke eerlik: “Ek het nie een nie. Baie mense maak vergelykings tussen my en Usain Bolt, maar hy is nie my rolmodel nie. Ek hou baie van die selfvertroue wat hy het voor en ná races en dis wie en wat ek streef om te wees. Wayde van Niekerk inspireer my ook, maar hy is ook nie my rolmodel nie. Hy het my die ander dag ’n boodskap gestuur om te sê hy is trots op my en dat ek moet aanhou om ons land te verteenwoordig en trots te maak. Ek het baie goed gevoel ná die boodskap.”
Ons vra of hy sy vriende wil roep om saam met hom ’n foto te kom neem. “Asseblief. Hulle sal so opgewonde wees.”
Hy gaan haal hulle en hulle kom laggend teruggestap. Luke is pure kind. “Dis my vriende – net hulle. Ons is elke dag saam.” Hulle begin opgewonde om Luke saamdrom en kort voor lank begin die vriende luidrugtig gesels en grappies maak.
FAMILIE SE TROTS
Oral in hul huis pronk daar ’ n foto of sertifikaat van Luke teen die muur. Hy wys trots sy trofeë en medaljes. “Dis al die goed wat ek al gewen het. Ek oefen vier dae ’n week, maar al is ek trots op myself is my hoofdoel om altyd nederig te bly. Ek wil ’ n rolmodel wees vir die kinders in my gemeenskap en ek wil vir hulle wys mens kan na baie meer streef.”
Celeste Davids (38), Luke se ma en ook ’n polisievrou by die Belhar-polisiestasie,
vertel trots dat Luke van kleins af vol energie was en dat hy weinig geloop het.
“Luke was nog altyd ’ n energieke seun. Ek kan regtig nie onthou of hy ooit geloop het nie oor hy altyd gehardloop het. Selfs nou as hy by die huis is, is hy altyd op ’n drafstappie, altyd haastig. Vandat ek kan onthou, is hy iemand wat baie respek gehad het vir ander en hy is baie oor sy familie.”
Dié enkelma raak emosioneel as sy praat oor hoe sy voel as haar seun koning kraai op die baan. “Wanneer Luke die eindstreep oorsteek, word ek baie emosioneel, nie omdat hy voortdurend uitmuntend presteer nie, maar eerder oor die feit dat hy ten spyte van al die struikelblokke wat hy tot dusver in sy lewe moes deurmaak, seëvier hy deur die genade van God op die baan.”
Oor ondersteuning en motivering sê Luke: “My ma is een van my grootste ondersteuners en tussen haar en my coach, Nathan van Wyk, is daar altyd vreugde en motivering. Hier in Belhar kyk die mense uit vir my en hulle sal my altyd waarsku om nie met ongure karakters en dinge betrokke te raak nie. Ek weet ek gaan hulle sommer nog baie trots maak!”
Wat is volgende op die lys vir ons jong blits? “Ek gaan volgende jaar ’ n chilled seisoen hê en in 2020 gaan ek aan die IAAF World U20 Championships deelneem. En wanneer ek my matriek klaarmaak, gaan ek sport science aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. Alles is reeds uitgesit, ek moet net slaag.”
Ons kan nie wag om te sien watter eindstreep dié spoedvraat volgende gaan oorsteek nie!