Kuier

Kortverhaa­l

Abigail se ouma is haar alles en sy is bekommerd oor haar gesondheid. Nou is broer George van die kerk ook nog in die prentjie . . . deur allison matroos

-

Abigail voel iemand kap-kap aan haar. Sy draai om en slaap verder. Die gekappery hou nie op nie en ruk haar uit haar slaap uit. Toe sy haar oë oopmaak, besef sy dis haar ouma Angie wat langs haar lê wat so aan haar kap. Sy is al effens pers in die gesig en soek na asem. Abigail soek rond vir die asmapompie en kry dit op die grond. Sy hou dit voor haar ouma se mond. Nadat ouma Angie haar heup gebreek het, kan sy nie meer so goed beweeg nie.

Ouma Angie kry asem, maar Abigail bel in elk geval die ambulans. Die ambulans vat net 10 minute, maar vir Abigail voel dit soos ’ n ewigheid. By die daghospita­al help hulle haar ouma dadelik en die verpleegst­er gee haar suurstof.

Later kan die ambulans hulle nie weer huis toe vat nie en ouma Angie sê vir Abigail om vir broer George van haar kerk te bel en te vra om hulle te kom haal. “Dis laat, maar hy sal nie omgee nie,” sê haar ouma. Abigail wonder oor dié twee, want ouma Angie en broer George kuier al hoe meer by mekaar.

Toe broer George hulle by die huis aflaai, is Abigail doodmoeg en sy gaan slaap dadelik.

Die volgende oggend skrik sy verward wakker. Sy vryf haar oë. Sy hoor stemme in die kombuis, maar dit kan nie wees nie. Dis dan nog douvoordag. Sy skud haar kop as sy dink aan haar ouma wat net nie dinge rustig sal vat soos die dokter gesê het nie. Abigail gaan tap water in ’ n kommetjie. Sommer koue water, want sy brand van nuuskierig­heid om te weet wie by haar ouma in die kombuis is.

Haar ouma kraai van die lag, maar toe sy haar in die deur sien staan, sluk sy dit.

“Môre, kindjie. Het ons jou wakker gemaak?” vra haar ouma.

“Nee, Ouma,” jok sy en kyk af. “Môre, broer George,” groet sy haar ouma se geselskap en wonder wat klap dat hulle so vroeg soos ou vriende kuier. “Môre, Abigail. Pragtige oggend, nè?” Seker omdat jy so diep in my ouma se kombuis sit en diep in haar oë kyk, dink sy, maar glimlag net. “Ek gaan nie eet nie, Ouma. Dis al amper halfag en ek gaan laat wees as ek nie nou loop nie. Die hoof het gesê hulle gaan van vandag af die hek sluit vir laatkommer­s.”

Sy stap skool toe en wonder wat tussen haar ouma en die kerkbroer broei. Hy kom ál meer daar en haar ouma lag heeltemal te hard vir sy simpel grappe. Daar is iets omtrent hom wat haar ongemaklik laat voel. Dalk is dit sy bles. Dit blink te veel so asof hy dit met baba-olie polish.

Abigail wag vir Jenny, haar beste vriendin, wat by hul deur uitkom en by die trappe af loop by die Dura flats. Sy besluit om vir Jenny oor broer George te vra, want hulle is in een kerk. “Wat dink jy van broer George?” “Die een in ons kerk? Hoekom? Ek stel nie belang in mense oor die muur nie.”

“Nee, man, nie só nie. Is hy ’ n ordentlike man? Ek dink hy smaak my ouma.”

“Gross. Maar ja, hy is oukei. Ek het gedink hy is gay actually.”

“Duidelik nie,” sê Abigail en hulle praat verder oor die eksamen wat kom.

Die middag val Abigail amper op haar rug toe sy sien broer George is steeds waar sy hom die oggend gelos het. Haar ouma kom aan en druk haar so styf dat sy vir ’ n splitsekon­de half paniekerig raak.

Haar ouma fluister saggies in haar oor: “Kom sit, Ouma wil met jou praat.” Sy gaan sit by die tafel. “Abi, jy is nou al mooi groot en jy weet jy is die belangriks­te mens in my lewe.” Sy knik haar kop en wag vir haar ouma om verder te praat. “Ek en broer George het gevoelens vir mekaar en ons sien mekaar nou al ’ n tydjie.”

Sy neem haar ouma se hand in hare. “Dis awesome! Ek is baie bly vir julle.”

“Dankie, blom. Ons beplan om die dertiende te trou. Desember.”

Abigail voel hoe haar gesig bleek word. Dít het sy nie verwag nie. Dit kan nie wees nie! Haar ouma ken nog nie eens die man reg nie. Sy sê dan reeds vir haar ’ n mens ken nie iemand regtig as jy nog nie met hulle gebly het nie.

Sy spring op. “Nee, Ouma! Dis te gou. Dis dan volgende maand!” Sy storm uit en klap die kamerdeur toe.

“Ek het gedink jy sal bly wees vir my. Jy weet ek is lonely,” sê ouma Angie sag, maar Abigail hoor dit nie.

Abigail hyg na asem en gaan lê op haar rug in haar en haar ouma se kamer. Sy staar na die dak asof die dak vir haar gaan antwoorde gee. Wat gaan van haar word as haar ouma trou? Moet sy dan in die voorkamer gaan slaap? Dis nie asof hulle ’n groot plek het nie. Daar is nie eens plek vir ’n mier in die flat nie.

Haar ouma verdien regtig geluk, maar om te trou! Dis . . . Dis . . . Sy kan nie aan ’n woord dink nie, maar sy weet net dis nie reg nie. Maar miskien is broer George die een vir haar ouma. En wat gaan van haar ouma word as sy eendag moet weggaan om te studeer? Sy tel stadig tot by tien en gaan terug kombuis toe.

Haar ouma sit met haar gesig in haar hande. Broer George se arm is om haar skouers. Abigail voel sleg dat sy die oorsaak is dat haar ouma só lyk. Haar ouma was nog net goed vir haar.

Sy gaan staan agter haar ouma en vryf haar rug. “Ek is jammer, Ouma. Die nuus was baie onverwags. Ek het geweet daar broei iets tussen julle twee, maar ek het nie geweet dis so ernstig nie. Ek besef dat Ouma al groot is en nie my toestemmin­g nodig het nie. Ek is selfsugtig. Ek is net geworried oor wat van my gaan word. Oums is die enigste een wat ek het. Ek wil Ouma nie verloor nie.”

Haar ouma staan op en druk haar weer styf vas. Sy neem haar gesig in haar hande en kyk diep in haar oë.

“Abigail, jy moet nooit vergeet hoe baie ek jou liefhet nie. Ek sal nooit iets doen wat jou sal benadeel nie. Ons beplan reeds om Desember te trou sodat jy eers aan die idee van ons twee saam gewoond kan raak, want soos ons nou voel wil ons vandag al trou.” Sy sien haar ouma is regtig gelukkig. “Abigail. Ek belowe dat ek niks anders sal doen as om jou ouma te koester nie. En jy sal altyd heel bo aan ons lys wees,” sê broer George vir die eerste keer iets.

Ouma Angie en broer George kom nader en hou haar vas. Sy dink aan hoe haar ouma amper die vorige aand gesterf het en hoe kort die lewe is. Terwyl hulle haar omarm, besef sy dat ’n mens nooit te oud sal wees om ware liefde te vind nie. Sy skiet ’n dankgebedj­ie op dat haar ouma uiteindeli­k haar pot se deksel gevind het.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa