Susterliefde: Hullewensdraaiomgestr emdesus
Nadat sy tragies haar baba verloor het, het sy boonop breinskade opgedoen. Daarna sou sy nooit weer dieselfde mens wees wat haar susters geken het nie. Maar hulle sal nooit haar sy verlaat nie.
Op 36 het Felicity Abdol van Eersterivier in die Kaap se hele lewe voor haar gelê. Sy het ’ n goeie werk as administratiewe klerk gehad; was pasgetroud en die kersie op die koek was toe sy ook swanger word met haar eersteling. Wat meer kon sy van die lewe vra?
Maar die swangerskap het Felicity (nou 41) en haar familie se lewe onherroeplik verander – en nie op die manier wat hulle gedink het nie . . .
Iets drasties het verkeerd gegaan en vandag lê ’n gestremde Felicity vasgekluister aan ’ n bed in haar suster, Cathy Jansen (49), se huis in Eersterivier, sonder die vermoë om te praat of enigiets vir haarself te doen. Dit is nie hoe haar sprokieslewe wat sy net vyf jaar gelede nog gehad het, behoort te lyk nie.
In 2013, toe Felicity op haar gelukkigste was, het ’ n gewas op haar baarmoeder amper haar lewe geëis. Felicity het haar ongebore baba verloor en dokters het haar familie laat roep om haar te groet. Hulle het min hoop vir haar gehad.
Toe gebeur die wonderwerk – Felicity het oorleef, maar sy was ’ n skadu van die vrou wat sy was. Sy was in ’ n vegetatiewe toestand en haar man kon dit nie vat nie.
Hy het die pad gevat; die troubelofte van “in sickness and health” klaarblyklik vergete, maar Felicity, die jongste van vier susters, is geseën met susters wat haar nog altyd met alles in hulle beskerm het. Hulle doen dit steeds, maar deesdae ver- sorg hulle haar ook omdat sy dit nie meer self kan doen nie. Dit kom teen ’n prys – finansieel en emosioneel – en het ’n impak op hul eie gesinslewens, maar hulle sal Felicity nie versaak nie. Sy is hul suster en dis hul susterliefde, hul hegte band, wat Cathy, Theresa Julies (42) en Rosaline (46) van Saldanha (aan die Kaapse Weskus) berge sal laat versit vir Felicity, hul baby suster.
BEGIN VAN DIE EINDE
Dis ’ n pragtige somersdag in November toe ons met Cathy en Theresa gaan gesels. Die gemoed in die huis is vrolik en dis moeilik om te glo hierdie mense gaan deur diep waters. Hoe moeilik dit ook al is, vertel hulle hul storie, want soos hulle dit sien, fight Felicity nog elke dag en dít gee hulle moed en krag.
Felicity se susters vertel dinge het begin skeefloop, skaars vier maande nadat Felicity uitgevind het sy is swanger. Sy het toe komplikasies begin ervaar en het voor dit reeds pyn gehad, só erg dat sy soms flou geword het, maar niemand kon dink dat dit só ernstig was nie. Sy is uiteindelik met fibrome (veselagtige gewasse) in haar baarmoeder gediagnoseer, maar omdat sy swanger was, kon dokters niks vir haar doen behalwe pynmedikasie voorskryf nie.
Op die aand van Woensdag 17 Desember 2013 is Felicity opgeneem in die hospitaal. Die groeisels het lewensbedreigend geword – nie net was die baba aan die groei nie, maar die fibrome ook.
“Dokters het verduidelik hulle sal die baba moet aborteer en die groeisels uitsny omdat dit haar lewe bedreig het. Die baba was reeds ernstig misvorm omdat daar nie genoeg plek in haar baarmoeder was om te groei nie,” vertel Theresa.
Hulle het besluit om die operasie die volgende oggend te doen, maar gedurende die loop van die aand het die druk op Felicity se baarmoeder te groot geword en dit het geskeur.
Toe die familie hoor sy is opgeneem in die hospitaal, het almal hulle daarheen gehaas. “Ek kon sien sy (haar swanger maag) was nie so groot voor die naweek nie, maar toe ek daar aankom, was sy letterlik opgeswel van onder haar bors af, so groot het die fibroom gegroei in daai tyd. Sy was stokstyf en kon nie asemhaal nie,” onthou Cathy.
Teen die tyd dat verpleegpersoneel hul rondtes die volgende oggend gedoen het, was daar reeds bloed in Felicity se maag. “Gedurende die noodoperasie het sy reeds twee-derdes van haar bloed verloor en het dadelik ’n bloedoortapping benodig. Haar liggaam het later die aand in skok gegaan, haar longe het platgeval en haar hart het vir nege minute gestop en haar brein het geen suurstof ontvang nie, wat ernstige breinskade veroorsaak het,” vertel Theresa, met oë blink van die trane.
Die familie was in skok, want hulle het nie geweet haar situasie is so ernstig
Ons kon nie mooi verstaan wie ons gaan huis toe vat nie – dat Felicity nie weer sal praat nie en bedlêend is. THERESA JULIES
nie. Selfs hul ergste nagmerries kon hulle nie voorberei op hul suster se toestand nie. “Sy was op ’n ice pack, aan ’n klomp pype gekoppel, onder meer suurstof omdat haar longe platgeval het, op life support en in ’n koma omdat dokters haar moes resuscitate,” onthou die susters.
Dokters het Felicity in ’n geïnduseerde koma gesit terwyl die familie dag en nag by haar gewaak het, onseker oor wat die toekoms sal inhou. ’n Paar dae ná die amper-noodlottige operasie, op Sondag 22 Desember 2013, het die hospitaal die familie ingeroep. Hulle wou haar van die life support masjiene afhaal om te kyk of sy op haar eie kan asemhaal. Dokters was egter nie baie optimisties nie. “Hulle het gesê as sy nie op haar eie kan asemhaal nie, gaan hulle haar nie weer resuscitate nie,” verduidelik Cathy.
Die familie het ’n warboel van emosies ervaar. “Dit was so devastating en so shocking. Ons het nie geweet wat om te expect nie. My ouers kon glad nie een en een bymekaarbring nie. Dit het net nie vir hulle sin gemaak dat Felicity amper fine was toe sy ingekom het en nou dít, net ’n paar dae later, nie. Jy het nog gister met haar gepraat en nou moet jy deal met die feit dat sy kan doodgaan,” meen Theresa.
Cathy het buite die hospitaalkamer saam met haar pa sit en wag – hulle twee se harte kon die oomblik nie verduur nie. Theresa was aan Felicity se sy saam met ’n paar ander familielede om by haar te wees in haar laaste oomblikke. “Jy verstaan dit nie. Dis nie jou suster nie. Die persoon wat daar lê, is vreeslik opgeswel, lê net daar. Jy hoor net die masjiene tiek en die asemhaling en jy weet nie of sy gaan wakker skrik of nie.”
’N ANDER LEWE
Maar wonder bo wonder het sy nie ophou asemhaal nie. “Hulle het die masjiene afgesit, die tube uitgehaal en Felicity het aanhou asemhaal!” onthou Theresa opgewonde. Hul kleinsus het oorleef! Tog was sy reeds in ’n vegetatiewe toestand. Die breinskade was onomkeerbaar. Felicity sou nooit weer enigiets vir haarself kon doen nie – nie eet, beweeg of selfs praat of toilet toe gaan nie. Sy sal nooit eens vir haar suster, Cathy, wat haar lewe opgeoffer het om haar soos ’n baba te versorg, of vir haar ander susters Theresa en Rosaline, wat nog altyd daar was om te help, “dankie” kan sê nie.
“God het die ding laat plaasvind – daar is ’n rede hiervoor,” meen Cathy.
Felicity het vir die eerste keer weer haar oë oopgemaak op Kersdag, 25 Desember 2013. Volgens die verpleegpersoneel het sy geglimlag toe sy wakker word, maar het daarna iets gesien of besef en toe net begin skree. Kort daarna het sy weer haar oë toegemaak.
“Ons het nie geweet of sy uit die koma uit is of nie. Sy het nou en dan haar oë oopgemaak, maar sy was nie heeltemal daar nie en sy het nooit weer gepraat nie. Sy het net moan-geluide gemaak, gehuil en geskree, soos iemand wat rou oor iets,” onthou Theresa.
Op daardie stadium het die gesin begin besef die Felicity wat hulle ken, bestaan nie meer nie. “Ons kon nie mooi verstaan wie ons gaan huis toe vat nie – dat Felicity nie weer sal praat nie, bedlêend is en dat sy net daar gaan lê sonder dat jy weet of sy wakker is of nie. Sy het ook begin seizures kry.”
Die susters moes ook hard werk om hul ouers te help verstaan. Veral haar pa kon nie aanvaar of verstaan hoe die dokters sy dogter wou huis toe stuur as sy dan nog nie gesond was nie. Die gesin het kort ná die voorval ’n saak van nalatigheid teen die hospitaal aanhangig gemaak, maar dit is steeds aan die gang.
Die spanning, finansiële las en duister toekoms was te veel vir Felicity se man en hy het kort ná haar tragedie, in Februarie 2014, die pad gevat. Dit was nóg ’n slag vir die gesin, want hulle is grootgemaak om bymekaar te staan – deur dik en dun.
Die susters het egter dadelik ingespring en verantwoordelikheid gevat vir Felicity se lot. “Iemand moes die leisels
Emosioneel was dit net te erg vir ons pa en hy het sedertdien ’n hele paar beroertes gehad. Hy en Felicity was baie na aan mekaar. CATHY JANSEN
vat en ons het,” sê Cathy. Die vier susters was altyd baie na aan mekaar en Felicity is die baby. Die ander was altyd ’ n bietjie beskermend oor haar. “Felicity is ’ n introvert van nature, maar sy het ook haar outspoken moments. Sy is ’ n team player, behulpsaam en ’ n girly-girl – die tipiese girl-next-door,” vertel Theresa. Nou was sy amper soos ’ n lappop in ’ n bed, maar met skree-buie wat vir ure kon aanhou. “Ons het haar vir ’ n rukkie in ’ n tehuis in Bellville gehad, maar die kostes het te hoog geword, want dis nie net verblyf nie, maar doeke, medikasie, kateders en goed wat gekoop moes word,” verduidelik Theresa. Hierna het sy weer in haar ouerhuis gaan bly en die gesin het sente bymekaargeskraap vir voltydse oppassers om haar te versorg. “Die spanning was te veel vir ons ouers. Hulle was pensionarisse en dit was te moeilik vir hulle om hul jongste dogter só te sien veral omdat sy op daardie stadium nog baie geskree het. Niemand kon huis hou nie. Selfs bure het begin kla, want dit was deur die nag ook. Jy probeer alles – jy maak haar droog, jy draai vir haar om, niks help nie en jy weet ook nie meer wat dit is wat haar so laat skree nie of wat om te doen nie. Emosioneel was dit net te erg vir ons pa en hy het sedertdien ’ n hele paar beroertes gehad. Hy en Felicity was baie na aan mekaar,” sê Cathy afgetrokke.
GROOT DRUK
Hierdie uitmergelende emosionele situasie het so baie druk veroorsaak dat die beroertes haar pa in amper dieselfde toestand as Felicity gelos het. Cathy dink Felicity weet dít en dat dit haar hart nog verder in stukkies breek.
As kinders het die gesin Riversdal toe gegaan vir Kersvakansies en verlede jaar het haar pa, wat deesdae baie deurmekaar raak, in Felicity se kamer ingestap en gesê sy moet goed slaap, want hulle ry die volgende oggend vroeg. “Sy het net vir hom gekyk terwyl die trane by haar wange afgerol het,” onthou Cathy.
In hierdie tyd was Felicity ook gereeld in en uit die hospitaal omdat haar liggaam besig was om agteruit te gaan. Haar immuunstelsel het verswak en sy het maklik siek geword. Haar spiere het ook begin saamtrek en optrek en só gebly. Dit is juis tóé, in 2016, dat Cathy besef het die enigste opsie was vir haar en haar man, Johannes (50), om vir Felicity in te neem met ’ n voltydse oppasser. Sy en Theresa, wat meeste naweke vir Felicity versorg, moes maar hulself leer hoe om na Felicity om te sien. Gelukkig is Cathy se stiefdogter, Vicky, ’n carer en dié het haar ook touwys gemaak.
Felicity moet elke drie ure deur ’ n buis gevoer word. Sy kan nie haar liggaam beweeg nie, sy kan net lê. Daarom moet sy ook gereeld gedraai word om bedsere te vermy. Sy moet ook gewas en aangetrek word.
VORDERING
Vandag is dit al amper vyf jaar later. “Ek onthou daai tyd het ons gedink sy gaan altyd net daar lê. Daar is ’ n baie groot verskil van waar Felicity was, tot nou,” vertel Cathy trots. Selfs emosioneel, voel hulle, was daar ook ’ n baie groot verbetering. Felicity het nie meer skree-buie nie.
“Sy het baie gevorder in die afgelope vyf jaar. As jy nou haar doek omruil, kan sy haar lyf effens oplig. Sy kan ook nou haar mond en oë self oop en toemaak wanneer jy haar gesig was. Die motoriese goed kan sy nie meer doen nie, maar sy verstaan, sy herken jou, mentally is Felicity heeltemal hier,” verduidelik Theresa.
“Ja,” beaam Cathy, “ek kyk baie keer net vir haar en wonder wat gaan gebeur as ek by haar kom en sy is nie meer daar nie. Wat gaan ek dan maak?”
Tog gaan dit steeds raap en skraap, want hoewel Felicity steeds haar salaris van destyds ontvang, is dit maar min en die susters sukkel al vyf jaar onverpoos om haar by SASSA geregistreer te kry.
Felicity sal baie baat by fisioterapie, maar die gesin kan dit net nie bybring nie. Hulle soek steeds ’ n plek vir haar in ’n oord, maar dit is duur en hulle wil nie hul geliefde babasussie in sommer enige plek sit nie.
“Sy moet 24 uur versorg word en geen mens is superwoman nie. Jy het relief nodig. Dit beteken ons het nog carers nodig of sy moet by ’n instansie wees. Die grootste probleem is net die finansies,” verduidelik Theresa.
“Jy plaas jou hele eie lewe on hold en dinge begin agteruitgaan. Jou tyd vir jou familie raak minder, want jy het nou meer verantwoordelikhede. Alles moet beplan word rondom Felicity. Haar sorg kry voorkeur bo alles anders.”
Tog gee die susters glad nie om om dit te doen nie. “As ek na haar kyk dan dink ek net, wat ook al die lewe jou kant toe gooi, jy sal dit kan hanteer. Sy is die bewys daarvan. Sy het haar toestand aanvaar al het sy haar kind, haar man en haar lewe verloor. Sy kry dit reg om te glimlag en aan te gaan,” sê Theresa trots.
Onlangs terwyl Cathy doenig was in die huis, het Felicity lê en radio luister.
“Meteens hoor ek sy huil so hartstogtelik. Toe sê ek vir haar, ‘nee man, dis orraait’. ’n Ander keer het sy in die kar ook so begin huil op pad van die hospitaal af. Ek kon my net indink wat deur haar kop gaan – ‘ek is ’n las vir my mense’. Sy dink baie, maar sy kan dit nie uiter nie. Al met wie sy kan praat, is God,” meen Cathy.
Terwyl die susters sit en gesels oor hul soeke na die ideale plek, begin Felicity uit haar kamer kerm en kla.
“Toemaar, jy gaan nêrens nie,” paai Cathy, “ek het jou mos belowe ek sal vir altyd na jou kyk. As ek nie vir jou ’n plek kan kry wat soos die huis is nie, bly jy net hier. Jy hoef nie te worry nie.”
En dan raak dit weer stil en rustig, want Felicity weet, haar susters het haar onvoorwaardelik lief, deur dik en dun.