Kuier

GERUK DEUR GEWELD

-

Van vorige bladsy

liefde gekry waarna hy gesoek het. Hy was geheg aan ons,” vertel oom Henry sonder ’n sweem van veroordeli­ng.

“Cynthino was ’n mensekind. Ek sal hom stuur om krag te koop by die spaza (winkel) en as hy nie daar kry nie, sal hy nie ophou soek nie. Sommige dae soek ek hom dan doen hy ’n guns vir die bure.” Oom Henry praat van Cynthino in die teenwoordi­ge tyd, so asof hy steeds hier is. Hy begin saggies lag en sy gesig helder opnuut op wanneer hy dié van Cynthino onthou: “Hy het amper ’n sintuig gehad van wanneer sy ouma gaan kos skep.” An’ Maticia lag en voeg by: “Hy het van enige kos gehou, veral breyani.”

“Cynthino was gelukkig toe hy hier kom bly. Sy skoolwerk het ook baie verbeter en sy laaste (Junie 2018) rapport was baie mooi. By die skool het hulle gekla hy is nie netjies nie, maar by ons was hy skoner. Ek was ook sy barber,” onthou oom Henry trots.

Dan sak sy gesig wanneer hy byvoeg die Saterdag van Cynthino se dood sou hy nog sy hare gesny het. Oom Henry kyk weer af na Cynthino se goudgeel speelkarre­tjie in sy hand en draai dit in die rondte.

An’ Maticia, wat die minste praat, voel aan dat sý nou die sterk een moet wees en vertel in ’n sagte stem dat Cynthino “my maatjie was”.

“Hy het elke Saterdag saam met my geloop na my familie in Chicago toe. Daai oggend (van sy dood) het hy egter saam met sy maatjies verdwyn. Ek het hom gaan soek, maar nie gekry nie.”

VIR ALTYD WEG

Cynthino se maatjies het dieselfde oggend vertel hy is met ’n mes gesteek. Rishaunn het by hom agtergebly. Oom Henry, ’n buurman, Ilse en haar ander seun, Jumay (15), het hulle na die landjie gehaas waar Cynthino-hulle gespeel het.

Oom Henry sê sag: “Toe ek daar kom, toe lê my kind daar . . .”

Die trane loop oor Ilse se wange en haar gesig vertrek van die pyn wanneer sy daardie oomblik onthou, wat sy wens nooit gebeur het nie.

“Rishaunn het met Cynthino in sy arms gesit. Toe ek nog op pad was (na die toneel), kom Rishaunn huil-huil aangehardl­oop en sê, ‘Cynthino is nie meer daar nie’. Sy tongetjie was al spierwit (toe ek by hom kom). Hy het ’n merkie op sy hart gehad en daar het net ’n klein bietjie vetjies uit sy wond gekom, het ek gesien toe ek sy hempie oplig.”

Toe meer details oor hoe Cynthino dood is bekend word, het dit almal diep geskok. “Om te hoor die kind wat hom gesteek het, is 13 was ’n skok. Ek was geskok om te hoor ’n kind van daai ouderdom loop met ’n mes (rond),” sê oom Henry in ongeloof.

Jessica Shelver, woordvoerd­er vir die Wes-Kaapse onderwysde­partement (WKOD), sê by navraag hul departemen­t betreur die voorval en het hul medelye met Cynthino se familie, vriende en skoolgemee­nskap uitgespree­k. Sy kon nie meer oor die voorval sê nie omdat dit nie in skooltyd en op skoolgrond­e gebeur het nie.

Jessica sê wel: “Dit is belangrik dat ouers ook ’n rol speel om te verseker dat hul kinders hulself gedra en op maniere optree wat nie verwoesten­d of gewelddadi­g is nie. Ongelukkig lewe ons in ’n samelewing waar bende-aktiwiteit­e en mishandeli­ng hoog is in sommige gemeenskap­pe. En dié tipe gedrag kan leerders affekteer – nie net in terme van geweld nie, maar trauma ook, wat hul studies en geleenthed­e kan affekteer.”

En Ilse is juis dood bekommerd oor

veral Rishaunn wat so ’n hegte band met Cynthino gehad het en in wie se arms Cynthino uiteindeli­k gesterf het.

Haar seun se skoolwerk gaan agteruit, sê Ilse. Haar stem is naby breekpunt wanneer sy sê: “Rishaunn sê hy mis hom (Cynthino). Hulle was baie lief vir mekaar. Rishaunn wou nie eens meer aan die derby of (skool-)konsert deelneem nie, want Cynthino is nie daar nie.”

Ilse se pogings om haar emosies te beheer is tevergeefs en dis soos ’n damwal wat breek wanneer sy huilend sê, “saans met opskeptyd mis ek hom die meeste. Hy het ook elke aand met my meisiekind pop gespeel”.

BY DIE SKOOL

Dis nie net in Cynthino se huis waar hy ’n groot leemte gelaat het nie. Sy skoolhoof by Dalweide Primêre Skool, mnr. Chris Bam, en sy graad drie-klasonderw­yser, Adéle Louw, sukkel steeds om sy skokdood te verwerk. Maar hul pligte as onderwyser­s vereis van hulle om die trane af te vee omdat die ander kinders hulle nodig het. Nie net met hul skoolwerk nie, maar om hulle ook te help sin maak van wat met hul skoolmaatj­ie gebeur het. Die oomblik toe mnr. Bam hoor van Cynthino se dood, het hulle oom Henryhulle bygestaan en onder meer vir berading vir die familie gereël en het ook die koste van sy begrafnis gedra. Met ’ n besoek aan Dalweide Primêr is die gemoed somber wanneer ons oor Cynthino praat. “Cynthino was baie in my kantoor vir wangedrag, maar ons het verstaan die konteks van waar dit kom. Toe ons die Maandag (ná sy dood) by die skool kom en die omstandigh­ede hoor, het dit ons geskok. Want daar was niks wat vooraf gebeur het nie; dit was ’n sinnelose daad,” sê mnr. Bam. Hy sê voorts hulle moes baie gesprekke met die leerders hê, want hulle verstaan nie wat gebeur het nie. Die WKOD het leiding aan die personeel verskaf en die belangriks­te was dat die leerders moes sê hoe hulle voel, sê hy. Cynthino se klas- maats het briefies aan hom geskryf om te sê hoe hulle voel.

“Wat met Cynthino gebeur het, was ’ n eye-opener vir baie mense. Hy het meer liefde en beskerming nodig gehad. Ons skool moet ’ n plek wees waar kinders veilig voel, so ook die huis. Ons word gekonfront­eer met kinders wat kennis dra van bendes, dwelmmisbr­uik, ’ n tekort aan rolmodelle en (van) hulle kom skool toe sonder ’ n behoorlike waardestel­sel. Ons invloed is altyd beperk as ’ n kind uit so ’ n samelewing kom,” sê mnr. Bam.

In Cynthino se klas, sukkel Adéle om die trane terug te hou. Sy het steeds ’n foto van Cynthino in die klas en sê sy maak ’ n punt daarvan dat Cynthino se klasmaats nie sy opgewekte gees vergeet nie. Sy vang haarself ook nog baie keer dat sy Cynthino se naam noem. Maar sy is veral hartseer dat hy nooit die geleenthei­d gekry het om François Bloemhof se gedig “Batman-medisyne” op 7 Augustus 2018 by die Eisteddfod te kon opsê nie, want hy is twee weke vantevore vermoor.

Adéle begin huil voor sy haar volgende sin kan voltooi. In ’ n gebroke, hees stem, kry sy uiteindeli­k uit: “Ek het gedog die trane is op; dis ’ n baie rou gevoel. Cynthino het só uitgesien na die Eisteddfod, want ek dink nie in sy lewe het hy uitgestaan nie en om op daai verhoog te kon staan, was ’ n manier vir hom om uit te staan en raakgesien te word.”

Toe sy klasmaats in ’ n koor van die soetste kinderstem­me “Batman-medisyne” opsê, tref Cynthino se sinnelose dood jou soos ’ n vuishou in die maag. Want hy sou dit met dieselfde opgewonden­heid opgesê het, al die aandag op hom met sy oupa-hulle en klasjuffro­u in die gehoor wat trots toekyk.

Maar dié oomblik was nooit vir hom beskore nie, want ’ n sinnelose daad het sy jong lewe van hom af weggeruk en laat sy familie met verlange oor alles wat kon wees . . . En dit laat ons samelewing met die vraag: Wat gaan ons doen om so ’n tragedie in die toekoms te vermy?

Sy tongetjie was al spierwit. Hy het ’n merkie op sy hart gehad en daar het net ’n klein bietjie vetjies uit sy wond gekom. HENRY SAAL

 ??  ?? VAN LINKS: Cynthino se antie, Ilse Gouws, oupa Henry en ouma Maticia Saal is gebroke ná sy dood.
VAN LINKS: Cynthino se antie, Ilse Gouws, oupa Henry en ouma Maticia Saal is gebroke ná sy dood.
 ??  ?? Chris Bam, skoolhoof by Dalweide Primêr waar Cynthino in graad drie was, praat oor die seun.
Chris Bam, skoolhoof by Dalweide Primêr waar Cynthino in graad drie was, praat oor die seun.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa