Kuier

’ N NUWE BEGIN

Tammy en Donny moet deal met hul ma se dood en ’n nuwe skool. Maar wat as Tammy weer geboelie word soos by hul vorige skool?

- DEUR NICOLETTE FOULDIEN

Tammy se oë fladder verward oop. Haar maag maak ’n draai as die slaapnewel­s wyk en die onthou kom. Donny buk bekommerd oor haar. “Is jy all right, Tammy?” Sy staar lank na hom voor sy antwoord. “Nee, Boeta. Ek is bang. Ek wil terug huis toe gaan.”

Donny gaan sit langs haar op die bed en trek haar kop teen sy skouer. Hy is net twee jaar ouer as sy veertienja­rige sussie, maar hy voel soos ’ n ou man met hope probleme.

“Ek weet, Sus, maar jy hoef nie bang te wees nie. Ek sal daar wees. Onthou, ek het vir Mammie belowe ek sal na jou kyk.” Tammy knik.

“Ja, Boeta, ek weet, maar jy kan my nie die heeltyd oppas nie. Sê nou die kinders boelie my hier ook soos by ons ou skool? Ek wil nie skool toe gaan nie!” Haar stem bewe en sy wil-wil huil.

“Tammy, jy weet ons kan nie teruggaan nie. Mammie is nie meer met ons nie. Ons moet nou hier by Daddy bly.”

Donny voel moedeloos. Hoe troos jy iemand as jy self bang en onseker voel? Hoekom moes hul ma ook nog doodgaan? Het hulle dan nie reeds swaar genoeg gehad nie?

Op ’ n manier was hulle tog so ’n bietjie gelukkig, al het die kinders hulle by die skool geboelie omdat hulle arm was en in ’ n sinkhuisie op Riemvasmaa­k gebly het. Toe gaan hul ma dood en hul ouma kry ’ n stroke en moes ouetehuis toe.

Nou woon hulle by hul vervreemde pa, sy vrou en hul tweejarige seun. Hulle sukkel om aan te pas. Alles is vreemd. Die dorp, die mense, die huis waarin hulle bly, hul pa wat hulle net ’n paar keer in hul lewe gesien het. Donny sug swaar.

Daar is ’ n klop aan die deur voor dit oopswaai. Suzie, hul stiefma, verskyn in die deur. Sy glimlag.

“Môre. Julle moet wikkel. Ek sê nou vir jul pa ek sal saam met julle skool toe stap. Ek wag vir julle in die kombuis. Jul ontbyt word koud,” por sy hulle aan. Albei knik stom. Donny druk Tammy se skouer bemoedigen­d. “Kom Sus. Dit gaan nie help as ons laat kom op ons eerste skooldag nie.”

Suzie stap saam tot by die skoolhek. Klein Luke sit op haar heup en brabbel vrolik. Suzie draai na Donny en trek sy

Hy sug swaar. Die geboelie by hul vorige skool het van Tammy ’n wrak gemaak.

skoolhemp se kraag reg en vee dan Tammy se hare plat.

“Jy lyk baie smart in jou uniform, Donny.” Hy prewel saggies ’n dankie.

“En Tammy, ek weet jy gaan vandag sommer klomp nuwe maatjies maak. Bly net weg van die seuns af,” skerts sy om die mood te lig.

Tammy probeer glimlag, maar sy kry net ’ n awkward trek op haar gesig. Sy weet Suzie probeer haar bes om hulle te laat tuis voel, maar sy is en sal nooit haar ma kan wees nie. Sy verlang na haar eie ma! Sy wil nie hier wees nie. Trane skiet haar oë vol. Sy sien skaars hoe Luke vir hulle waai toe hulle deur die skoolhekke stap. Haar gemoed is swaar en dit voel of sy ’ n oorlogsone betree.

“Sus, dit gaan oukei wees. Ek belowe,” troos Donny vir oulaas.

Hy sug swaar. Die geboelie by hul vorige skool het van Tammy ’ n wrak gemaak. Die skoolklok lui voor hy enigiets verder kan sê. Hy druk vinnig haar hand voor hulle saam met die ander leerders na die vierkant in die middel van die skool loop.

In die klas voel Tammy die oë op haar brand. Sy staar na haar hande wat onder die bank in haar skoot gevou is. Sy beweeg eers toe haar onderwyser, meneer Louw, hulle vra om hul oefenboeke en penne uit te haal. Sy buk en vroetel in haar sak. Sy word yskoud. Haar pennesakki­e! Sy moes dit vergeet het in haar haas om vanoggend betyds klaar te kry vir skool.

Sy vou haar boek oop en staar na die wit bladsy terwyl die kinders begin skryf. Sy skrik toe iemand aan haar arm tik en kyk onwillig op.

Die meisie langs haar hou ’ n pen na haar toe uit. Sy kyk onseker rond. Almal konsentree­r op hul skryfwerk. Sy forseer ’n glimlag na haar mond en prewel ’ n dankie toe sy die pen by die meisie vat.

Sy skryf vinnig en gee dan die pen terug. Die meisie skud haar kop en wys sy kan dit hou. Tammy weet nie of sy verlig of skuldig moet voel nie. Sy wag in spanning dat haar beurt aanbreek om haarself aan die klas voor te stel.

Die vriendelik­e meisie se naam is Ruby, hoor sy toe die meisie voor in die klas gaan staan en selfversek­erd ’ n paar sinne oor haarself voorlees. Dan is dit Tammy se beurt. Sy sukkel uit haar bank en stap in die nou paadjie vorentoe. Dan gebeur wat sy die hele tyd gevrees het. Iemand pootjie haar en sy val op haar knieë. Sy moes geweet het! Alles het net te bedrieglik reg geloop. Hulle is niks anders as die kinders by haar vorige skool nie. Almal is doodstil van skok. Iemand raak aan haar skouer.

“Het jy seergekry?” ’n Bekommerde frons is tussen die seun se oë.

“Ek is so jammer.” Hy help haar op en trek die rugsak onder haar been uit.

“Sorry, Meneer. Ek het nie bedoel nie. My sak het omgeval en ek het nie gesien nie,” vra hy om verskoning. Die onderwyser knik om te wys sy verskoning word aanvaar.

Tammy stap bewend na vore. Sy sukkel om te lees. Die woorde swem voor haar oë en haar stem wil breek. ’ n Meisie in die voorste ry steek haar hand op. Tammy bly stil. “Meneer, kan ek vir haar part lees?” Tammy kyk verbaas op vanaf die boek in haar hand.

Meneer Louw wink die meisie nader. Sy staan op en knik bemoedigen­d vir Tammy voor sy die boek uit haar hande neem. Die meisie se stem is helder toe sy begin lees.

“Welkom by ons, Tamsyn. Jammer oor jou ma. Ons hoop jy gaan gelukkig wees hier by ons,” verwelkom meneer Louw haar. Sy knik ’ n dankie en stap terug na haar bank. Hierdie keer versigtig om nie weer oor ’n rugsak te val nie.

Donny se hart klop woes toe hy pouse in die vierkant kom en die samedrommi­ng sien. Tammy! Hy hoop nie . . . Hoeveel kere vantevore het hy nie op sulke tonele afgekom nie! Kinders wat sy suster terg en rondpluk en verneder. Hy hardloop nader en stoot kinders uit sy pad. “Wadde hel! Is jy mal?” skree een. Dan val sy mond oop van verbasing. Tammy sit op ’ n bankie langs twee meisies en sy lag diep uit haar maag en haar kop agteroor gegooi. Hy kan nie eens onthou wanneer laas hy haar sien glimlag het nie en hier skaterlag sy! Hy kom staan voor haar. “Meisies, ontmoet my broer en held, Donovan Bruintjies. Die beste sportman en slimkop. As een van julle belangstel, sal sy by my ’ n afspraak moet maak vir ’n interview.” Die meisies lag en begin grappies maak. Donny bloos bloedrooi en draai om. “Ja, whatever . . .” Hy probeer maak asof dit hom nie raak nie en stap weg.

Toe die klok lui, kyk Tammy waar haar broer is en waai vir hom toe hy opkyk en haar sien. Haar nuwe vriendinne waai vir hom soentjies. Sy verbeel haar sy sien haar broer bloos.

Twee van sy vriende stap nader en stamp aan hom. Sy sien hulle praat met hom en kyk in haar en haar vriendinne se rigting.

Die middag ná skool vra Tammy nuuskierig vir Donny waaroor hy en sy vriende gepraat en aanhou in hul rigting gekyk het.

Hy stem in om vir haar te vertel, maar sy moet belowe om nie vir die ander meisies te sê nie.

“Die manne het vir my gesê jou vriendinne gaan so aan met hulle. Die een se presiese woorde was: ‘ Donny, ons weet nie meer hoe ons dit het met daai meisies nie. Hulle boelie ons al van laasjaar af.’ Ek vra toe of hulle dan nie weet wat om te maak nie, want ek het ’n paar tricks wat ons kan probeer.”

“Nou wat gaan julle doen? Moet net nie lelik wees nie. Jy weet mos hoe dit is om geboelie te word,” sê Tammy.

“Nee, man. Ons gaan nie iets leliks doen nie. Dis net vir die fun, maar dit het te doen met Valentynsd­ag. En meer kan ek nie sê nie!” Tammy en Donny lag saam en stap huis toe.

Voor hulle die aand gaan slaap, bid hulle saam en sê dankie vir die Here vir hul nuwe huis, gesin, vriende en skool.

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa