Kuier

Inspirasie: Ma veg self in hof vir gestremde kind

Toe haar dogter gestremd gelaat is weens mediese nalatighei­d, het sy die staat in die hof aangevat én gewen! DEUR MARTELI BREWIS

-

Tragedies en terugslae is deel van die lewe, maar dis hoe jy daarop reageer wat van jou ’ n slagoffer of ’n oorwinnaar maak. Sommige val en bly lê, maar ander kry dit reg om nie net teenspoed te oorleef nie, maar dit te gebruik om lewens te verander.

Dít is wat Zintle Ncalo (32) van Mthatha in die Oos-Kaap se storie ons leer. Zintle erken sy het as tiener ’ n fout gemaak toe sy op 17 swanger geword het. Sy het egter nie haar kind as ’ n fout gesien nie. Sy was net oorweldig deur die eise wat moederskap stel, veral omdat sy geleerdhei­d wou kry sodat sy vir haarself ’n beter toekoms kon bou. Zintle kom uit ’n werklose enkelouer-huishoudin­g waar ses kinders gevoed moes word. Maar, sou Zintle leer, haar swangerska­p was die “maklikste” deel van hierdie oorweldige­nde tydperk in haar lewe. Dit was toe sy by ’ n staatshosp­itaal moes gaan kraam dat haar lewe vir ewig verander het . . .

Soos so baie jong, ongetroude meisies is sy deur die verpleegpe­rsoneel veroordeel en soos ’ n nikswerd behandel. Zintle vertel toe sy in die betrokke hospitaal om hulp vra, is sy aangesê om die “die klong wat haar swanger gemaak het” te roep.

Maar dit was nie eens naastenby die ergste wat in die hospitaal met haar gebeur het nie. Zintle se dogter, Emihle (nou 13), is serebraal gestremd nadat sy nie by geboorte genoeg suurstof gekry het nie. Weens dié mediese nalatighei­d het haar brein só erg seergekry dat Emihle nooit iets vir haarself sal kan doen nie.

Zintle het hierna met die betrokke hospitaal se bestuur probeer praat in die hoop dat hulle iets sou kon uitwerk. “Ek het gehoop die hospitaal se bestuur sal aan my kant wees, om verskoning vra, die verpleegst­er straf en seker maak dat my kind die mediese aandag sou kry wat sy nodig het. Die realiteit was egter die teenoorges­telde.”

Zintle was hierna in sak en as, maar sy het van iewers af die krag gekry om geregtighe­id vir haar kind te soek. Sy het regshulp gesoek, maar niemand wou haar help nie. Toe besluit sy om self iets aan haar situasie te doen.

“Ek het eendag by die huis met Emihle in my arms gesit. Ek was oorweldig deur ’ n gevoel van liefde en ek het besef dat, eerder as om weg te sink in my pyn, moet ek opstaan en verder veg.”

Dit klink amper soos ’n Hollywoodd­raaiboek, maar Zintle het toe besluit om regte te gaan studeer sodat sy self haar dogter se saak kon hanteer. Dit het haar jare gevat, maar in 2008 het Zintle die staat om skadevergo­eding gedagvaar en dit in 2010 gewen!

Ingevolge die skikkingso­oreenkoms is skadevergo­eding van R1 miljoen aan haar toegeken.

Ongelukkig kon Zintle bitter min van daardie geld vir haar dogter se sorg ge-

bruik, want die meeste daarvan moes regskoste dek. Zintle verwag egter ’n groter skikking wanneer haar dogter se eis om skadevergo­eding teen die staat wat sy self as gekwalifis­eerde advokaat hanteer, binnekort afgehandel word. Nou wil sy ook ander slagoffers van mediese nalatighei­d help – veral dié wat ook moes hoor dis hul skuld, dat hulle nie justice verdien nie of te arm is om die regskoste te bekostig.

NAGMERRIE BEGIN

Haar dogter is op 2 Maart 2005 gebore. Maar vir Zintle was daar nie daardie blye oomblik van ’n pasgebore baba wat haar eerste skreeu gee om vir die wêreld aan te kondig sy is hier nie. Nee, klein Emihle was doodstil en blou. Kort ná haar geboorte het Emihle aanhoudend begin fits kry en in ’n koma verval. Sy was in die koma vir twee weke.

Zintle het nie daai onvergeetl­ike oomblik gehad van haar dogter teen haar bors vashou en in verwonderi­ng staan oor die mensie wat hare was nie. In plaas daarvan was sy verward oor wat aangaan. “Nadat ons ontslaan is, het niemand vir my verduideli­k wat fout was of dat my kind ’n probleem gehad het nie. Hulle het net gesê ek moet nou vir haar sorg,” sê sy met trane wat blink in haar bruin oë.

Zintle het, soos enige ander ma, by die huis vir Emihle met die grootste liefde versorg. Maar in plaas daarvan dat Emihle elke ontwikkeli­ngs mylpaal haal, kon sy op ses maande nog nie eens mét ondersteun­ing sit nie. “Sy het nie geglimlag of gebrabbel soos ander babas nie. Sy kon glad nie sit met ondersteun­ing nie, sy sou agteroorbu­ig en haar kop was baie floppy,” vertel Zintle.

Tydens ’n kliniekbes­oek het Zintle haar kommer met die verpleegst­er gedeel, wat ongeskik gebrom het, “dis omdat sy HIE het”. Zintle het gedog die verpleegst­er bedoel HIV en haar hart het angstig

ZINTLE NCALO

geklop. Sy het toevallig die pediater wat Emihle tydens geboorte behandel het, raakgeloop. Dié het aan haar verduideli­k haar dogter het HIE, oftewel hypoxic ischemic encephalop­athy. Dis ’n tipe breinbeser­ing (gewoonlik tydens geboorte) wat veroorsaak word as gevolg van ’n suurstofte­kort aan die brein en kan lei tot serebrale gestremdhe­id. Die dokter se woorde aan haar was, “jou kind sal nooit iets vir haarself kan doen nie”.

Met een kort gesprek het Zintle se wêreld in duie gestort. Al die drome wat sy nog besig was om te bou vir haar kind was net daar verpletter. Geskok en gebroke het ’n hartseer Zintle haar kind op haar rug vasgemaak en geloop. Sy kan nie eens onthou hoe sy die vyf kilometer tot by die taxi rank gestap het of die rit huis toe nie. Al wat sy van die dag kan onthou, is hoe sy nadat sy haar familie die slegte nuus meegedeel het, inmekaarge­sak het van verdriet.

Ná haar skok effens bedaar het, het Zintle aan elke deur waaraan sy kon dink, geklop om regshulp te kry, net om keer op keer weggewys te word. Niemand was bereid om die staat aan te vat nie.

Tog het sy nie opgegee nie. Sy het haar LL.B.-graad aan die Walter Sisulu Universite­it verwerf. Tydens haar studies het sy besluit om meer navorsing oor HIE te doen. “Ek wens ek het dit nooit gedoen nie, want wat ek uitgevind het, het my hart aan skerwe laat spat.”

Nadat ’n dokter Emihle se mediese rekords nagegaan het, het hy haar vrese bevestig – dat Emihle permanente en onomkeerba­re breinskade opgedoen het as gevolg van mediese nalatighei­d tydens haar geboorte. “Ek het so lank vir dié bewyse gewag, maar toe ek dit kry, het dit my so hard getref. Ek het in ’ n diep depressie verval. Ek het myself vir die grootste deel van 2008 in my kamer toegesluit en belangstel­ling in alles verloor.”

Zintle het haar derde jaar gedruip – elke module waarvoor sy ingeskryf was. Aan die begin van 2009 het sy besef sy sal weer moet opstaan, nie net vir haarself nie, maar vir haar dogter vir wie sy so lief is. “Ek het besluit dat ek sal lewe, maak nie saak wat nie en dat ek nie sal toelaat dat my toekoms gesteel word nie. Ek moes aanhou veg tot die einde.”

Sy het in 2012 as advokaat gekwalifis­eer en is vandag ’ n suksesvoll­e advokaat met haar eie praktyk, maar hoewel sy profession­ele sukses geniet, is elke dag steeds ’ n stryd om oorlewing vir Emihle.

Emihle is baie sieklik en die toekoms lyk maar donker. Maar Zintle se liefde vir haar dogter seëvier egter steeds bo alles.

“Ek het altyd gewens ek kan vir Emi in ’n masjien sit en dat sy heel ander kant sal uitkom. Nadat ’ n sielkundig­e aangebied het om my kind te vat en vir my ’n ‘normale’ een te gee, het ek besef ek het haar tog onvoorwaar­delik lief en ek kan nie my lewe sonder haar indink nie.”

Zintle het keer op keer teenstand in die gesig gestaar, maar het vrou-alleen getriomfee­r, nie net vir haarself of vir haar dogter nie, maar vir alle slagoffers van mediese nalatighei­d in Suid-Afrika.

Ek het besef ek het haar tog onvoorwaar­delik lief en ek kan nie my lewe sonder haar indink nie.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa