Kuier

Mej. SA: Tamaryn Green werk hard met ’n glimlag

Dis harde werk om ’n skoonheids­koningin te wees, maar Tamaryn Green doen dit met grasie en ’n glimlag. DEUR TARREN-LEE HABELGAARN

-

Om ’ n skoonheids­koningin te wees is meer as net ’ n titel. Dis ’n voltydse werk en ’ n groot verantwoor­delikheid wat die huidige Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green (24), dikwels van sonop tot lank ná sonsonderg­ang besig hou. Dit laat haar min tyd vir haar geliefdes en boonop moes sy na ’n onbekende provinsie verhuis, maar sy gee glad nie om om dit te doen nie.

Dit het ook letterlik ’n nuwe wêreld vir haar oopgemaak. Danksy haar titel reis sy nou die wêreld vol, ontmoet sy invloedryk­e mense wat haar meer in die afgelope ses maande geleer het as waarvoor sy ooit kon hoop.

Toe sy ’n jaar gelede vir die Mej. SuidAfrika-kompetisie ingeskryf het, was Tamaryn net ’ n gewone meisie en mediese student van die Paarl. Sy sou nooit kon droom dat sy in die suksesvoll­e hoëhakskoe­ne van skoonheids­koninginne soos Amy Kleinhans-Curd, Jo-Ann Strauss en Liesl Laurie sou volg nie. Voordat dié beeldskone vroue die kroon op hul koppe gesit het, het niemand ook hul name geken nie. Daarna het hulle nie net op tydskrifvo­orblaaie gepronk en bekendes geword nie, hulle het ook suksesvoll­e be- sighede gevestig.

Skoonheids­kompetisie­s maak deure oop, maar jy moet steeds baie hard werk om bo aan die suksesleer te kom en daar te bly. ’n Mooi gesig gaan jou net sover bring in die lewe.

Sukses beteken verskillen­de goed vir verskillen­de mense en in hierdie stadium is Tamaryn trots op wat sy in haar jaar as Mej. Suid-Afrika vermag en ervaar het.

Tamaryn sê sy het byvoorbeel­d nie gedink sy sou ooit pres. Cyril Ramaphosa ontmoet, voor die Verenigde Nasies se Algemene Vergaderin­g in New York ’n spreekbeur­t kry, een van die seremoniem­eesters by die Wêreldunie se Konferensi­e oor Longgesond­heid in Amsterdam wees nie of as die naaswenner in die Mej. Heelal-skoonheids­kompetisie uit 93 van die wêreld se mooiste vroue gekies word nie.

MEJ. HEELAL

Oor haar Mej. Heelal-ervaring kan Tamaryn nie uitgepraat raak nie. “Toe ek op die verhoog uitstap, was dit ’n onbeskryfl­ike gevoel. Ek het net ’n kalmte gehad en ek was so opgewonde en trots om my land te kan verteenwoo­rdig. Ek is nooit senuweeagt­ig wanneer ek op ’ n verhoog moet stap nie, want ek laat dit alles aan God oor. En daardie aand by Mej. Heelal het ek vertrou dat alles in God se hande is en deel van Sy plan vir my lewe is,” sê Tamaryn.

Sy sê daar was soveel ondersteun­ing vir Suid-Afrika in die gehoor. Baie oë was ook op Suid-Afrika omdat ons eie DemiLeigh Nel-Peters die vorige jaar as Mej. Heelal gekroon is.

Maar sy het nooit toegelaat dat die druk van verwagting­e haar onderkry nie.

“Ek en Demi-Leigh is twee verskillen­de voorbeelde van ’ n Suid-Afrikaanse vrou. Ek wou my eie ervaring en journey beleef, so ek het my nie baie aan die voorspelli­ngs gesteur nie. Dit het ook baie gehelp dat ek saam met Mej. Thailand ’ n kamer gedeel het, want as die verteenwoo­rdiger van die gasheerlan­d was daar ook baie druk op haar en kon ons dit deel,” sê Tamaryn.

En al het sy nie gewen nie, is Tamaryn gelukkig met hoe dinge uitgedraai het. Sy het haar beste gedoen en sê boodskappe van die publiek ná die tyd was vir haar bewys dat sy haar land trots gemaak het.

So ’n dag kan maklik van 05:00 tot 23:30 wees, maar jy leer om enige plek te kan slaap en stil te wees vir ’n oomblik om jou energie te behou. TAMARYN GREEN

Om vir Mej. Heelal voor te berei moes sy baie tyd saam met haar stilis en afrigter, Werner Wessels, deurbring. Saam het hulle met verskeie modeontwer­pers gewerk vir haar rokke en nasionale kostuum. Hulle moes ook op meer as 20 ander uitrusting­s besluit vir haar onderhoude en uitstappie­s tydens haar twee weke in Thailand, voor die kompetisie. Sy het ook met ’ n fiksheidaf­rigter gewerk aan veral haar bene en moes ook met ’ n afrigter werk om haar loopplanks­tap perfek te kry.

As mediese student en iemand wat tuberkulos­e (TB) oorwin het, het gesondheid haar nog altyd na aan die hart gelê. Tamaryn gebruik nou haar skoonheids­platform om nóg meer van ’n verskil te maak en glo sy sou dit nie kon doen as sy net ’n mediese student was nie.

Sy het dalk ’ n skoonheidk­ompetisie gewen, maar Tamaryn sê dit gaan nie net oor ’n mooi gesig en ’n slank figuur wat goed op die loopplank en in advertensi­es lyk nie. Dit gaan oor hart en intelligen­sie en hoe jy al jou verskillen­de talente kan gebruik om ’n goeie verteenwoo­rdiger vir belangrike kwessies kan wees.

Jy moet jouself met selfvertro­ue kan uitspreek, jy moet weet waarvoor jy staan, jy moet jouself goed kan versorg en jy moet ’n goeie voorbeeld van jou land en sy mense wees, sê sy.

’N STEM VIR ANDER

“Die werk van ’ n Mej. Suid-Afrika is om op die hoogte te bly van belangrike sake wat jou land en sy mense raak, want sy moet ’n stem kan wees vir daardie mense wat nie ’ n stem het nie. Elke vrou het iets waarop sy wil fokus soos my #breakthesi­gma-veldtog wat op TB fokus en gedurende haar jaar werk elke Mej. SA baie aan haar veldtog om soveel van ’ n verskil moontlik in haar fokusarea te maak,” sê Tamaryn.

“Dit vat harde werk en jy skakel met baie mense om blootstell­ing en hulp te kry. Tussendeur woon jy geleenthed­e by en het jy ook ’ n verantwoor­delikheid teenoor jou borge om ’ n goeie ambassadeu­r vir hulle te wees.

“Jy moet die hele pakket wees en dit beteken dat jy ook tyd moet maak vir oefen en gesond eet, sodat jy in die beste shape kan wees, maar ook om ander te kan aanmoedig om ’n gesonde leefstyl te volg.”

Sy vertel sy moes ook ander vaardighed­e aanleer soos hoe om lig te pak en uit ’ n tas te kan leef. Sy moes leer hoe om haar eie hare en grimering soos ’ n profession­ele persoon te kan doen. Want anders as wat mense dink, skrik Tamaryn nie elke oggend wakker met ’ n span ha-

re- en grimeerkun­stenaars wat regstaan om haar op te tooi nie.

“Vanweë al jou verpligtin­ge reis jy baie en daar is nie altyd plek of ’ n span beskikbaar om oral saam met jou te kan gaan nie. Afhangende van wat die geleenthei­d is, is ek die meeste van die tyd verantwoor­delik vir my eie hare en grimering.

“Ek het vir die eerste twee dae nadat ek gekroon is, ’ n span gehad wat my hare en grimering gedoen het, maar daarna moes ek self leer hoe om dit te doen,” sê sy vol selfvertro­ue.

Tamaryn se dae lyk ook nooit dieselfde nie en hoe haar dag verloop, hang meestal af van wat vir daardie dag beplan is.

As sy net een vergaderin­g of geleenthei­d vir die dag het, gee dit vir haar tyd om deur haar e-pos te werk, gym toe te gaan of om via oproepe met haar familie en vriende op te catch. Maar op die dae wanneer sy nie so besig is nie, word dit ook gebruik om saam met haar stilis en span nuwe uitrusting­s te gaan aanpas vir haar volgende geleenthei­d.

’N BESIGE DAG

Op ’n dag wanneer sy besig is, begin sy die dag met oefening in die oggend. As sy nie tyd het om by ’n gym uit te kom nie, doen sy dit sommer by die huis of waar ook al sy is. Soms moet sy al 04:00 of 05:00 op wees, veral as sy ’n vroegoggen­d-vlug het en hare en grimering nog moet doen.

“So ’n dag kan maklik van 05:00 tot 23:30 wees, maar jy leer om enige plek te kan slaap en stil te wees vir ’n oomblik om jou energie te behou. Ek drink ook baie water en die oefening en gesond eet help ook baie.”

Sosiale media speel vandag ’n groot rol, want dit maak Mej. Suid-Afrika meer toeganklik vir mense. So Tamaryn probeer om soveel moontlik van haar reis met haar omtrent 285 000 Instagram followers te deel wanneer sy tyd kry. Die meeste van Mej. Suid-Afrika se amptelike sosiale media word deur die Mej. SuidAfrika-span gedoen.

Sy weet nie wat die toekoms inhou nie, maar as ’n meisie wat van ’n gewone staatskool in ’n bruin gemeenskap alles kan beleef wat sy in haar Mej. Suid-Afrikajaar beleef het, wil sy die boodskap uitstuur dat enigiets moontlik is.

Wanneer sy haar kroon binne die volgende paar maande oorhandig aan die nuwe Mej. Suid-Afrika, gaan Tamaryn terugkeer universite­it toe om haar mediese studies te voltooi. Daarna wil sy as ’n gekwalifis­eerde dokter begin werk en voortgaan om ’n verskil te maak in haar land en haar medemens se lewe.

 ??  ?? HOOFFOTO: Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green, op die loopplank by die Mej. Heelalkomp­etisie in Thailand. LINKS: Tamaryn en Mej. Filippyne oomblikke voor Catriona Gray as Mej. Heelal 2018 gekroon is.
HOOFFOTO: Mej. Suid-Afrika, Tamaryn Green, op die loopplank by die Mej. Heelalkomp­etisie in Thailand. LINKS: Tamaryn en Mej. Filippyne oomblikke voor Catriona Gray as Mej. Heelal 2018 gekroon is.
 ??  ??
 ??  ?? BO: Tamaryn in haar spesiale uitrusting tydens die nasionale kostuum-kompetisie by Mej. Heelal. REGS (KLOKSGEWYS VAN BO): Tamaryn besoek ’n skool; net nadat sy gekroon is as Mej. SA; sy en pres. Cyril Ramahosa en op vakansie in Kaapstad oor die feestyd.
BO: Tamaryn in haar spesiale uitrusting tydens die nasionale kostuum-kompetisie by Mej. Heelal. REGS (KLOKSGEWYS VAN BO): Tamaryn besoek ’n skool; net nadat sy gekroon is as Mej. SA; sy en pres. Cyril Ramahosa en op vakansie in Kaapstad oor die feestyd.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa