Hoë bloeddruk: Dis gevaarliker as wat jy dink
Hoë bloeddruk is ernstiger as wat jy dink en dit kan jou stilstil doodmaak. Hier is alles wat jy moet weet om dit te verhoed en te beheer. Deur Elsabé Brits
ie dood of ernstige siekte skuil in een uit elke drie Suid-Afrikaners en hulle weet dit nie. Hoë bloeddruk het nie simptome nie, maar sonder behandeling kan jy ’n hartaanval of beroerte kry en jou niere kan uiteindelik onherstelbare skade ly. Soms kry jy ’n hoofpyn, dikwels nie. Dís presies wat met drie Kaapse vroue gebeur het – sonder dat hulle geweet het, was hulle ernstig siek.
Justine Willoughby (51) van Plumstead vertel sy het 12 jaar gelede gelukkig die kliniek vir iets anders besoek. Haar bloeddruk was 174/110. Die suster het gesê:“Jy gaan doodgaan. Jy gaan ’n beroerte kry!” Sy kon dit eers nie glo nie. En die suster moes dit herhaal:“Mevrou, jy kan lag, maar jy kan doodgaan.”Sy is dadelik na die daghospitaal toe waar sy chroniese medikasie ontvang het.
“Ek kon dit nie glo nie. Ek het nie ’n kopseer gehad nie. Daar was geen simptome nie,”vertel sy. Maar Justine se ma, ouma en haar antie het hoë bloeddruk gehad. Dís juis een van die min waarskuwings waarop jy moet ag slaan.
Een naweek het sy nie haar medikasie geneem nie. Die Dinsdag was sy by die kliniek en haar bloeddruk was 150/104.
“Daai suster was ontsteld met my.”Sy het besluit om dit nooit weer te doen nie.
Die twee vriendinne, Sharmila AbderoefHendricks (60) van Rondebosch-Oos en Zeenat Meeran-Edros (65) van Lansdowne, was ook onvoorbereid op dié aanvaller. Sharmila het 36 jaar lank onderwys gegee by Strandfontein Primêr en Zeenat was die hoof van E. A. Janari Primêr.
Jare gelede was Sharmila saam met haar man, Mogamat, op die pelgrimstog na Mekka. Daar het sy in die straat flou geword. Dit was ’n groot drama om haar met ’n taxi by ’n hospitaal te kry.“Dit was ’n vreeslike ervaring gewees,”vertel sy.
Die enigste simptoom wat sy gehad het, was ’n effense kopseer. Sedertdien drink sy getrou haar medikasie en probeer gesond leef. Sy vertel ook hoe sy in 2007 ’n mastektomie gekry het, nadat sy met borskanker gediagnoseer is.
“Ek is nie skaam om oor enige siekte te praat nie, die vroeë opsporing en behandeling daarvan is baie belangrik. Al raak jy net een mens se lewe,”vertel sy.
Zeenat vertel op haar beurt sy het baie hard gewerk aan haar loopbaan. In 2003 het sy erge hoofpyne begin kry en daar was ’n gesuis in haar ore.“Ek was baie moeg en my oë was rooi.”Haar man, Mustaq, het aangedring sy moet dokter toe gaan.“My bloeddruk was 202 oor nog iets gewees. Dit was so erg ek is hospitaal toe.”
Sy het geweet sy kon ’n hartaanval of beroerte kry, nadat die toestand by haar gediagnoseer is, want haar ma is aan ’n probleem met haar hart dood. Sy het al probeer om nie haar medikasie te drink nie, maar teen die derde dag is haar kop so seer sy kan dit nie uithou nie.“Dit was vir my die waarskuwing om dit nie te doen nie.”Sy moes toe weer op ’n keer aarvoeding by die dokter ontvang.
“My stresvlakke was baie hoog,”vertel sy. In 2018 het sy afgetree en geniet dit nou om drie keer ’n week saam met haar man te stap en gesond te eet.
Wat is bloeddruk?
Dis net soos lugdruk in ’n motorband, wat net reg moet wees. Te hoog en dit“bars”en te laag en jy“pap”. Bloeddruk is belangrik omdat dit bloed en suurstof deur jou liggaam sirkuleer aan die hart, brein, niere, spiere en ander organe. Wanneer die druk te hoog is, kom daar skade aan verskeie organe, wat onder meer bydra tot demensie, skade aan jou oë, erektiele disfunksie, nierversaking, beroerte en ’n hartaanval.
Gesonde bloeddruk is 120/80. Die eerste syfer is die druk in slagare wanneer jou hart klop, en die tweede syfer is druk in jou slagare tussen slae. Hoë bloeddruk is vanaf 140/90. Dit moet gemeet word in die og-
Díshoeveelmense inSuid-Afrikahoë bloeddrukhet.
Dis net soos lugdruk in’ n motorband, wat net reg moet wees. Te hoog en dit “bars” ente laag en jy is“pap ”.
Die internasionale aanbeveling is nie me eras 5 g (’ n teelepel) sout perd ag nie.
gend of aand wanneer jy ontspanne is, want die lesing kan hoër wees as jy stres ervaar en/of emosioneel is.
Dr. Martin Mpe, president van die Suider-Afrikaanse Hipertensie-vereniging, sê 30,4% van mense in Suid-Afrika het hoë bloeddruk, maar daar is aanduidings dat dit selfs hoër kan wees, soveel as 46% in vroue en 44% in mans. Hy sê een bloeddruklesing is nie genoeg om ’n diagnose te maak nie, dit moet ’n paar keer gedoen word, soms saam met ander toetse.
Beheer dit
Prof. Brian Rayner, hoof van die Hipertensie-instituut aan die Universiteit van Kaapstad en Groote Schuur-hospitaal, sê hoë bloeddruk in Suid-Afrika i s’ n“nasionale gesondheid s noodtoestand ”, omdat dit so toegeneem het die afgelope 20 jaar. ’n Mens se leefstyl kan ook bydra, jy moet genoeg oefening kry, gesond eet, nie rook of te veel drink nie, min sout gebruik en jou gewig dophou. Gaskoeldrank is ook iets wat mense moet vermy.
“Die slegte nuus is dat minder as die helfte van mense wat met hoë bloeddruk gediagnoseer word, nie hul siekte beheer nie. Baie neem nie hul pille behoorlik nie. As jy dit nie doen nie, is jou kanse om ’n beroerte te kry aansienlik hoër,”sê Rayner.
Hy waarsku wanneer medikasie voorgeskryf word, is dit belangrik om dit presies te neem soos die dokter sê.“Selfs al voel jy gesond, moet jy dit steeds drink. Dis onmoontlik om die skade te voel wat binne in jou gebeur, totdat dit te laat is.”
Dit gebeur nie dat dit vanself weggaan nie. Dikwels kom dit ook in families voor. Mense wat diabetes het, moet gereeld hul bloeddruk toets omdat tot 40% mense met dié siekte weens hoë bloeddruk sterf.
Prof. James Ker, ’n spesialis en ’n voormalige dekaan aan die Universiteit van Pretoriase fakulteit van gesondheid s wetenskappe, sê volwassenes bo 25 ly gewoonlik aan hoë bloeddruk. Soos’ n mens ouer word, is dit meer algemeen en op 65 jaar het een uit elke ses mense dit, maar presies hoekom, is nie bekend nie.
Tog kan ’n ongesonde leefstyl en stres bydra. As jy stres ervaar, skei jy adrenalien af wat jou bloeddruk verhoog. As jy ’n spesifieke bou het – ’n groot maag – kan dit ook bydra omdat dit verband hou met insulien weerstand i g hei d. Swanger vroue moet gereeld hul bloeddruk nagaan omdat dit baie gevaarlik kan wees vir hulle en die baba as dit nie behandel word nie, sê prof. Ker.
Almal beveel aan jy moet minder sout (“sodium”op etikette van kos) eet wanneer jy hoë bloeddruk het, maar hoeveel is te veel? Die internasionale aanbeveling is nie meer as 5 g (’n teelepel) sout per dag nie. Niemand gooi ’n teelepel oor hul kos nie, maar onthou daar is ook die sout wat jy oorgooi wanneer jy kook en die sout in baie peuselhappies. Só byvoorbeeld is daar 6,2 g sout in ’n pizza, volgens die Voedsel inligtingsentrum aan die Universiteit van Stellenbosch. Dis dus maklik om meer as 5 g sout per dag te eet. Daar is ook “versteekte”sout in produkte soos blikkieskos, pap, kouevleise, brood, souse en smere. Byna alle verwerkte kos het sout in.
Gebruik dié gids: As dit op die pakkie sê iets bevat meer as 1,5 g sout per 100 g, is dit te hoog, items met 0,3 g per 100 g is laag in sout. Kyk ook vir die Hart-enberoertestigting se merk op verpakking.
Moenie dat dié siekte jou bekruip en voortydig kom haal nie.