Kuier

Goudsmid: Man skitter in sy werk

Hy het al kleintyd sy hart op juwele verloor toe hy sy oupa dopgehou het en nou maak hy al sy drome waar.

- DEUR CHRISLYNN SIAS

Tasliem Omardien (39), ’ n small town-klong van Worcester, het altyd geweet as jy die blink van die lewe wil ervaar, moet jy die oester breek om te sien of daar wel ’ n pêrel binne is. En Tasliem, wat altyd daarvan gedroom het om met sy hande en “blinkgoed” te werk, het hierdie sienswyse letterlik opgeneem toe hy homself as goudsmid gekwalifis­eer het. Vir hom was die wêreld sy oester en hy was meer as bereid om sy deel te doen om die beste daarvan te ontdek.

Tasliem is deel van ’ n profession­ele groep mense wat die mooiste juweliersw­are ontwerp, wat paartjies as simbole van hul liefde gebruik of om daardie liefde te seël.

Sy liefde vir blinkgoed, soos hy dit vandag nog noem, het begin toe hy net vier jaar oud was. “My oupa het horlosies reggemaak en ek was altyd gefassinee­rd met horlosies en die proses waartydens my oupa dit reggemaak het.”

Volgens Tasliem het sy oupa altyd met soveel fokus te werk gegaan. “Ek onthou nog hoe daar altyd ou horlosies en parte in die huis rondgelê het. Al was ’ n horlosie oud en geroes aan die buitekant, as jy dit oopmaak en na die binnekant kyk, lyk dit nog splinternu­ut. Dis toe ek die mooi en blink binnekant van ’ n ou horlosie gesien het, dat ek geweet het in die verre toekoms wag iets soortgelyk soos die werk van my oupa vir my.”

En hoewel hy nie voor of tydens sy skoolloopb­aan presies sy vinger daarop kon lê nie, het die juweelgogg­a hom behoorlik gebyt kort nadat hy matrikulee­r het.

Met heimwee aan sy kinderdae, onthou Tasliem hoe hy en sy sibbe elke naweek na die dorp op Worcester gegaan het om goedjies te gaan verkoop. ’ n Speelse glimlag pluk aan sy mondhoeke.

“Ons was bekend as die informal traders. Ons het alles verkoop van ou horlosies tot Consol-glashouers. Dit was lekker

dae. Ons is van kleins af geleer om dinge vir onsself te doen, want as jy dit nie vir jouself gaan doen nie, gaan niemand anders dit vir jou doen nie.”

Volgens hom was hul huis altyd besig omdat hulle as familie – saam met sy anties, neefs en niggies – onder een dak grootgewor­d het. “Daar was altyd gelag en gesels en net soveel pak slae ook,” lag hy hartlik voor hy ernstig sê: “My oupa is oorlede toe ek net vyf jaar oud was, maar dit het my net meer aangespoor om ietwat sy legacy voort te sit.”

SY KUNS

Nadat Tasliem skool klaargemaa­k het, het hy vir twee jaar by Kallie Malgas Juweliersw­are op die dorp gaan werk.

“Daar het ek geleer hoe om juwele te maak – die manufactur­ing daarvan. Ek het toe nog nie self juwele ontwerp nie en eendag ná werk het ek vir my pa gesê ek weet nou presies wat ek wil gaan studeer, die ontwerp van juwele.”

Terwyl hy daai tyd by dié winkel gewerk het, het hy ook aan verskeie juweelontw­erp-kompetisie­s deelgeneem wat hy in tydskrifte gesien het. Dit het sy liefde vir hierdie kuns aanhou voed.

In 2000 het Tasliem sy studies in juweelontw­erp by die Kaapse Skiereilan­d Universite­it van Tegnologie (CPUT), toe nog Pentech, begin. “Sjoe, ek het baie geleer oor goed wat ek voorheen geen idee van gehad het nie en dit het my net meer fassineer.”

Hy is dit eens: As jy in dié bedryf wil oorleef, moet jy hare op jou tande hê en jou hande moet vir niks verkeerd staan nie. Geduld en deursettin­gsvermoë is ook ’n voorvereis­te. “Hier was ek geleer om my tegniek te verfyn. Ek het klaar die prakties opgedoen en om dit toe te koppel aan die teorie was ongeloofli­k en ’n heel ander leerervari­ng.”

Toe hy sy driejaar-kursus voltooi het, het die leer-gogga die man met die goue vingers wéér gebyt en hy het aansoek gedoen vir ’n edelsteenk­ursus by die Gemmologie Instituut van Amerika in Mumbai, Indië. ”Ek is nie ’n mens wat vir te lank kan stilsit nie en ek is lief vir nuwe dinge leer om my kuns te verbeter. Hoe meer kennis ’n mens opdoen, hoe meer verstaan jy jou kuns. In Indië is die bedryf baie anders as hier in Suid-Afrika en dit was vir my ’n ander belewenis. Ek het besef hoe min ek eintlik weet van stene en hoe ’ n groot verskeiden­heid daar eintlik is.”

Volgens Tasliem was sy ervaring in Indië een van snaaksheid omdat hy goed gesien het wat hy nooit tot op vandag in Suid-Afrika beleef het nie. “Ons was eendag na ’ n mark waar verskeie stene op uitstallin­g was. Dit was oop en ’ n mens kon dit van nader bestudeer en niemand het dit gevat nie. Ek was geskok, want ek het nog nooit so iets gesien nie!”

Met die ongeloof steeds vlak in sy oë, brei hy verder uit. “Dis ook hier waar ek geleer het oor die slyp van diamante en verskeie ander stene. Man, dit was vir jou ’n belewenis soos min.”

Die kursus was vir sewe maande. Daarna het Tasliem terug Suid-Afrika toe gekom as ’ n gekwalifis­eerde juweelkund­ige.

In 2015 het hy by Uwe Koetter Juweliers, waar hy tans steeds werk, aangesluit. Luidens hul webtuiste het hierdie maatskappy al talle toekenning­s vir hul juweelstuk­ke gewen en is van die mees gerespekte­erde juweliersh­andelsmerk­e plaaslik en internasio­naal. Die maatskappy se kliënte sluit in koninklike­s, staatshoof­de, bekendes en plaaslike sowel as oorsese kliënte.

So Tasliem is van “the cream of the crop”, soos die spreekwoor­d sal sê.

Tasliem vertel: “Ek is net ’ n bietjie meer as drie jaar by hulle en is steeds gelukkig soos kan kom. Die werkomgewi­ng, mense wat hier werk en die werk wat ons doen, maak dit veral lekker om by hulle te werk.”

En as hy plekke met iemand kan verruil vir een dag? Hy lag opgewek voor hy ernstig verklaar: “Meneer Koetter! Wie anders? Ek sal mos dan die coolste man in die kantoor wees!”

En hoe het ringe, sedert hy in 1998 in die juweliersb­edryf begin het, verander tot nou? Tasliem vryf ingedagte oor sy stoppelbaa­rd voor hy antwoord: “Dit hang eintlik af van die persoon vir wie jy iets ontwerp. Baie sal sê dat dit drasties verander het waar ander weer van mening sal wees dat dit meer eenvoudig geword het. ‘ Dome rings’ (ringe wat groot is en met baie klein diamante versier is) was destyds baie gewild, maar nou verkies vroue meer eenvoudige en elegante ringe. Dis ook baie meer ingewikkel­d as wat dit vroeër jare was omdat mense baie meer spesifiek is oor wat hulle wil hê.”

Op dié noot vertel Tasliem van ’n kliënt vir wie hy ’n verloofrin­g moes ontwerp en maak. “Hy wou ’ n halfmaan en ster hê en dit moes presies geposision­eer wees. Party kliënte is baie moeilik en ander weer soos ’ n heerlike vars briesie wind.”

Hy voel egter dis die kyk in kliënte se oë nadat hulle die finale produk gesien het, wat hy vir niks in die wêreld sal verruil nie. “Of die kliënt moeilik of maklik was, as hulle eers die eindproduk gesien het en in hul noppies is daarmee, maak dit die love-hate-verhouding wat ek met my beroep het, die moeite werd. Dis priceless!”

Wat is volgende vir die man met drome ver groter as ’ n goudmyn? “My eie reeks,” antwoord hy beslis. “Daar is min dinge wat ’n mens soveel bevredigin­g gee as om te sien hoe jou ontwerpe voor jou oë lewendig word. Daar is geen woorde wat die gevoel kan beskryf nie!”

As jy luister na wat hy sover vermag het, is Tasliem se eie reeks glad nie te ver in die toekoms nie . . .

 ??  ?? HOOFFOTO: Tasliem Omardien maak juwele.
HOOFFOTO: Tasliem Omardien maak juwele.
 ??  ?? LINKS: Tasliem en sy oupa. HEEL BO: Een van die ringe wat Tasliem gemaak het.
LINKS: Tasliem en sy oupa. HEEL BO: Een van die ringe wat Tasliem gemaak het.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa