Kuier

Ligter: Vrou verloor byna 50 kg in net twee jaar

Sy het amper 50 kg in twee jaar verloor, maar haar pad om die lig te sien, was eers baie donker . . .

- DEUR TARREN-LEE HABELGAARN

Dis maar ’ n swaar saak om gewig te verloor en om die regte besluite ter wille van ons gesondheid te neem. Dikwels besef ons eers wanneer dit te laat is of iets ernstigs verkeerd gaan om ons leefstyl regtig te verander.

Vra maar vir Zelda Griessel (44) van Welgelegen in die noordelike voorstede van Kaapstad. Sy het ’n beroerte gehad, hoë bloeddruk ontwikkel, met artritis in haar knie gesukkel en was op die punt om met tipe 1-diabetes gediagnose­er te word, maar selfs dít was nie genoeg om haar te dwing om haar eetgewoont­es te verander nie.

Selfs nie eens die dokter se waarskuwin­gs dat sy besig is om beheer te verloor en drasties veranderin­gs aan haar leefstyl moet maak, het regtig vir Zelda, wat op daardie stadium amper 150 kg geweeg het, gepla nie. Elke keer as sy sleg gevoel het oor haarself of haar gesondheid of net emosioneel was oor die lewe, het sy haarself in haar kamer toegesluit en in die laai langs haar bed gegrawe vir ’n lekker of ’n koekie. Enigiets lekker wat haar vir ’n oomblik van haar realiteit sou laat vergeet en dinge beter sal maak. Zelda sê sy het sommer tussendeur die trane nog sjokolade geëet. Dít het aangehou tot die dag toe sy weer van die dokter af kom en haar seun, Barnard (toe 14), haar vra of sy nou gaan sterf. Dít was die groot skok wat Zelda, nou ’n enkelouer, nodig gehad het om haar leefstyl te verander, want sy wou nie haar jong seun alleen in die wêreld los nie. Zelda het daadwerkli­k begin om haar eetgewoont­es aan te pas en meer aktief te raak. Sodoende het sy in twee jaar 47 kg afgeskud! Sy werk nou kliphard daaraan om haar doelgewig van 73 kg te bereik.

Ek kon nie in restaurant­sitplekke pas nie en mense het vir my gelag. ZELDA GRIESSEL

NIKS HET GEHELP NIE

Maar voor sy by hierdie punt gekom het, het Zelda gesukkel. Haar gewigprobl­eme het erger geword nadat haar seun op 32 weke te vroeg gebore is. Zelda, wie se man (nou eksman) baie gewerk het, was dikwels alleen met die nuwe baba. Haar familie was ook ver en sy het nie regtig ’n support network gehad nie, toe eet sy.

“Voor my doktersbes­oek in 2016, het ek baie verskillen­de goed probeer om die gewig te verloor, maar niks het permanent gewerk nie en ek het ook nie die motivering gehad nie. As iets vir ’n tydjie gewerk het, was ek gelukkig. Dan het dit my weer die krag gegee om aan te hou, totdat ek weer van voor af moes probeer,” vertel sy.

“As hulle iets op die televisie geadvertee­r het, het ek dit gekoop.”

Soos Zelda, het baie van ons al die een of ander tyd ’ n dieet gevolg, dieetpille probeer of een of ander oefenprogr­am begin. Maar om dit vol te hou, is nie ’ n maklike storie nie.

In 2016 op die ouderdom van 42 was Zelda vinnig op pad graf toe en het sy die skaal op 145 kg getrek – die meeste wat sy al ooit geweeg het. Sy beskryf dit as ’ n nagmerrie van selfverwyt en depressie. Sy het al drie senuwee-ineenstort­ings gehad en sê sy het nie goed genoeg en mooi gevoel nie. Sy wou haarself net wegsteek van die wêreld af en het gevoel sy sou nooit gemaklik in haar eie vel wees nie of maer word nie.

Maar al het sy só gevoel, het sy altyd weer haar troos in kos en lekkergoed gevind. Zelda sê toe sy op haar vetste was, was eenvoudige dinge soos om cinema toe te gaan en om haarself in ’n restaurant se sitplek in te kry die ergste. “Ek kon nie in restaurant­sitplekke pas nie en mense het vir my gelag.”

Sy kon ook nie met haar seun speel nie en het vinnig moeg geraak. By die werk kon sy nie die trappe tot by hul canteen klim nie en moes halfpad stop om haar asemhaling onder beheer te kry.

“My gewig was regtig ’ n probleem en het eenvoudige dinge vir my moeilik gemaak. Ek kon nie mooi rokke dra nie en ek kon ook nie hakskoene dra nie omdat ek weens die gewig ’n knieproble­em ontwikkel het. Maar elke keer as ek gewig probeer verloor het, het ek ’n rede gevind vir hoekom dit nie kan of sal werk nie.

“Geld was die meeste van die tyd die maklikste verskoning om te gebruik. Dit het my sommer vinnig oukei laat voel. Eers het ek vir myself gesê ek kan nie gesond eet nie, wat die kos is te duur. Toe kon ek nie gym nie, want die gym-kontrak is ook duur of die petrol is te duur. Enigiets wat jy aan kan dink, het ek as verskoning gebruik. Maar toe my seun my daardie dag vra of ek gaan sterf, het ek net begin huil en besef ek kan dit nie meer aan myself of my familie doen nie.”

GROOT VERANDERIN­G

Sy het besluit om al haar pille, die oefenwiele, duikpak wat jou laat sweet en al die ander dinge wat sy al oor die jare probeer het, weg te gooi. Sy het besluit om gesond te begin eet deur rooivleis, koolhidrat­e en stysel uit haar dieet te sny. Sy het ook haar porsies kleiner gemaak en begin stap.

Sy het haar lekkergoed­laai leeggemaak en met inspireren­de versies en boeke vervang. Sy het geweet dit gaan nie maklik wees nie, maar sy was nooit regtig maer nie. Selfs as kind het sy in graad vyf 75 kg geweeg en het kinders haar alreeds op laerskool gespot. Haar heel eerste dieet was ook juis in graad drie. Haar hele gesin is lank en maer en sy was maar altyd die vet baba, so sy was gewoond daaraan en het nie verwag om juis slank te wees nie. Maar sy wou gesond wees.

Vandag is sy dankbaar dat sy uitgehou het en dat haar familie en veral haar seun haar so mooi motiveer om nie op te gee nie. Sy sê sy het steeds soms slegte dae en dit is maar altyd ’n stryd om by ’n gesonde leefstyl te bly, maar sy probeer om so gesond moontlik en sterk te bly.

Vandag weeg sy 98 kg en glimlag breed tydens die onderhoud toe sy vir ons haar mooi swart hakskoene en rokkie wys wat sy aanhet. Dit is nou vir haar ’n plesier om klere te gaan koop, maar sê sy word aanhoudend daaraan herinner dat sy nie die grootste size in die winkel hoef te koop nie.

“Ek sukkel nog daarmee, want ek is so gewoond daaraan dat niks pas nie en baie van my werksklere moes hulle spesiaal laat maak het omdat daar nie ’n grootte vir my was nie. Nou moet die mense by die winkel vir my vra of ek regtig die groot size wil hê omdat dit nie vir my sal pas nie. Dit is sulke klein dinge waarmee jy sukkel en ek hou ook nie daarvan om my arms te wys nie en sekere broeke te dra nie, omdat ek nou velle het wat hang,” sê sy.

“Maar ek is seker dit sal ook regkom, veral noudat ek en my seun meer gaan oefen. Ek het vir ’n park run ingeskryf en ons begin hierdie maand oefen. Dit is dié klein dinge waarmee ek mense wil inspireer. Jy hoef nie duur kos te koop of na gyms te gaan nie. Jy kan langs paaie gaan stap waar jy bly en jy kan net jou porsies kleiner maak. Dit maak reeds ’n groot verskil.”

Zelda sê sy is opgewonde oor die toekoms en om haar doelwit van 73 kg te bereik. Dit is hoeveel sy op haar troudag geweeg het, nadat sy vir die eerste keer gewig verloor het. Sy hoop ook om eendag maklik genoeg te voel om vir die eerste keer in dekades vir haar ’n swembroek te koop en in die water te klim.

 ??  ?? HOOFFOTO: Zelda Griessel hou haar size 26-broek van twee jaar gelede voor haar. Sy dra nou ’n 20. LINKS: In 2017 toe sy op haar vetste amper 150 kg geweeg het.
HOOFFOTO: Zelda Griessel hou haar size 26-broek van twee jaar gelede voor haar. Sy dra nou ’n 20. LINKS: In 2017 toe sy op haar vetste amper 150 kg geweeg het.
 ??  ?? LINKS: Zelda en haar seun, Barnard.
LINKS: Zelda en haar seun, Barnard.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa