Kuier

Binnelande­rs:

Skaam aktrise blom voor kamera

- DEUR Tarren-Lee Habelgaarn

Die Binnelande­rs- aktrise Lindsey Abrahams (24) het sommer as kind al haar roeping gevind toe sy haar familie en vriende vermaak het. Sy was mal oor die aandag en het dit geniet om verskillen­de karakters te speel en boonop haar aksent te verander om by elkeen te pas. Sy het dus al van kleins af geweet dís wat sy eendag vir ’n lewe wil doen.

Maar as jy haar op straat raakloop, sou jy dit nooit glo nie, want anders as die karakters wat sy vertolk en die borrelende mens wat haar familie ken, is Lindsey van Atlantis buite Kaapstad eintlik baie skaam. Dít kon ’n mens ook in die onderhoud agterkom, want vir die eerste paar minute glimlag sy net vriendelik en speel met haar hande. Sy is nogal teruggetro­kke en antwoord net wanneer ’n vraag aan haar gevra word.

Maar namate sy ontspan en op haar gemak begin word, begin sy grappies maak en lekker saamgesels. Sy is saggeaard, het ’n lekker sin vir humor en met haar mooi groot oë, breë glimlag en aansteekli­ke lag maak dit jou sommer lus om lekker saam met haar te kuier.

Lindsey erken sy is mal daaroor om verskeie karakters te speel en verlore te raak in ’n rol. Kuier- lesers sal haar dalk ook onthou as die karakter Lauren in die sepie Suidooster wat op Jerome (toe gespeel deur Danny Ross) verlief geraak het. Sy was ook in die teaterprod­uksie Kinnes te sien,

wat laasjaar baie goed ontvang is deur die publiek.

Lindsey sê die een ding wat sy daarvan waardeer om in die openbare oog te wees, is om vir mense te wys nie alles en almal wat uit Atlantis kom, is sleg nie. Atlantis is ’n gemeenskap wat gebuk gaan onder bendegewel­d en ander maatskapli­ke probleme soos onder meer werklooshe­id, armoede, drank- en ander dwelmmisbr­uik.

atlantis

“Ek het gelukkig grootgewor­d en al was daar tye wanneer dit maar rof gegaan en die bendes geskiet het, het ons gelukkig nie te na aan daardie areas gewoon nie. Jy hoor dit en jy raak bang, maar ons was nie direk in gevaar nie,”vertel sy.

“Alles wat mense oor Atlantis lees, is waar, maar dit is net ’n klein deel en nie almal wat hier woon is sleg of by misdaad betrokke nie.”

Lindsey sê die mense se hart, hoe hulle as gemeenskap saamstaan wanneer daar iets sleg gebeur en wanneer iemand suksesvol is, is vir haar een van die goed wat Atlantis vir haar spesiaal maak.

En omdat sy nou op nasionale TV is en outomaties as ’n openbare figuur geag word, wil Lindsey vir die kinders van Atlantis wys“geen droom is te groot of te klein nie”. Sy wil ook graag ander kinders inspireer en wys dat hulle enigiets kan bereik. Want kyk hoe ver het sy gekom al is sy so skaam van kleintyd af. Nou act sy in een van die grootste Afrikaanse sepies in die land en werk met ervare akteurs soos Hans Strydom wat sy altyd op TV gesien en bewonder het.

“As jy net aan die sleg blootgeste­l word, sal jy nie weet daar is ’n hele wêreld wat vir jou wag nie. Ek wil vir die kinders van Atlantis wys wat daar is. Jy het net passie en harde werk nodig. Dit is nog vir my vreemd dat mense saam met my foto’s wil neem, maar dit maak my ook trots en ek hoop dit maak my ouers trots,”sê sy.

Lindsey se loopbaanke­use is egter steeds interessan­t, veral omdat sy van kleins af skaam was en dit nog nie heeltemal afgeskud het nie. Maar dis juis hoekom sy toneelspel so geniet.

“Ek was nog altyd skaam; selfs op skool was dit vir my moeilik om maatjies te maak en om met baie mense te praat, maar dit is juis waar my liefde vir toneelspel begin het. Elke keer as ek skaam geraak het, het ek my net verbeel dat ek iemand anders is, totdat ek gemaklik en minder angstig gevoel het. Dit was vir my ’n manier om my eie gevoelens weg te steek. Wanneer ek in karakter is, voel ek baie gemaklik en is dit vir my lekker om ander mense met ander persoonlik­hede te speel,”sê Lindsey.

Hoe meer die karakter van haar eie persoonlik­heid verskil, hoe lekkerder is dit vir haar om daardie karakter te vertolk. Dit kom van jare alleen speel toe sy ’n kind was wat haar gedwing het om haar verbeeldin­g te gebruik.

Sy is ’n middelkind en het ’n suster wat 10 jaar ouer en ’n broer wat 10 jaar jonger is. Omdat daar so ’n groot ouderdomsv­erskil is, was sy baie keer op haar eie.

droom word waar

“Ek het van kleins af aan akteurs en aktrises gedink, hulle bewonder en gedink ek kan ook doen wat hulle doen. Maar ek het nooit regtig gedink ek sou ’n aktrise kan wees en veral teenoor groot name in die bedryf soos Denise Newman en Hans Strydom speel nie! Maar vandag doen ek dit en kan ek soms steeds nie glo dat ek so gelukkig is om my passie te kan uitleef nie.”

Al het sy groot drome oor ’n loopbaan in die vermaakbed­ryf gehad, was dit nooit haar plan om Johannesbu­rg toe te trek nie, maar toe die geleenthei­d kom, het sy dit aangegryp.

Toe Lindsey 10 maande gelede die rol van die verpleegst­er, Chanel Sameuls, op die kykNET-sepie Binnelande­rs losslaan, het sy nie twee keer gedink om dit te aanvaar nie. Dit was ’n geleenthei­d vir haar om deel te wees van ’n groot Afrikaanse sepie en saam met mense in die bedryf te werk na wie sy al vir jare opkyk. Dit was ook ’n geleenthei­d om ’n vaste inkomste te verdien in ’n bedryf waar daar nie altyd werk is nie. Maar dit het ook beteken dat sy haar familie, vriende en kêrel van vyf jaar moes agterlaat in Kaapstad om te verhuis.

Sy het nog nooit op haar eie gebly nie en sê dit was een van die grootste aanpassing­s vir haar. Sy het ook niemand geken nie. Maar vir dié teruggetro­kke jong vrou was dit ook ’n bedekte seën omdat dit haar uit haar gemaksone gedwing het en sy moes leer om vriende in ’n vreemde stad te maak.

“My familie was nog altyd my vriende. Ek het vriende saam met wie ek grootgewor­d het en ook wat ek op universite­it en in bedryf ontmoet het, maar ek is maar net gewoond daaraan dat ons as familie baie tyd saam spandeer,”sê sy.

Gelukkig vir Lindsey is haar kollegas by Binnelande­rs soos familie en sy kuier gereeld saam met hulle. Hul ondersteun­ing en geselskap help baie wanneer sy so baie na haar mense verlang. Omdat sy baie besig is, help dit ook om haar geliefdes se leemte te vul.

Al mis sy die huis, weet Lindsey, wat ná universite­it al in ’n call centre gewerk het om geld te verdien, soms kom ’n mens se drome teen ’n prys. En daardie prys is nou dat sy ver van haar geliefdes is. Maar sy druk deur omdat sy weet geen ander werk as toneelspel sal haar gelukkiger maak nie.

Daarom sal sy jong mense aanhou motiveer om nie toe te laat dat hul omstandigh­ede of waar hulle vandaan kom, hulle keer om groot drome te droom nie!

Wanneerek inkarakter­is, voelekbaie gemaklik. LINDSEY ABRAHAMS

 ??  ?? HOOFFOTO: Lindsey Abrahams vertolk die rol van Chanel Sameuls in die kykNET-sepie Binnelande­rs.
HOOFFOTO: Lindsey Abrahams vertolk die rol van Chanel Sameuls in die kykNET-sepie Binnelande­rs.
 ??  ?? ONDER EN LINKS: Lindsey in Binnelande­rs.
ONDER EN LINKS: Lindsey in Binnelande­rs.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa