Kuier

Kortverhaa­l

Dit is dalk hul laaste kans vir ’n kind en Vanessa is nie hoopvol nie.

- DEUR CLIFFORDEN­E NORTON

Die voordeur knip agter haar toe en ’ n skerp reuk brand haar neus effens. Vanessa volg die reuk van verf die gang af na agter, waar haar man, David, vandag die babakamer inrig. In die voorlaaste kamer leun sy teen die deurraam. David staan hande in die sye en kyk na sy handewerk. Hy draai na haar toe, glimlag en gooi sy arms oop.

“Wat dink jy? Ek dink dit lyk awesome.” Haar oë beweeg deur die nuutgeverf­de kamer en die planete wat op die linkermuur geverf is. Die son ’ n glimlagemo­ji. Sy kan sien waar die wiegie moet staan en sy voel hoe haar keel toetrek. “Dit lyk mooi,” wurg sy uit en lig vinnig die Checkers-sakkie op. “Ek het aandete gebring.”

Voor sy uit die kamer vlug, sien sy hoe David se gesig verander. Nog ’ n skuldgevoe­l prop sy saam met die ander. In die kombuis begin sy die sakkie uitpak en haal borde en glase uit die kas. David pak die messe en vurke op die tafel reg. Toe sy die borde neersit, haal hy die kos uit die sakkie en druk dit vinnig in die oond.

“Gee jy om as ek gou gaan was?” vra hy.

“Nee, dis oukei. Ek gaan ook iets gemakliker aantrek.”

Hy trek haar onder sy blad in en druk ’n soen op haar voorkop. Sy druk haar neus in sy bors, maar die verfreuk begin haar maag omkrap.

“Ek het vergeet om vanoggend te sê jy lyk mooi,” sê hy en druk ook ’ n soen op haar bultende maag.

“Baie dankie. Ek sien jou in twintig minute?”

Hy knik en loop weg. Vanessa trek haar wedges uit en haar voete haal verlig asem. Dit is geswel, want haar liefde vir hakskoene laat haar duur betaal aan die einde van die dag. Hopelik sal David haar vanaand bederf deur haar voete te masseer.

Toe sy ’ n halfuur later in die kombuis kom, skep hy die kos in opskepbakk­e. Hy lyk vars en ruik lekker. Dit verbaas haar dat sy aftershave haar nie tydens hierdie swangerska­p naar maak nie. Vorige kere was dit nogal erg. Daar is niks lekkerder vir haar as om haar kop teen sy bors te druk nie.

“Kom sit, ek kan dink jy is honger. My mond water al.” Hy trek die stoel vir haar uit en begin sommer opskep. Langs haar bord staan ’ n glas sap. Toe hy klaar gebid het, glimlag hy vir haar en begin eet.

Die stilte is effens ongemaklik tussen hulle, maar Vanessa hoop dat die gesprek sal oorstaan tot ’ n ander aand. Sy kyk na David se gesig en weet sy sal nie haar wens kry nie. Toe sy kos halfpad klaar is, sit hy sy vurk neer.

“Nessa, hou jy nie van die babakamer nie?” vra hy.

Die sagte bruin oë beweeg nie ’ n aks nie en sy sluk moeilik. Dit help seker nie om die gesprek weer uit te stel nie. Hul kleinding word oor drie weke gebore. “Die kamer is pragtig. Regtig.”

“Nou hoekom is jy so ongelukkig? Jy wil nie weet wat die baba se geslag is nie. Ons het nie regtig klere gekoop nie; ons familie moes vouchers gee, want babagoed is nie welkom hier nie.” Hy sluk. “Wil jy nie ons kind hê nie?”

“Natuurlik wil ek ons kind hê! Hoe kan jy dit vra?” Sy staan op en moet haarself weerhou om haar arms om haar maag te vou. Drie weke. Drie weke Z dis nog hoe lank sy moet uithou. Dokter Peters het gesê sy sal dalk nooit weer ’ n kind kan dra ná dié een nie. Haar spiere is te swak.

“Hoekom is jy dan so ongelukkig? Wat kan ek doen?” David se stem klink asof hy al die gesprek ’ n paar keer geoefen het. “Daar is niks wat jy kan doen nie.” “Praat met my, asseblief?” smeek hy. Sy druk teen haar rug en sug toe die drukking die seer effens verlig. David is onmiddelli­k by haar en vryf oor haar rug. “Voel dit beter?” vra hy ná ’n rukkie. “Ja, dankie,” antwoord sy en gee hom ’n drukkie. Veilig in sy arms, begin sy praat. “Dis ons derde swangerska­p, David, en nog geen van die babas het die volle termyn oorleef nie. Ek is net versigtig. Wat as ons dink ons is amper by die einde en iets gaan weer verkeerd?”

Dis eers toe sy duim oor haar wange beweeg dat Vanessa besef sy huil. Is dit regverdig van haar? Haar man het ook twee kinders verloor, maar hy troos altyd vir haar. Sit hy nie ook met sy eie vrese nie? Sy eie hartseer?

“Dokter Peters het gesê die baba doen goed,” begin hy. “En ek glo en vertrou dat dit hierdie keer anders sal wees.” “Belowe jy?”

Hy is ’ n rukke stil. Sy voel sy lippe teen haar voorkop. “Ek kan nie, maar ek sal hier wees vir wat ook al gebeur. Dít belowe ek.” ’n Rukkie later gaan kruip hulle in.

Dis eers toe die tweede steekpyn deurkom dat Vanessa besef wat haar wakker gemaak het. Sy lê en wag ’n rukkie, biddend dat die pyn sal ophou. Tien minute later is sy inmekaar van al die pyn en dit voel asof iets skeur.

“David . . . ” druk sy teen sy skouer. “David! David!”

“Ness,” sê hy deur die slaap. Dan sit hy vinnig regop. “Wat is fout?”

“Dis seer!” is al wat sy uitkry voordat die volgende pyngolf haar oorval.

“Bel vir dokter Peters! Hou vas, baby. Hou net vas, asseblief. Asseblief Here, nie weer nie. Nie hierdie kind ook nie. Nie weer nie, ek kan dit nie weer oorleef nie,” begin sy bid terwyl David haar skoene voor haar voete neersit.

“Dit gaan oukei wees,” herhaal David, maar dit klink asof sy aandag nie eens by sy woorde is nie. Toe hy al die basiese goed bymekaar gekry het, kom buk hy voor haar.

“Ek gaan gou die kar start. Ek is nou terug. Ek belowe ek is nou terug.”

Ek het nie eens my slaapklere uitgetrek nie, is die een belaglike gedagte wat bo die pyn uitstyg toe sy ’ n uur later in die hospitaalb­ed lê. Het David ooit iets anders aangetrek? Wat maak dit saak, vra die geïrriteer­de stem iewers in haar kop.

Wat maak dit regtig saak? Dokter Peters is nog nie hier nie Z en die pyn begin al hoe erger word. Waar is die man? Weet hy nie kantoorure is nie deel van sy werksbeskr­ywing nie!

“Mevrou Louw? Ek is hier.” Dokter Peters lyk asof iemand hom uit die bed gesleep het. Sy hare staan effens regop en sy hemp is ongelyk vasgemaak, maar sy oë is wakker. Hy trek die gordyn om die bed toe en begin trek dan die latexhands­koene aan. Hy ondersoek haar vin- nig en effektief en Vanessa hou heeltyd haar oë toe en klou aan David se hand.

“Mevrou Louw, jy is besig om te kraam. Jy is ses sentimeter ontsluit.”

“Wat! My water het nog nie gebreek nie!” Haar oë draai verskrik na David toe – maar haar man is ’ n skakering bleker onder sy goudbruin vel.

“Dit gebeur nie altyd nie,” stel die dokter haar gerus. “Ek is nou terug,” sê hy. “David?”

“Ja, Ness?”

“Ek is bang.”

Haar man se adamsappel beweeg skrikkerig op en af. “Ek ook.”

Dit voel vir haar asof dit verskrikli­k lank vat om haar baba vas te hou. Wat as sy nooit haar kind gaan lewend vashou nie?

’n Paar uur later kan sy nie glo hoe dinge uitgedraai het nie. Sy is so mooi, dink Vanessa toe sy uiteindeli­k weer kan duidelik dink. Haar oë beweeg na haar man wat met liefde na hul dogter kyk. Sy het nooit die woede en irritasie met hom ervaar waarvan elke nuwe ma spottend praat nie. Hy was ’ n rustige teenwoordi­gheid langs haar. ’ n Goeie rots. Seker omdat hulle al die ergste deurgemaak het.

Hoe sou hul ander kinders gelyk het, wonder sy terwyl sy afkyk na haar dogtertjie. Twee broers. Wie sou hulle eendag gewees het? Wie sou sy gewees het as sy saam met hulle groot geword het? Soveel vrae wat sy nooit op antwoorde sal hê nie. Maar sy sal hierdie kind sien grootword.

“Het jy al ’ n naam in gedagte?” vra sy vir David wat susgeluide maak.

“Wil jý nie haar naam kies nie?” Vanessa skud haar kop. “Nee, ek dink jy wat aanhou glo het sy sal na ons toe kom, verdien daai eer.”

Hy maak sy selfoon oop, kyk ’ n ruk daarna. Valiant en Valerie staan daar. “So dis Valerie. Dit beteken krag – iets wat sy duidelik van haar ma erf.”

“Valerie . . . Ek hou daarvan. En net soos ek het sy ook vasgebyt. Kan jy dit glo, David? Ons eie meisiekind.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa