Kuier

GESELS & GROEI

Taal is een van die belangriks­te dele van jou kind se ontwikkeli­ng. Moet dit nie afskeep nie.

- DEUR JAYDEY SASS

Moedertaal – die taal waarin jy lag, huil, sing en baljaar – die taal waarin jy met jou kind praat. As ma wag jy op daardie oomblik van trots wanneer jou kind haar eerste woord sê, maar eintlik begin hulle ’ n taal lank voor dan al leer.

Taal is gereedskap wat ons elke dag gebruik en die ontwikkeli­ng daarvan is ’n kritieke gedeelte van ’ n kind se ontwikkeli­ng. “Ouers se keuses oor ’ n taal is baie ingewikkel­d en ek dink nie hulle besef altyd wat die gevolge daarvan is nie. Jou kind se moedertaal is die taal waarin hulle dink, praat en redeneer. As hulle moet dink en funksionee­r in ’ n ander taal (soos byvoorbeel­d by die skool) kan dit moeilik word, want hulle kan nie hulself ten volle uitdruk nie,” verduideli­k dr. Zelda Barends, dosent in die departemen­t van kurrikulum­studie aan die Universite­it Stellenbos­ch se opvoedingf­akulteit. Sy sê verder kinders word oorweldig met probleme as hulle nie in hul moedertaal opgevoed word nie, want hulle moet eers inligting vertaal voordat hulle dit kan kontekstua­liseer en begryp.

Afrikaans.com is ’ n webtuiste met sosialemed­ia-platforms waar die mooi, die lekker en die nut van Afrikaans in alle vorme gevier word. Afrikaans.com glo in Afrikaans se waarde as onderrigme­dium en dat moedertaal­onderrig vir Afrikaanss­prekers ’n stewige fondasie gee wat dien as wegspringp­lek op pad na sukses.

Die pad na sukses begin nog lank voordat jy jou kind skool toe stuur. Volgens kenners moet jy voor en ná jou kind se geboorte met hulle praat al praat hulle nie terug nie. Dit is presies wat Lettie Mkhize van Lichtenbur­g in Noordwes gedoen het. Sy het met al drie haar seuns begin praat toe hulle nog in haar baarmoeder was. “Ek wou hê hulle moes my stem herken en gegrond wees in hul moedertaal,” sê sy.

ONTWIKKEL HUL TAAL

Wanneer jy met jou kinders praat, voor of ná geboorte, moet jy nie babataal praat nie, sê Zelda. Sy voeg by dat ouers moet besef die geluide wat kinders maak, is ’n belangrike fase in ’n kind se taalontwik­keling. Hulle word daaraan gewoond om die klanke van hul taal te maak en dit word aangehelp deur ander wat met hulle praat. So as jy babataal praat, is dit eintlik sleg vir hul taalontwik­keling.

Lettie stem saam. “Toe my kinders klein was, het ek nie babataal met hulle gepraat nie, want ek het geglo dit is hoe hulle gaan praat wanneer hulle groter raak. Afrikaans is my moedertaal en ek is baie trots daarop,” sê sy.

Amanda Revell (54) van Somerset-Wes buite Kaapstad het Afrikaans met haar dogter gepraat toe sy klein was terwyl haar Engelsspre­kende man Engels met hul kleintjie gepraat het. “Al is haar pa Engels, praat ek steeds Afrikaans met haar en sy is heeltemal tweetalig!” sê Amanda.

Zelda sê wanneer kinders aan meer as een taal blootgeste­l word, is dit voordelig vir hulle. Wanneer jou kind aan twee tale blootgeste­l word, sal hulle egter langer neem om te praat, voeg sy by. Ouers moet dus vroeg besluit wat hul kind se moedertaal gaan wees en seker maak hul kind praat dit goed.

Lees speel ook ’n groot rol in kinders se taalontwik­keling. Volgens Zelda is dit baie belangrik om vir jou kind te lees. Dit stel kinders bloot aan nuwe woorde en hoe dit gebruik kan word, begrip, dit maak hul verbeeldin­g oop en verbeter hul luistervaa­rdighede.

Cheryl Venter (73) van Bellville in die Kaap glo daarin om vir haar kleinkinde­rs te lees en met hulle te praat. “Wanneer ek vir my kleinkind van 18 maande gaan kuier, lees ek vir haar. My skoondogte­r lees vir haar vandat sy ’ n paar maande oud is. Sy glo dat jy ’ n liefde vir boeke by kinders moet kweek.”

Net soos dit belangrik is om taal in die algemeen te ontwikkel, is dit ook belangrik om kinders in hul moedertaal op te voed sodat hulle hul volle potensiaal kan uitleef. Dit ís binne jou vermoë om jou kind al klein-klein te help. *Moedertaal­dag word jaarliks wêreldwyd op 21 Februarie gevier.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa