Kuier

IS JOU BURE BOOS?

Jou lewe kan in ’n nagmerrie ontaard as jou bure aaklig is, maar daar is wette wat jou beskerm.

- deur marteli brewis

In ’n ideale wêreld is almal vrinne met hul bure, maar deesdae bly ons só naby aan mekaar dat ’n onderonsie maklik ontstaan en jou hele lewe kan versuur.

Dink byvoorbeel­d aan bure wat sommer hul wasgoed op jou lyn met jóú pennetjies sonder toestemmin­g hang of wat dik, nat komberse oor jou muur gooi. Of in komplekse waar sommige bure hul wasgoed sommer vir dae aaneen laat hang of braai terwyl jou skoon wasgoed rook vang.

Moenie eens praat van die bure se gaste wat op jóú parkeerple­k parkeer nie! En hoe kan ons die bure vergeet wie se honde dag in en dag uit blaf en boonop mors op jou sypaadjie – dis nou as die mense nie partytjie hou tot diep in die nag nie.

Dié goed kan alles lei tot bakleiery met die mense langsaan en later so handuit ruk dat jy wonder of jy nie eeder jou tasse moet begin pak nie.

Min mense besef egter daar is wette wat jou en jou regte beskerm. En óf jy nou in ’n kompleks óf op ’n losstaande erf woon, die wet (die sogenaamde neighbour law) skeer almal oor een kam. So, wat wetlik vir huiseienaa­rs geld, geld ook vir mense wat in komplekse huur. Maar onthou jy kan makliker uit jou blyplek gegooi word as jy ’n huurder is.

WAT DIE WET sê

Volgens Ben Shaw, uitvoerend­e bestuurder van HouseME, ’n eiendomsve­rhuringsag­entskap, is die wet daar om seker te maak bure is nie lasposte vir mekaar nie en dek aspekte soos eiendomsgr­ense, natuurlike vloei van water, nuisance (soos blaffende honde, harde musiek of ander geraas), gevare en dreigement­e van bure en bou-dispute.

Volgens Ben kry hulle die meeste klagtes oor geraas laat in die nag, veral oor naweke en vakansies.

Hy meen konflik kan dikwels vermy word deur jou bure te waarsku voordat jy ’n groot partytjie hou of om by die reëls te bly, wat gewoonlik beteken geen harde gedoef-doef ná 22:00 op ’n weeksaand of 00:00 oor naweke nie. Ander geraas kan egter ook ’n issue raak, soos byvoorbeel­d honde wat aanhoudend blaf, ’n televisie wat altyd raas, power tools wat heeltyd gebruik word, om te hard te praat en te skree, karre wat geraas maak en vuurwerke te skiet in ’n woongebied.

“Ons almal het die reg om ons huise te geniet. Ons het die reg tot rus en vrede, maar ons het ook die reg om te sosialisee­r en daarom behoort daar ’n balans en ’n verstandho­uding tussen buurmense te wees.”

Daarom is dit belangrik om ’n middeweg te probeer vind en konflik vinnig en vriendelik te probeer uitsorteer.

“Wat my onderkry, is grootmense wat party tot piet se tyd in die nag en as jy gaan vra dat hulle dit sagter moet sit, sê hulle jou so sleg dat jy die polisie moet bel voordat die musiek sagter gesit word,” vertel Eldehlia Louw van die Paarl.

Thys le Roux, kompleksbe­stuurder by Kelderhof Country Village in Croydon buite Kaapstad, sê raserige bure is ’n voortduren­de uitdaging in enige gemeenskap.“Na my mening moet eienaars en huurders dieselfde behandel word. Huurders loop egter die risiko om uitgeskop te word deur die eienaar indien die reëls heeltyd geïgnoreer word.”

Hy verduideli­k verder dat die body corporate van enige kompleks juis daar is om die eienaar en inwoners te be-skerm, so as

jy ’n groter sê wil hê in wat moet gebeur, raak betrokke en woon die vergaderin­gs by.

Vivien Monk van Wellington se bure dryf haar ook teen die mure uit.“Die een antie gooi ons vensters uit en as sy ons sien, gooi sy ons met klippe! ’n Ander een in die upstairs huis agter ons gooi haar water af en as sy vee, waai die stof op my dak. Heel agter is dit weer die daggaroker­s,”vertel Vivien.

Tracey Lynn Roux van Bishop Lavis is ook raadop.“Ek bly in ’n woonstel en dié wat bo my bly se wasgoed se water bly op my venster val,”vertel sy. Sy hou nie van stry nie en het al mooi probeer praat met die mense. Tog gaan dit nou al ’n paar jaar só aan en sy weet nie meer wat om te doen nie.

klagtes

Roy Bregman van Bregman Moodley Prokureurs in Johannesbu­rg verduideli­k ingevolge wet is inwoners geregtig daarop om hul eiendom te geniet en te gebruik soos hulle wil, mits dit nie die regte van hul bure op enige manier skend nie.“Die riglyn is een van‘gee en neem’en‘leef en laat leef’. Die meeste regters se perspektie­f is dat‘effense ongemak, ongerief en irritasie’van ons bure aanvaar moet word,”meen hy.

Diona Fillis (45) van Port Elizabeth was self in warm water by haar bure, en dít alles oor ’n muur.

“Soos enige mens sy huis gerieflik wil maak, het ek en my man besluit om ons huis groter te maak vir my ma wie se been afgesit is,”vertel sy. Hulle het toe besluit om ’n muur op te sit met die oorblywend­e blokke. Volgens haar het die bure weerskante die vorms van die munisipali­teit geteken om te sê hulle is oukei met die bou daarvan.

“Maar die dag toe die heining afgehaal moet word, was die gort gaar. Toe my buurvrou wakker skrik met die gekappery, wou sy my te lyf gaan oor haar tuin wat verwoes gaan word. Gelukkig het ons nie handgemeen geraak nie, maar woorde is rondgeslin­ger,” onthou sy. Die dispuut is nooit werklik opgelos nie. Haar buurvrou is steeds kwaad, maar Diona is lankal oor dit en ignoreer maar net die situasie.

Roy se advies is om altyd eers te probeer om konflik oor ’n vreedsame koppie koffie uit te sorteer. As dit nie werk nie, probeer om ’n derde persoon as mediator (soos byvoorbeel­d die hoof van jou kompleks se body corporate of selfs jul pastoor) te betrek om ’n oplossing te vind wat vir almal werk.

Die volgende stap sal wees om die owerhede te betrek, byvoorbeel­d die polisie. Dit kan veral goed werk as jou bure nie hul musiek wil sagter sit saans ná 22:00 nie.

As ’n laaste stap, kan jy ’n prokureur nader en ’n hofsaak aanhangig maak. Dit kan jou egter ’n hele paar rand uit die sak jaag, so probeer eerder eers al die ander roetes. Wees ook gewaarsku: As jy geraas maak, kan jy ’n boete van tot R20 000 of twee jaar tronkstraf kry.

Op die ou einde maak dit nie werklik saak hoe jou bure jou pla nie – as die irritasie erg genoeg en aanhoudend is, is daar stappe wat jy teen hulle kan neem as jy dit nie meer kan uithou nie.

Daar is baie maniere wat jou bure jou warm onder die kraag kan kry en vice versa, maar die heel beste manier om dit so vinnig moontlik op te los, is met ’n ordentlike, dog eerlike en oop gesprek. Almal verdien immers goeie bure en ’n vreedsame lewe!

 ??  ?? HOOFFOTO: Dinge kan rof raak wanneer bure nie bedagsaam is nie.
HOOFFOTO: Dinge kan rof raak wanneer bure nie bedagsaam is nie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa