Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Paasfees is ’n tyd van samesyn en al is almal nie meer met ons nie, is daar altyd die mooi herinnerin­ge wat sal bly.

- DEUR KEITH MEYER

Paasfees is of kan soms, behalwe ’n geestelike tradisiefe­es, ook ’n nostalgies­e fees wees. Want sien, diep in die hart van Paasfees drentel die herinnerin­ge van vroeër rond.

Die ingelegde kerrievis word mos van die mittejalas van toentertyd gemaak en van geslag tot geslag oorgedra. Paasfees is die tyd wanneer die geur van kerrie oor die hele township hang. Dis die einste geur wat gemeenskap­pe in gemeen het en verenig oor die Easter weekend.

Kerrievis en hot cross buns is eie aan ons kultuur. Dis iets waarop ons almal trots is en nostalgies aan vorige jare laat dink. Natuurlik bring dit heimwee van kinderdae ook. Van hoe my skoonma van Manenberg daai style van kerrievis na my township in die Karoo gebring het. Pickled fish so sterk dat die neusies loop en die lyfies jeuk.

’n Kombuis vol van kerrie-bevlekte vadoeke wat wag vir die Jik om hulle by te kom. Dan wag die Steradent vir die geel valstande en die Colgate vir die res met hul eie! Alles volgens haar geheime resep – daardie resep is ongelukkig saam met haar graf toe. En soos ek hier skryf, water my mond behoorlik en ruik ek die vis en uie wat met liefde ingelê was. Ek sluk swaar aan die knop wat nou in my keel sy sit kom maak, ek stry teen die trane wat in my oë opwel . . .

Dan is daar die geel-en-pers oondbak waarin my oorle’ ma haar vis ingelê het. Soveel liefde en memories word oopgemaak elke Paasfees wanneer ons daardie bak uithaal omdat dit net vir Paasfees se kerrievis gebruik word. Dan sien ek haar in haar pienk overall in haar kombuisie van ons huis oorkant die Apostolies­e kerk.

Snaaks hoe ek ook nou die Paasfeesko­ortjies vanuit daai kerk hoor, “Jesus kruis-en-marteldood, is my skuld in alle nood”. Ma het altyd seker gemaak ons sing saam, want vir haar was Paasfees meer as net kerrievis en hot cross buns.

Behalwe vir die kerrievis is daar ook Easter eggs. Die eiers wat geboorte voorstel. Dié Paasfees sal ek as oupa weer vir klein Blake moet verduideli­k waarom ek dan ewe skielik die huis met eiers besaai.

Wonderlik om te weet dat die tradisie ook vir kinders wat nie die sterk kerrievis sal kan verorber nie, voorsienin­g maak in die vorm van daai groot tjoklit-Paashaas wat sy ouma Miela vir hom gaan koop. Nes oorle’ oupa Kabous meer as vyftig jaar gelede vir my Paashasies gekoop het.

Paasfees is ’n tyd wanneer families herenig. Dit bring mee dat van ons dan die langpad oor die Paasnaweek moet aandurf. Dit bring my by die Arrive Alive!-veldtog. Ek kry sulke rillings teen my ruggraat af as ek die land se paaie in my geestesoog sien. Die liedjie “Jesus take the wheel” is al wat ek vir die Paasganger­s kan toebid.

Die nagmerrie op ons paaie kan gekeer word as ons net meer verdraagsa­am is teenoor ander padgebruik­ers. Vra maar hoe daardie kruise wat mense teen die paaie oprig, die herinnerin­ge aan diegene wat nooit die voorreg van hierdie jaar se Paasfees sal ervaar nie, die hart binnedring. Soos daardie keer toe ek as joernalis ’ n ongeluksto­neel moes dek en die Paashasies in een van die voertuie gestrooi gelê het. Dalk was daar ’ n kind in die kar, dalk was dit iemand wat dit vir kinders by die huis gekoop het en op pad was om dit vir hulle te neem . . .

Hierdie Paasfees sal ons weer opoffer, net soos ons geleer was – geen wyn of vleis of brood oor die Paasnaweek nie. Heilige tradisies. Elke keer speel dieselfde tradisies af, maar soms is daar een minder van ons.

Weer kom sit daardie knop van vroeër in my keel. Paasfees sal die knop weer sy verskyning maak. Maar ons is dankbaar vir die familie en vriende saam met wie ons nog lekker kerrievis en hot cross buns kan geniet. Ons is gebless. Al is ons minder, het ons ’ n geel-en-pers oondbak propvol herinnerin­ge.

En soos ek hier skryf, water my mond behoorlik en ruik ek die vis en uie wat met liefde ingelê was.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa