Kuier

Boodskap: Beleef die ware Paasboodsk­ap

Tussen ons geboorte en sterfte moet ons mooi lewe – soos Jesus dit wil hê.

- DEUR DS. QUENTIN S. MINNAAR

Ter voorbereid­ing op ’ n begrafnisd­iens wat ek ’ n paar jaar gelede moes waarneem, het ek die gedig van Linda Ellis, “The Dash”, raakgelees. Met die aanvanklik­e lees daarvan het ek besef dat twee dinge gewoonlik my aandag trek wanneer my oë vir die eerste keer op ’ n grafsteen val: die geboorte- en sterfdatum. Daarna gebeur dit half natuurlik dat ek ’ n som in my kop maak om vas te stel wat die persoon se ouderdom was ten tye van hul dood, en of die persoon na my mening ’ n vol lewe gehad het al dan nie. Die ander inligting op die grafsteen was bloot bykomend, totdat ek “The Dash” gelees het.

In “The Dash” vertel Linda Ellis van ’ n man wat ’ n toespraak gelewer het by sy vriendin se begrafnis. Al het hy in die toespraak na haar geboorte- en sterfdatum verwys, het hy benadruk dat daar op enige grafsteen baie meer as net die geboorte- en sterfdatum gesien kan word – dat dié datums slegs ’ n klein deel van ’ n groter verhaal is. Die groter verhaal word vertel deur dit wat tussen die geboorteen sterfdatum gesien word: ’ n strepie.

Die strepie verteenwoo­rdig die lewensverh­aal wat op aarde afgespeel het. Al die foute wat in die lewe gemaak is, al die vreugdes wat gedeel is, al die seer wat beleef en al die lesse wat geleer is, word in die strepie opgeneem. Niks vind dus buite die strepie plaas nie. Verder lê die waarde van die strepie in die manier waarop daar geleef en in die liefde wat gedeel is en nié in al hul besittings nie.

“The Dash” is ongetwyfel­d ’ n oproep gerig tot elke mens om erns te maak met die lewe tussen hul geboorte- en sterfdatum­s. “The Dash” protesteer teen ’ n oor

waardering van die lewe ná die dood en teen ’n onderwaard­ering van die lewe vóór die dood. Dit is ’n pleidooi en ’n uitnodigin­g om met liefde, warmte en respek teenoor ander mense te leef en om met groter waardering vir die lewe vóór die graf te leef.

Uiteindeli­k verwoord “The Dash” vir my iets van Jesus se evangelie. Die evangelie wat verkondig: Tussen die krip, die kruis en die leë graf is daar ’n strepie . . . Jesus se strepie. Jesus se aardse lewe!

In die krip ontmoet ons Jesus die Koning wat in eenvoud op aarde gebore is. By die kruis ontmoet ons die Koning wat op ’n vreemde manier gekroon is. Voor die leë graf ontvang ons die eerste teken dat die Koning inderdaad in die hemel en op aarde regeer. Tog sal die diepste betekenis van dit alles verlore gaan sonder Jesus se strepie. Soos die krip, die kruis en die leë graf onlosmaakl­ik deel is van mekaar, só is Jesus se strepie ook.

In Sy strepie wys Jesus wat onvoorwaar­delike liefde is en pleit Hy dat ons, gedring daardeur, mekaar ook só moet liefhê. In Sy strepie word alle vorme van mensgemaak­te grense afgebreek en ontvang ons die opdrag om enige vorm van skeiding tussen mense ten sterkste te verwerp. In Sy strepie stuur Hy Sy volgelinge om lig te wees in ’n pikdonker wêreld, sodat die wêreld kan glo. In Sy strepie bid Hy vir eenheid onder Sy volgelinge en preek Hy vergifnis. In Sy strepie is Hy op ’ n besondere wyse aan die kant van die arme, die noodlydend­e en die verontregt­e, en roep Hy Sy volgelinge om hom hierin na te volg. Só lyk Sy strepie!

Die krag van die krip, die kruis en die leë graf lê dus nie in die geskenke wat tydens Kersfees uitgedeel word of die kruisies wat om nekke gedra word of die Paaseiers wat Paasfees geëet word nie. Nee, die krag van die krip, die kruis en die leë graf lê in volgelinge van Jesus se bereidwill­igheid om dit wat hulle in Sy strepie sien en hoor, in hul eie strepies uit te leef.

Ons strepies word gevul met honger kinders; met jong mense wat hul drome prysgee; met huisgesinn­e en familiestr­ukture wat disintegre­er; met vroue wat mishandeli­ng moet verduur; met korrupsie wat toegesmeer word; met diskrimina­sie en met politieke leiers wat skatryk word terwyl die kiesers moet bid: “. . . gee ons vandag ons daaglikse brood.”

Suid-Afrika smag na volgelinge van Jesus wat bereid is om hul strepies met warm liefde en wedersydse respek te vul.

Mag ons hierdie Paasfees die strepie tussen die krip, die kruis en die leë graf herbesoek. Mag ons hierdie Paasfees ons eie strepies opnuut ondersoek. Eintlik het Jesus nie net ’ n strepie nie . . . Hy is dié strepie! Hy is dié Lewe!

Geseënde Paasfees.

Suid-Afrika smag na volgelinge van Jesus wat bereid is om hul strepies met warm liefde en wedersydse respek te vul.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa