Longsiekte: Seuntjie al twee jaar in hospitaal
Hy is nog net vier, maar reeds van babadae af moes hy vir sy lewe veg as gevolg van popcorn lung.
Om ’n normale swangerskap te ondergaan en normaal geboorte te gee aan ’n gesonde baba, maak ’n moederhart gerus. Vir Simoné Rhoda (35) van Kraaifontein in die Kaap was dit die geval toe haar tweede seuntjie, Travonne Rhoda, gebore word.
Sy koms het net plesier gebring en Simoné het die groeiende band tussen haar en Travonne geniet. Sy het elke minuut op haar kraamverlof met Travonne en sy ouer broer, Terriano Christoffels (toe 10), waardeer. Vir Simoné en Clement Christoffels se groeiende gesin was Travonne die toonbeeld van ’n gelukkige baba. Dinge het egter vinnig verander.
’n Hoesie was die begin van Travonne (nou 4) se reis met kwale tot waar hy nou al vir twee jaar lank hospitaalgebonde is.
Simoné begin bewerig vertel:“Die hoesie was aanhoudend en iets was nie pluis nie. Niks wat ek gekry het, het gehelp nie en Travonne het agterna begin opbring wat dokters voorgeskryf het. Hy is vir toetse gestuur en toe met adenovirusse gediagnoseer. Ons het gedink dis net erge verkoue en dat dit sal oorwaai. Travonne was toe vir X-strale gestuur en gediagnoseer met dubbele longontsteking. Hy was net ses maande oud.”
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) veroorsaak adenovirusse siektes soos verkoue, brongitis en longontsteking. Dubbele longontsteking is ’n longinfeksie wat albei jou longe raak en maak bemoeilik asemhaling.
Simoné haal eers diep asem voor sy verder begin praat.
“Met die diagnose van die dubbele longontsteking het dokters gesê dinge lyk nie goed nie en sy longetjies is spierwit. Hy het min suurstof in sy liggaam gehad. Hy het net gelê en niks gehuil nie. Ek kon net my kind aankyk en vir hom bid. Ek het baie gebid. ’n Aanhoudende hoesie het Travonne verander in ’n maande oue baba vol kwale. Dit was die begin van ’n op en af Melomed-hospitaal toe.”Oor die jare het die binnekant van Melomed-hospitaal in Bellville en die personeel soos huis en familie geword vir dié klein vegtertjie.
wat is popcorn lung?
In 2017 is Travonne met bronchiolitis obliterans gediagnoseer, beter bekend as “popcorn lung”. Volgens die WGO is“popcorn lung”’n seldsame mediese toestand
wat die brongiole, die long se kleinste lugweë, beskadig. Met verloop van tyd veroorsaak popcorn lung dat longweefsels en lugweë smal word, wat asemhalingsprobleme veroorsaak. (“Popcorn lung”kom van die chemiese middel, diacetyl, wat gebruik word om voedselprodukte soos popcorn, ’n ryk bottergeur te gee.)
Dokters vermoed die dubbele longontsteking kon gelei het tot Travonne se toestand. Popcorn lung is onomkeerbaar en daar is geen geneesmiddel vir die toestand wanneer dit ontwikkel het nie. Daar is behandelingsopsies om simptome te beheer of te verminder en verdere longskade te beperk. Soos simptome vorder, word die longskade ernstiger en die behandeling word veel meer uitdagend. Van die medisyne wat hy moet gebruik, veroorsaak byvoorbeeld gewigstoename.
Travonne is nou twee jaar hospitaalgebonde, maar hy lyk gelukkig. Hy het nooit sy vreugdevolle gesindheid verloor nie, vertel sy ouers. Tog het hy ook sy af dae en hy raak by tye gefrustreerd, maar dis asof hy vrede gemaak het met sy toestand.
Simoné erken dit is nie maklik by tye nie, maar sy het net altyd biddend gebly.
“Sommige tye kyk ek my kind dan dink ek by myself,‘Hoe doen hy dit?,‘Hoe maak hy dit deur elke dag?’. Travonne is soos enige vierjarige, hy wil speel. Laasjaar kon hy nog loop, maar nou kan hy net op sy bed wees en loop is baie moeilik vir hom. Hy raak vinnig moeg en sy spiere is swak.”
Aangesien Travonne sy siekte met groot moed aanpak, het hy die harte van diegene rondom hom gewen. “Travonne hou van YouTube-video’s kyk en is mal oor Emo Adams en Early B, albei het hom al besoek by die hospitaal. Hy beskou Emo as sy bestie en is mal oor Early B se‘Ben10’-liedjie. Hy is net ’n onskuldige kind, onbewus van die realiteit van sy lewe. Hy raak by tye gefrustreerd, maar hy is so ’n happy-go-lucky-kind dat niks sy bui kan bederf nie.” Tog raak dit soms te veel vir dié ma om te weet sy moet elke dag haar kind in die hospitaal los. “Dit raak stresvol en alhoewel ek my seun graag by die huis wil hê, vertrou ek op God se plan en weet dat die hospitaal die beste plek is vir sy gesondheid. Ons is baie, baie dankbaar vir Melomed se personeel. Terwyl ek en Clement nie by die hospitaal is nie, weet ons Travonne kry die beste sorg. Dis daar by Melomed waar hy sy eerste treetjie gegee het, sy eerste tande gesny het en sy eerste woordjies gesê het.” Vir Travonne se broer was dit ook nie maklik nie. Hy kon nie verstaan wat aangaan met sy broertjie nie. Daarby moes hy altyd agter in die ry staan omdat Travonne se behoeftes soveel groter is. Sy ouers sê hy verstaan by nou en het oor die jare baie oorbeskermend geraak oor Travonne.
GEBED
Simoné sê mense se gebede is die enigste ding wat hulle staande hou en laasjaar op Saterdag 29 September was dit weer ’n bewys watter krag gebed dra. Dít was die dag wat haar klein vegtertjie die naaste aan die dood was.
Sy maak haar keel skoon en sê emosioneel: “Ek het Travonne se broer uitgevat en gevoel ek gaan hom bederf omdat hy so min van ons aandag gekry het. Ons was cinema toe en toe sien ek net daar is missed calls op my foon.
“Toe die oproepe aanhoudend begin raak, het ek geweet iets is ernstig fout. Ek is toe hospitaal toe en toe ons daar aankom, het die personeel wat van diens af is almal buite sy kamer gestaan en bid en sommige het gehuil. Sy hospitaalbed was omring deur verpleegsters wat vir hom bid. Dit was die eerste keer wat ek histeries emosioneel geraak het. Ek het gedink ek verloor hom daai dag.”Sy organe het gefail en personeel was besig met resuscitation en vir Simoné was dit moeilik om te aanskou. Travonne was op life support gesit en dokters het aan Simoné-hulle gesê hy wil nie hul hoop wegvat nie, maar dinge lyk nie goed nie.“Almal het kom bid by die hospitaal – familie, vriende en kerkleiers.”
Die Maandag toe die dokter bloed trek, was alles normaal. Sedertdien was hy vier keer op life support.
Travonne se siekte het ook finansieel sy tol geëis, maar Simoné is dankbaar vir die ondersteuning wat hulle kry.“Om mediese koste te dek, het baie fondsinsamelings die afgelope vier jaar plaasgevind, insluitend ’n jaarlikse gholfdag en die Travonne Rhoda-sewesrugbytoernooi. Die mediese rekeninge is nie meer so hoog soos dit eens was nie en ons as familie kan nie genoeg dankie sê aan die mense wat fondinsamelings reël nie.”
Vir die personeel van Melomed-hospitaal sal die ouers ook ewig dankbaar wees. “Ek en Clement het een keer per maand ’n vergadering met die hospitaal, waar hulle Travonne se behoeftes en begeertes, asook ons s’n, bespreek. Ek het nou vir hom leermateriaal gekry van graad R en die personeel leer hom mooi. Travonne is gelukkig waar hy is en al wil ons hom graag by die huis hê, weet ons die hospitaal is die best plek vir hom.” Die familie wil teruggee aan die gemeenskap en versamel skryfbehoeftes vir behoeftige graad R-klasse. Hoewel Travonne se toekoms nog onseker is, is hy nie net ’n vegter wat nooit opgee nie, maar ook ’n oorwinnaar wat die harte van baie aangeraak het deur so baie struikelblokke in ’n kort tydjie te oorkom.
En steeds sal almal aanhou bid vir ’n wonderwerk om hom huis toe te bring, na sy gesin waar hy hoort . . .
Dis daar by Melomed waar hy sy eerste treetjie gegee het, sy eerste tande gesny het en sy eerste woordjies gesê het. SIMONÉ RHODA