‘SÓ BREI MENS TWEE BOKKE’
Dié twee onnies het die Bokke Kurt-Lee Arendse en GrantWilliams geleer hoe om te‘dummy’ en te ‘pass’
Rugbykoors loop hoog in die land, maar in die Gertze- en Matthee-huishoudings in die Paarl kan hoor en sien maar vergaan as die Bokke op die veld uitdraf. Want dis ’n rugbyhuis dié. Met die onlangse Wêreldbekerdebuut van twee plaaslike helde, Kurt-Lee Arendse en Grant Williams, het dié Bokke se heel eerste afrigters trots voor die kassie ingeskuif. Kurt-Lee en Grant was beste pelle sedert hulle op laerskool saam vir die o.7-span uitgedraf het, en hulle is vandag twee van die skerpste angels in die Bok-agterlyn.
En niemand is trotser as die twee onnies wat Kurt-Lee en Grant kleintyd rugby geleer het nie: Godfrey Gertze (55), hul o.13-afrigter aan die Laerskool
Paulus Joubert, en sy kollega Sylvia Matthee (56), wat hulle op sewejarige ouderdom gewys het hoe om te“dummy”, “sidestep”en “pass”.
Toe die laaste klanke van“Nkosi Sikelel’iAfrika”met hul debuutwedstryd teen Skotland in Marseille weggesterf het, het Godfrey luidkeels gebulder: “Go, Bokke!”en Sylvia in haar Groen-engoud-trui het agterna gekoor:“Komaan, Kurt-Lee!”
Godfrey en Sylvia kon nie help om kort-kort“daar’s hy!”te skree wanneer hulle Kurt-Lee op die veld gesien nie. En toe hul kaalvoetspelertjie van destyds in die 51ste minuut soos ’n pyl uit ’n boog langs die kantlyn af gehol het, Manie Libbok se skitterende dwarsskop op volspoed gevang en ’n droomdrie geplant het in die doelgebied, het dié twee onnies uit hul nate gebars van trots.
Onderwys en sport is in Godfrey en Sylvia se bloed. Godfrey se ouers was albei onderwysers, en hý rig al 27 jaar rugby by die laerskool af. Sylvia se ma was ’n hokkiespeler en haar pa ’n rugbyspeler,“so ek is vertroud met enige sport”, vertel sy.
Sylvia reken haar rugbykennis was altyd goed.“Maar soms het ek ander onnies genader en gevra:‘Meneer, ek het die kinders nou skrum gewys of lynstaan laat doen; kom kyk gou of ek hulle reg geleer het.’”
ELKEEN SE UNIEKE ROL
Toe Kurt-Lee en Grant die o.13-ouderdomsgroep bereik, het Godfrey by Sylvia oorgeneem.“Ek het hulle die basiese tegnieke geleer, maar hulle toegelaat om vrylik te speel,”sê hy.“Ek wou nie hul natuurlike vaardighede demp nie.”
Albei onnies is dit eens dat sport nog altyd belangrik was vir hul skool.“Ons is eintlik ’n arm skool,”sê Sylvia.“Ons ouers kry swaar, ons kinders kry swaar, maar
ons kinders het daai trots wat hulle altyd vir jou sal wys. Hulle sal nooit wys dat hulle minderbevoorreg is nie.”
Sy vertel mense het swaargekry in die straat waar Kurt-Lee grootgeword het, en hy het soms kaalvoet skool toe gekom.“Om hom nou in daai Springboktrui te sien, is ’n hoendervleis-oomblik,” laat sy hoor.
Godfrey voeg by:“Tóg is Kurt-Lee en Grant vandag albei nog net so nederig. As hulle in die Paarl is, kom groet hulle altyd. Dan raak ons skool ’n malhuis!
“Dan moet ons eers byeenkoms hou, en Kurt-Lee gee altyd ’n motiveringspraatjie vir die kinders – dat hul omstandighede hulle nie moet terughou nie.”
By hul laerskool moet al die kinders aan ’n sport deelneem, vertel Sylvia, “maar daar was net iets aan Grant en Kurt-Lee”.
Destyds reeds het dié twee talent gewys.“Hulle het al in die o.7-span uitgestaan. Toe hulle vir die o.9-span begin speel, kon ek hulle ’n bietjie verder druk. Ek het toe gesien dié manne kan perform.”
Ná ’n wedstryd het sy ’n ouer gevra om haar by hulle af te neem. Min het sy toe geweet dié dowwe foto waar sy oor haar twee sterretjies buk, sou so ’n lang pad stap.“Hoe ironies dat Juffrou al destyds hulle twee saam afgeneem het, en nou is hulle weer saam, en dié keer in die Wêreldbeker,”sê Godfrey.
Sylvia tel weer die bal op: “Grant was klein en Kurt-Lee was ’n langbeenseun.‘Granty-boy’het nie baie gepraat nie, maar hy was vinnig op die rugbyveld.”
HARDE WERK IS BELOON
Godfrey wei uit oor Grant se opkoms in rugby.“Hy was meer ’n atleet op skool. In gr. 11 was Grant in die o.19F-span, en in gr. 12 toe haal hy die o.19C-span!
“Toe, net voor sy hoërskool se derby in sy matriekjaar, kry hul topskrumskakel seer. Toe haal Grant die span. Hy het die enigste drie in daardie wedstryd gedruk en gemaak dat hul skool die derby wen.”
Die onderwys is nie altyd maklik nie, sê die twee kollegas, maar oomblikke soos om oudleerders in Springboktruie te sien meeding aan die Wêreldbekerrugby-toernooi, maak dit alles die moeite werd.“Wát ’n groot oomblik,” sê Sylvia.“Twee van ons leerders in die Wêreldbeker . . . en dít nogal in die verdedigende kampioene se span.”
Kurt-Lee het baie hard gewerk om bo uit te kom. Ná hy skoolrugby gespeel het, het hy vir Boland uitgedraf. Hy was by die WP Akademie, tot een van die land se goue rugbyseuns en medePaarliet, Chester Williams, hom raakgesien en vir die Universiteit van WesKaapland (UWK) laat speel het.
Kurt-Lee het by Sewesrugby opgeeindig en vir die Blitsbokke gespeel. Hy het vroeër aan Kuier vertel hoe wyle Chester destyds vir hom gesê het: “You can make it. You can play for the Springboks.”Dié geloof het in Kurt-Lee nesgeskop.“By UWK het coach Chester so baie in my geglo. Hy het iets in my gesien. Ek het besluit om in myself te glo en myself ’n kans te gee.”
En nou skitter hy op rugby se wêreldverhoog – met Grant aan sy sy.
“Hulle maak ’n mens trots,”sê Godfrey. “Ek is baie tevrede met hul spel. Jy kan sien dít wat ’n mens hom destyds geleer het, pas hy vandag nog toe. Ons is trots op hulle.”