Kuier

EN BESKUIT “D

- Deur ANNA KIRCHNER

ie lewe druk jou dié kant toe, en dan weer daai kant toe. En nes jy dink jy’t nou genoeg gehad, dan kom kry hy jou weer van ’n ander kant af.” Leentjie sit dadelik die ketel aan toe haar vriendin, Sarie, by die agterdeur inkom. Sy weet hulle het nou altwee ’n lafenissie nodig.

“Ai, Sarie. Wat is dan nou verkeerd, jong? Wat pla, vriendin? Kom, sit eers. Ek maak vir ons tee, dan praat ons.”Sy pak twee koppies met pierings uit op die tafel en vul ’n beker met melk terwyl sy vir die ketel wag om te kook. Sarie skuif reg op die kombuissto­el.“Gee sommer daar ’n beskuitjie ook, Leentjie. Ek is nou lus vir iets by die tee”.

Leentjie haal gedwee die beskuit van die rak af en pak dit in ’n bakkie vir hulle twee. Sy kan sien Sarie het nou behoorlik haar sit gekry. Die ketel kook en sy maak vir hulle die tee. Sarie doop ’n beskuitjie in die tee en voor dit kan verkrummel en afval, hap sy reeds.“Ja-nee, Leentjie, jy mág maar bak,”prys Sarie. En sy vat nog ’n beskuitjie.

Leentjie hou daarvan as mense haar beskuit geniet. Sy kry gereeld bestelling­s en dít vul darem weer ’n paar gate.

Sy is dankbaar dat haar Ma haar leer bak het. Die ekstra geldjies het haar al deur baie krisisse gedra. Dis juis een van die dae weer skoolvakan­sie en dan kry sy gewoonlik baie bestelling­s van die skoolkinde­rs se ma’s af. Die winkel in die Hoofstraat bestel dán ook meer beskuit. Dis ekstra werk, maar die moeite werd.

En sy wil haarself graag bederf ná jare se gesukkel. Sy spaar nou al lank van die beskuitgel­djies vir ’n nuwe kerkhoed. Daar het juis verlede week nuwe voorraad by Bonnet Boutique ingekom. Sy het haar oog op die lilac een met die breë rand en fyn koord daarom in ’n donkerder pers. Sy kan nie wág nie!

“Ek dink nog‘n koppie tee sal net die ding doen, Leentjie,”sê Sarie dan. Sy staan maar gedwee op om die ketel weer te kook. Sy kan sien Sarie kry swaar. En sy weet Sarie kan haarself partykeer dinge so aantrek. Sy sal maar vandag geduld met haar moet hê.“Nou vertel wat is fout, Sarie. ’n Gedeelde bekommerni­s maak die probleem ligter”.

“Man, jy weet. Alvin.”Sarie bly stil.

Sy wil nie haar man, Alvin, slegsê nie. “Ons kom al so ’n lang pad van die skoolbanke af saam. Hy’s ’n goeie man wat nog nooit sy hand vir my gelig het nie. Hy het altyd hard gewerk om vir ons te sorg. Nog steeds. Die afgelope paar maande selfs saans laterig, én elke naweek. Hy kom moeg by die huis, eet, gaan stort en gaan slaap. Ons praat nou al maande lank bittermin. Hy is té moeg.

“Maar, ek het gevoel hy werk so hard by die pakstoor en dan nog saans en naweke die ekstra werk ook . . . Ek wou nie kla nie. Toe ek vanoggend gaan eiers koop, kom Beatrice ook in die winkel. Jy weet mos hoe sy is. Is mos al van skooldae af agter Alvin aan. Sy’t mos Saterdae met die tuiswedstr­yde gaan rugby kyk en dan agterna by Alvin en sy vriende rondgehang in die hoop dat hy haar sou raaksien. Toe ons trou was sy mos omtrént ontsteld,”onthou Sarie.

“Maar, buurvrou, dit was lank gelede en jy en Alvin het mos ’n gelukkige lewe saam gebou. Wat het dan nou gebeur wat jou so ontstel het?”vra Leentjie.

“Nee, Leentjie. Beatrice staan toe so leedvermak­erig daar in die ry by die till en praat kliphard vir almal om te hoor. Jy weet mos, sy wil graag gesien en gehoor word. Sy vra toe kastig heel onskuldig hoe dit by die huis gaan. Is alles nog reg?

Ek wou nog antwoord, toe gaan sy net aan. Seg sy nou daar voor almal sy sien Alvin werk so baie oortyd. Elke naweek is hy besig daar by Veritie se plekkie.

“Leen, jy weet mos wie’s Veritie? Haar man is so ses maande gelede oorlede. Nog jongerig. Nou ja, toe sê Beatrice presies dít. Dat Alvin darem baie oortyd werk by so ’n mooi weduweetji­e.”

Die trane loop oor Sarie se wange en sy snuif kliphard.“Hy’t vir my gesê dat hy en ander buurman, Samuel, kaste regmaak en dat hy doodmoeg gewerk is. Dís hoekom hy nie eintlik meer saans sit en gesels nie. Nou moet ek hoor hoe mense agter my rug lag en praat, want hulle dink ek kan nie my man behou nie.

“En toe Beatrice by die winkel uitloop, seg sy snedig dit kom van‘jare lank se huwelike’, en‘mans hou van ’n bietjie change’. Die vermetelhe­id om my Alvin so te beledig! Ja, skink maar nog ’n teetjie. Ek gaan net vanaand dat Alvin sy goed pak.”Sarie hik eintlik soos sy snik. “Ek soek nie ’n man in my huis wat my verneuk nie.”

Leentjie kyk op die kombuishor­losie. Dit raak laat en sy wou so graag vandag al die hoed by Bonnet Boutique gaan koop het. Die lilac een. Voordat iemand anders dit koop. Maar sy kan haar vriendin nie so hartseer los nie.

“Kyk, Sarie, Beatrice is ’n vrou wat graag moeilikhei­d maak. Dalk moet jy eers die storie goed bedink. Alvin is ’n goeie man en al wat ék nog gesien het, is dat jy en die kinders sy alles is.”Maar Sarie wil nou éérs niks hoor nie.

“Nee, hy moet loop. Dis hoekom hy al die tyd so moeg is. Dis nie van kaste inbou nie. Dis van mooi weduwees!”

“Sarie,”probeer Leentjie weer.“Wag tot ná aandete vanaand, wanneer julle altwee rustig sit. Dan praat jy eerlik met Alvin. Kyk wat sy reaksie is. Maar werk net op feite. En moet hom nie aanval nie. Mans reageer sleg daarop. ”

Sy kyk weer na die horlosie. Dis nou te laat om winkel toe te stap. Sy sal maar môre moet gaan. Maar sy sal môre met haar bestelling­s besig wees, onthou sy.

“Kom, Sarie. Gaan poeier jou neus en maak ’n lekker aandete vir Alvin. Dan kan julle later rustig gesels.”

Sy stap saam na die hekkie in die heining tussen hulle twee huise.“Moenie dat Beatrice soos ’n slang in jou huwelik inseil nie,”groet sy. Sy is hartseer vir haar, maar Sarie moet alles self uitsorteer. Leentjie kan haar net ondersteun.

Die volgende oggend dink sy net aan die hoed. Maar dan kom Sarie weer met ’n sug by haar kombuis in, en dit lyk of sy enige oomblik in trane gaan uitbars. “Sarie?”vra Leentjie.

“Nee, Leentjie. Ek het toe gedoen soos jy gesê het. Maar nou is dinge erger as vóór dit!”Sy wil-wil begin huil.“Alvin kom met halwe stories uit. Ek weet nie wíé om te glo nie. Natuurlik wil ek vir Alvin glo, maar Beatrice het nou met my kop gesmokkel. Toe ek vra hoekom hy nie maar minder ekstra jobs aanvat nie, toe raak hy tjoepstil en gaan slaap. Nou weet ek glad nie meer nie. Hy is my man en ek gaan hom nie laat gaan nie. Ag, toe, sit die ketel aan? ’n Koppie tee sal nou lekker wees. Mét ’n ou beskuitjie.”

Laatmiddag, toe sy klaar beskuit gebak en bestelling­s opgemaak en afgelaai het, kry Leentjie eers weer kans om by die winkels uit te kom. Die lilac hoed wag op die rak. Sy pas dit weer op. Dit lyk asof dit net vir haar gemaak is. Sy betaal daarvoor en teen sesuur is sy terug by die huis en besig met aandete.

Sy sien die ligte langsaan is aan en wonder hoe dit daar gaan. Sy ken hulle al van kindsbeen af en kan nie glo dat Alvin die kat in die donker sal knyp nie. Beatrice kan nie reg wees nie – mág nie reg wees nie. Leentjie weet ook sy mag nie inmeng nie. Net vir Sarie ondersteun.

Die volgende oggend kan sy ’n klein bietjie later opstaan, want al haar bestelling­s is klaar. Sy vat haar tyd in die kombuis met ’n klein ontbyt en haar oog vang die mooi hoedeboks wat sy gister laatmiddag op die kombuistoo­nbank neergesit het. Sjoe, die hoed gaan Sondag mooi lyk kerk toe! Sy gaan hoëhakskoe­ne ook aantrek. The envy of the town, dít gaan sy wees! Dan voel sy ’n klein bietjie skuldig dat sy wil spog. Maar net ’n klein bietjie.

“Môre, môre. Is die ketel aan? Oe, Leen, het ék goeie nuus! Haal sommer‘n beskuitjie ook uit. Jy sal nooit glo nie!”

“Wat, Sarie? Vertel, jong. Jy klink glad vrolik. Wat wals jy so rond, jong?”

“Nee, kyk. Gisteraand toe kan Alvin nie meer sy geheim hou nie. Hy moes besef het my senuwees was rou. Toe vertel hy my dat hy al die ekstra werk om ’n baie goeie rede aanvaar het,”vertel Sarie.

“Veritie het ’n groot polisuitbe­taling ná haar man se afsterwe gekry en sy wou haar kombuiskas­te en die hoofslaapk­amer se kaste laat vervang. Sy weet sy kan Alvin vertrou om‘n ordentlike job te doen. En Alvin wou baie graag die ekstra inkomste hê.”

“Ja, ja, maar hoekom wou hy jou dan niks sê nie?”por Leentjie aan.

“Dís juis die goeie nuus, Leentjie! Jy weet van Alvin se broer, Marvin, met die groot huis in die Kaap? Wel, dis Sondag ons anniversar­y. En Alvin vat my Kaap toe vir ’n paar dae om te gaan kuier! Dan kan ons sommer die kinders ook sien.

“Leentjie, hy het so baie ekstra jobs gedoen sodat hy genoeg geldjies vir die naweek het om ons te kan treat. Oe, ek is so excited! Sondag gaan die hele familie kerk toe, dan gaan ons ons vows renew. Dis klaar gereël. Kan jy dit glo? Hy doen dit spesiaal vir my. En om te dink Beatrice het gedink sy kan gif in ons huwelik saai. Gmf. Hou verby, Delila.

“Jy moet my help om ’n mooi outfit vir Sondag bymekaar te sit, Leen. Kom sommer ná middagete oor dan kan ons deur my klerekas gaan.”

Toe sy wil omstap na Sarie toe gewaar Leentjie die hoedeboks op die toonbank. Sy weet met ’n absolute duidelikhe­id wat sy moet doen. Wat sy vir haar vriendin wíl doen. Ek en my high heels kan maar Sondag met my gewone hoed in die kerk pronk, dink sy. Maar Sarie gaan met ’n splinternu­we lilac breërandho­ed haar en Alvin se vows renew. After all, dis waarvoor vriendinne daar is. Tee, tissues, beskuit en baie simpatie.

VERDIEN? WIL JY R1 000

E-pos jou kortverhaa­l plus ’n opsomming na kuier@kuier. co.za met KORTVERHAA­L in die onderwerpv­eld. As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer, kry jy R1 000.

 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa