Onshetnieerfenisenkultuurnie?Regtig?Onshet onsliedjiesenklubrugby!
Ek’s nie juis ’n kranige TikTokker nie, maar so af en toe vertel my jonger sussie my van dit of dat wat nou weer trend op TikTok. Dis volgens haar ook hoe mens deesdae weet wat in die wêreld aangaan. (Vir my lyk dit meer na wie wat oor wie te sê het, maar dís ’n debat vir ’n ander dag.)
Een aand toe ek sukkel om te slaap scroll ek deur TikTok en kom af op iemand wat verwys na die afgelope Erfenisdag, en hoe bruin mense nie hul eie erfenis of kultuur het om te vier nie.
Kyk, ek is al opper as op vir sommige mense wat voel die bruin gemeenskap moet hulself verduidelik en“bewys hulle het kultuur”. Hoekom? Vir watse geit, en vir wie? Asseblief.
Die jaar stap einde se kant toe en teen dié tyd begin almal al uitsien na “die festive”, daarom weier dié lekke ekke om my te laat omkrap deur onkundige opmerkings soos hierbo.
Ek wil eerder praat oor hoe ek elke jaar uitsien na presies dié tyd van die jaar wanneer almal voel hulle wil“los” raak en die jaar se laste van hul skouers afskud – gewoonlik op ’n lekker festive treffer. Verlede jaar was dit die Temple Boys se“Saggies”, maar vir my gaan die eer vanjaar aan die kunstenaar Nielo Derek, wat die rugbytreffer“Maak oop die hekke”sing. As julle dit nog nie gehoor het nie, luister gerus op YouTube.
My gunstelingneef, ’n kranige rugbyliefhebber, saam met my pa, het dié einste liedjie op my pa se 60ste gespeel. Die verjaardagtreffers was byna almal nét rugbytreffers wat vir klubrugbyspanne gemaak is, maar“Maak oop die hekke”vat beslis die koek. Daar is selfs ’n weergawe vir die Springbokke ook geskep, maar dit tref nie so lekker soos die oorspronklike weergawe wat vir Montagu Club geskryf is nie. Só groot van ’n klubrugbyondersteuner is my pa dat hy op die dag van sy partytjie ’n plaaslike rugbywedstryd gaan kyk het – in ’n spoggerige spierwit outfit en pointer-skoene nogal. En toe die dansery die aand begin, was dit net “Maak oop die hekke”wat gedruk het.
Daar is iets omtrent dié liedjie. Behalwe dat dit ’n lekker amapiano beat het, sing Nielo met soveel emosie dat jy die trotsheid vir hierdie span deur jou are voel klop, en jy voel ook sommer trots – al is dit nie eens jou eie plaaslike rugbyspan nie!
En jou voete jeuk en jy begin dans met elke ledemaat in jou liggaam, of jy nou wil, of nie. Ek het die impak van dié liedjie gesien toe dit onlangs ook op ’n vriendin se verjaardagpartytjie gespeel is en die gaste dansvloer toe gestroom en uit volle bors saamgesing het.
Dan het die“Wikkel Wikkel”-manne, RJay en LK, ook ’n liedjie vir die klubrugbyspan Wellington gemaak, en die “Hammies Anthem”vir die Hamiltonrugbyklub in Worcester deur DJ Global met Breimasjien is netso gewild.
Dis iets besonders om ’n hele pawiljoen vol rugbyondersteuners in hul klubhempies uit volle bors te hoor saamsing. Of selfs net ’n groep mense wat lekker saamkuier.
Toe ek dié rugbyliedjies hoor en sien hoe ons gemeenskappe daarop reageer, toe besef ek watter diep wortels klubrugby in ons kultuur het.
My pa werk ses dae ’n week en uitvaltyd op‘n Saterdag kan hy nie vinnig genoeg by die huis kom om hom aan te trek vir“die baan”(sportveld) nie. Hy pak sy cooler box met sy yskoue biere en vat ’n bierkrat, of‘n 5 liter-emmer wat hy omdop, om op te sit.
Dis duidelik wanneer daar op ’n Saterdag ’n rugbywedstryd in die lokasie is. Die strate en winkels is gepak, want almal moet hul eet- en drinkgoed regkry vir die wedstryd. En die mense is grênd uitgevat, hoor! Sommiges, soos ek wanneer ek Bonnievale toe gaan, kyk of ondersteun nie eens die rugby of ’n span nie, maar ek gaan saam nét vir die ongelooflike gees.
Ek is ’n introvert en van nature ’n “people watcher”. Ek hou van observeer hoe mense met mekaar omgaan. Hoe hulle praat, hul bewegings wanneer hulle praat – alles. En wanneer ’n klubrugbywedstryd plaasvind, is dit ’n belewenis om die verskillende emosies te sien wat op ondersteuners se gesigte afspeel.
Dis die blydskap, daai gevoel van samehorigheid en selfs tydelike vyandigheid as hul opponente punte aanteken, of die skeidsregter beslissings maak waarmee hulle nie saamstem nie, wat dié ongelooflike gees skep.
En dis in hierdie oomblikke, tesame met ons rugbytreffers wat speel, wat ek die groot rol van spesifiek klubrugby in ons gemeenskappe besef. Baie gemeenskappe het nie ontspanningsgeriewe nie, so rugby is‘n sosiale hoogtepunt waarna almal heelweek uitsien.
“Whêla whêla”(soos Nielo sing) vir dié wat dink bruin mense het nie kultuur nie. Dis in ons bloed; in ons unieke sêgoed en die liedjies waarop ons dans (en hóé ons dans). So, maak oop die hekke! Dis (amper) festive hierbuite!
Dis die blydskap, daai gevoel van samehorigheid, wat dié ongelooflike gees skep.