Kuier

LIEFDE UIT DIE DAL

Wie het gesê die liefde is net vir kalwers? Soms klop dit ná dekades aan jou deur . . .

- Deur MARIAN CASAL

Mietjie staan kreunend van haar krat op.“Laat ek vir oulaas gaan kyk of die spaarkamer reg is,”sê sy vir haarself. Sendingwer­kers kom hul dorpie die naweek besoek en dié weduwee stel haar spaarkamer oop.

’n Kombi met ’n paar vreemdelin­ge stop in die oprit. Dominee Martiens en ’n man klim uit.“Ant Mietjie, dis oom Silje. Hy is die leier van die groepie en sal by antie tuisgaan. Oom Silje, dis antie Mietjie De Wee,”sê dominee.

“Hoe meen dominee dan nou?”vra sy verstom.“Ek het reggemaak vir ’n vrou – my oorle man draai in sy graf om!”

Dominee bloos, trek haar eenkant toe en fluister:“Antie is die enigste een wat oom Silje kan huisves. Die kombi sal hom soggens kom oplaai en saans agtuur aflaai. Antie moet net sorg vir ontbyt. Hier is antie se bedraggie vir die naweek.”Dit sou ongeskik wees om voor die oom te staan redekawel, so Mietjie druk die koevert by haar voorskoot in en nooi oom Silje in.

Uit haar ooghoek sien sy hoe buurvrou Siena loer. Ag, loer en skinder jy maar, Siena, dink Mietjie. Sy voel waar die koevert knus lê. Sy was lanklaas by die haarsalon. Hier ís mos kos in die huis.

Sy wys oom Silje sy kamer en hy maak dadelik die deur agter hom toe.

Dan gaan sit Mietjie die ketel aan en pak ’n paar gemmerkoek­ies uit.

Die oom kom later uit die kamer en ruik die ene Old Spice. Sy hare is platgekam van die Brylcreem met ’n deftige sypaadjie. Sy beduie hy moet kom aansit en voel effe skuldig oor vroeër.

“Mevrou De Wee, jammer as ek kom inbraak maak het op u privaathei­d,”sê hy.“Ek sal sover moontlik uit u pad bly. Ek sal self ietsie voorberei – u hoef nie moeite te doen nie. Ek was jare ’n hotelsjef. As u vir my die koevert gee, sal ek vanaand ’n paar goedjies gaan koop.”

Antie Mietjie moet vinnig dink. Sy’t klaar ’n haarstyl in haar kop.“Neewat, dis nie nodig nie; ek het alles onder beheer. U sien, my man is al oor die 20 jaar oorlede en ek’t g’n kind nie.”

Hulle was net ses jaar getroud. Sy onthou soos gister hoe Siena in die pad afgehardlo­op gekom het, al skreeuend dat haar John omgestamp is . . .

Daar is ’n effense glimlag om die oom se mondhoeke en hy lyk nogals bekend, maar Mietjie kan nie nou haar vinger daarop lê nie. Hy drink sy tee in stilte.

Seweuur stop die kombi en hy is vort. Mietjie loop op haar tone na sy kamer, so asof hy haar gaan uitvang. Sy draai die handvatsel stadig en voel soos ’n skelm in haar eie huis. Sy tas staan langs die bed. Sy tel dit op en sit dit op die bed neer, dan druk sy die twee knippies gelyk en die slotte skiet oop. Sy klere is netjies opgevou. Seker sy vrou se handewerk. Aan die kant sien sy ’n koevert uitsteek. Sy trek dit versigtig uit en lees voorop:“Aan K”. Sy wonder wie“K”is. Dit moet beslis vir iemand hier in hul dorpie wees.

Hoeveel K’s ken sy? Hul plekkie is nie groot nie. Katrina Adams, Kaatjie Malan, Kathy van Wyk, Kinta Davids . . . Sy kan nie aan nog K’s dink nie. Dan sit sy maar weer die koevert en tas terug. Kopkrappen­d stap sy uit en maak die deur toe.

Mietjie is al sesuur die volgende oggend op om eiers by die kampie te loop uithaal. Die henne het weer oorgenoeg gelê. Sy maak roereiers en lewersmoor met toast. Daarby sit sy ’n bakkie jam eenkant vir as die oom dit wil hê – hy wat kamtig sjef was.

Sy het nog geen beweging uit sy kamer gehoor nie en stap by die agterdeur uit. Daar sien sy oom Silje in die pad afgestap kom met ’n sweetpak aan. Hy’t ’n stappie gaan vat terwyl sy nog geslaap het. Hy loop penorent en iets wil-wil vir haar bekend lyk. Hy groet haar beleefd en gaan sit aan om te eet – lek sy vingers af toe van die smoortjie daarop beland.

Hulle gesels oor Stellenbos­ch, veral Cloetesvil­le, of“Die Dal”, soos almal dit noem. Hy sê die mense sê altyd“Die Dal maak jou mal”.

Mietjie onthou nou vaagweg van haar destydse penmaat in Stellenbos­ch, maar die naam ontgaan haar. Hulle was maar 14 jaar oud en het gereeld geskryf. Alles het opgehou toe hulle 18 was. Sy wonder wat van dié meisie, wat twee ouer broers gehad het, geword het. Dan kom die kombi die oom oplaai. Mietjie vind dat sy die geselskap begin geniet.

Later is sy besig om wasgoed op te hang toe Siena oor die draadheini­ng leun.“Ek sê, Mietjie, knyp djy die kat innie donker?”vra dié ewe.

“Ag, soontoe, Siena! Ek is ’n kerkvrou. Daai is ’n kerkman. Jy’t dan gehoor dominee soek slaapplek vir die mense!”

“Ag, ek joke net,”sê Siena.“Maar die oujong lyk nie te versmaai nie. As djy nie‘n plan gaan maak nie, gaan iemand anders,”lag Siena.

“Hei, daai man is getroud,”keer Mietjie. “Het djy ’n trouring aan sy vinger gesien, Mietjie?”vra Siena.

Noudat sy daaraan dink het sy geen ring gesien nie. Maar wat van“K”?

Sy los Siena net daar by die draad en loop reguit spaarkamer toe, maak die tas hoop, en haal die brief uit. Dan sit sy die ketel aan. Sy ken al van kindsbeen af die trick om ’n koevert met stoom oop te maak. Versigtig om nie te brand nie, hou sy die koevert met die toegeplakt­e kant oor die stoom en trek dit stadig oop. Haar hande bewe. Dan is dit eindelik oop! Mietjie gaan sit en haal die brief stadig uit. Dit lees:

Aan Kora Abrahams

Die bloed dreineer uit haar gesig.

Ek is hier in Pofadder vir die naweek. Jy het seker lankal van ons vergeet daar in Die Dal. My stiefsuste­r, Marie Solomons, en jy was destyds penvriende. Ek weet dit was jare gelede, maar ek het jou nie vergeet nie. Marie het altyd vir ons die briewe gelees wat jy gestuur het. Ek het ook die talle foto’s gesien. Ek weet Marie het foto’s van ons ook gestuur.

Mietjie los die brief en gaan krap in haar ou trommel, vol stof op die kas. Sy het die briewe weggegooi. Nie die foto’s nie. Netnou spook die mense by haar.

Daar, tussen die wit-en-swart-foto’s, sien sy vir Marie saam met haar twee boeties. Die een stiefbroer is Steven Silje. Sy wou sê dat hy baie bekend lyk! Veral met sy sweetpak aan. Sy vat die foto saam kombuis toe en lees verder. Haar hart klop nou baie vinnig.

Ek was nooit getroud nie. My verloofde het my voor die kansel gelos en die seer sit nog ná al die jare. Toe ek hoor ons groepie kom Pofadder toe, het ek weer aan jou gedink en onthou hoe verlief ek op jou was, al het ons nooit geskryf nie. Ek het verlief geraak op jou kwinkslae en hoe reguit jy was. Jy’t altyd gesê jy draai nie ’n lap om ’n gesonde vinger nie. Mietjie lag.

Wel, Kora, ek weet nie hoe jou lewe uitgedraai het, en of jou man my trompop sal loop saam met jou dosyn kinders nie; ek deel net my gevoelens. Ek sal natuurlik jou huwelik respekteer en jou op ’n afstand bewonder. En wanneer ek teruggaan Stellenbos­ch toe sal jy net ‘n memory wees. Groete,

Steven Silje

Hy het niks oor Marie geskryf nie. Mietjie steek die brief terug in die koevert, maak die gom nat en sit ’n swaar boek bo-op. Dan gaan sy aan met haar dagtake. Haar gedagtes is egter heeltyd by die brief. Dat sy nou vergeet het dat haar eie naam met ’n“K”begin! Sy’s‘n nooi Abrahams, noemnaam Mietjie.

Sy bêre net betyds die brief voor oom Silje oor nege by die huis aankom. Mietjie kan hom nie in die oë kyk nie en verskoon haarself.

Die Saterdagog­gend verslaap sy van heelnag rondrol. Sy spring verskrik op toe sy die reuk van bacon en varkworsie­s kry – oom Silje. Sy maak heftig verskoning. “Ontspan, Mietjie. Ek kom goed reg. My hande is nie rond nie.”

Hulle eet in stilte. Sy kan steeds nie na hom kyk nie. Ná ontbyt maak sy die kombuis skoon, dan gaan sit sy buite. Dat sy op amper 60 só voel!

Mietjie was 34 toe sy en John getroud is, en op 40‘n weduwee. Sy’t nooit weer in mans belanggest­el nie. Mietjie skat oom Silje so 67 jaar oud. Môre is die groep se laaste dag daar.

Die Sondag sit sy vrugte, yoghurt, boerewors en koringbroo­d voor, en pak selfs padkos. Haar hare is by die huis gewas en met rollers ingedraai, en sy’t haar beste rokkie aan.

Dominee Martiens se preek is baie mooi. Nogals oor die liefde. Die Stellenbos­ch-groepie lewer‘n sangstuk en oom Silje se basstem laat Mietjie se knieë lam.

Middagete word in die saal bedien en oom Silje sit langs Mietjie. Dan hou hy die brief na haar uit.“Ek het gister eers uitgevind dat dit jy is, Kora. Ek weet ook jy’t in my tas gekrap en die brief gelees – jy ken nie alleen die trick van die stoom nie! Ek kon sien die flap het kreukels in nadat jy dit weer toegeplak het.”

Mietjie het darem die goeie grasie om ongemaklik te voel. Dan vra sy vinnig: “Wat het van Marie geword?”

“Marie is oorsee op 18,”sê hy.“Sy kom gereeld kuier. Moenie die onderwerp verander nie. Wat sê jy van ons twee?”

“Steven, ek het nie geweet dis hoe jy oor my voel nie. Ek is al te oud vir sulke stuitighei­d! En Die Dal is ver,”sê sy.

“Julle hotel hier soek iemand om die jong kokke op te lei, verblyf ingesluit,” sê hy dan.“Dit sal net vir ’n paar uur soggens wees. Maar eers moet ek my goedjies gaan regkry in Stellenbos­ch. Ek sien jou dan oor ’n maand.”

Oom Silje trek haar nader vir ’n drukkie voor hy vertrek.“Totsiens, Kora,”fluister hy.“Totsiens, Steven,”sê sy, blosend, en met‘n fyn glimlaggie.

VERDIEN? WIL JY R1 000

E-pos jou kortverhaa­l plus ’n opsomming na kuier@kuier. co.za met KORTVERHAA­L in die onderwerpv­eld. As ons jou storie (1 200 – 2 000 woorde) publiseer, kry jy R1 000.

 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa