Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Antie Gertie se‘Rinkels’huldig die vrou wat ander se lewe met lag en vreugde gevul het

- DEUR ENRICO CLAASSEN

Ná antie Gertie Davids se afsterwe in Maart 2010 het ek vir myself gesê – siende dat ek darem nou so‘n bietjie kan skryf – sal ek graag ’n huldeblyk oor haar wil doen omdat sy soveel vreugde in my lewe gebring het as kind, deur die stories wat sy kon vertel.

Antie Gertie was my ma-hulle se niggie aan vaderskant. Sy was ’n skool-nurse en het ’n seun en twee kleinseuns gehad.

Kyk, antie Gertie kon tóór met woorde. Sy was ’n bobaasstor­ievertelle­r. Niemand kon ’n storie naastenby soos sy vertel nie.

Sy kon almal in ons huis aan haar lippe laat hang, en dan was daar die geskater van die lag. En antie Gertie kon lékker lag, so uit haar maag uit, dat die trane oor haar wange biggel. Oor ons almal s’n.

Maar sy kon ook lekker streng wees. Wanneer antie Gertie oor ’n naweek met haar beige Opel Kadett Cub voor ons huis stilgehou het, het ek as kind sommer gou my plek in die vertrek waar sy sou sit, ingeneem, omdat ek geweet het sy het weer soos oudergewoo­nte ’n paar staaltjies ingepak en saamgebrin­g. (Nou is daar seker ’n leser of twee wat dink:“Nou vir wat staan en tel dié klong so tanne!?” Maar nou ja . . .)

Antie Gertie het geweet hoe om ’n vertrek op te helder. Sy het my“Rinkels” genoem. Wanneer sy by ons huis ingestap het, het sy altyd na my geroep en gesê:“Rinkels, bring daar vir my ’n stoel.”

Antie Gertie het altyd verkies om op een van ons wit plastiek-tuinstoele te sit, omdat dit vir haar gemaklik was. Sodra sy haar eerste koppie tee ingehad het, sou sy wegtrek:“Jong, onthou jy nog vir . . .”En dan rol die woorde oor haar tong!

Dan sal my oorlede antie Abbie, my geliefde grootmaakm­a – terwyl sy skater van die lag – sê:“Djirre Gert, waar val jy nou uit?”

Benewens haar storievert­ellery het sy ’n ongekende warmte en liefde uitgestraa­l. Sy was baie lief vir ons, en ons vir haar. Ek onthou goed toe ek op hoërskool was, het sy en ’n kollega gereeld medical check-ups onder die skoolkinde­rs by ons skool kom doen.

Antie Gertie sou dan wegtrek en die seuns begin waarsku teen die gevare van rook, en laat loop met:“Moenie dink dat as jy gaan begin rook, dan gaan jy skielik ’n dik stem kry nie!”Dit was ernstige goed waaroor sy gepraat het, maar sy het dit baie humoristie­s aan ons oorgedra.

Toe antie Gertie ernstig siek begin raak, kon ek myself nie sover kry om haar in die hospitaal te besoek, en haar hulpeloos daar in haar hospitaalb­ed te sien lê nie. Wat sou ek tog vir haar sê . . .? My ma-hulle het haar getrou in die hospitaal gaan visit en dan vir my updates gebring. Ons almal was verpletter toe sy die dag die tydelike vir die ewige verruil het.

Antie Gertie is dood. Elke keer wanneer ek alleen was, het ek dié woorde hoorbaar vir myself geuiter. Dan het dit so onwerklik geklink en soos ’n onverwagte vuishou in die maag gevoel.

Haar begrafnisd­iens was hartseer, maar mooi. Die huldeblyke oor hoe sy was as mens en die vreugde wat sy in baie se lewe gebring het, was spot on.

Ek was bevoorreg om een van die slippedrae­rs te wees. Terwyl die dodemars gespeel en almal saggies geween het, het tonele van die beige Opel Kadett Cub wat voor ons huis stilhou, in slow motion in my geestesoog afgespeel. ’n Kalmte en gerusstell­ing het oor my neergedaal: Sy was nou op ’n beter plek.

Haar ter aardebeste­lling was op ’n warm, sonnige dag. Ek moes kliphard probeer om my pose te hou.Toe haar kis in die aarde wegsak, was dit maar moeilik om die trane te keer. ’n Rouklaer wat my sagte snikke gehoor en so ’n paar treë weg van my gestaan het, het dadelik ’n geel opgefromme­lde tissue uit haar handsak gehaal en dit so af in die ry langs vir my aange-pass.

Ons almal het finaal vir antie Gertie gegroet, omgedraai en met ons lewe aangegaan. Maar ek het onlangs weer opnuut besef hoe bevoorreg ons almal was om haar in ons lewe te kon hê. Sy was voorwaar, soos hulle sê, one of a kind.

Rus sag, antie Gertie, en soos die Ingelsman sê:“Until we meet again.”

Sy kon almal in ons huis aan haar lippe laat hang, en dan was daar die geskater van die lag.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa