Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Is voorbodes ’n kans om jou beter voor te berei op die lewe se onverwagte draaie?

- DEUR SALVIA OCKHUIS

Ons almal weet van mense wat soms voorbodes kry, drome droom of visioene sien wat in die toekoms werklik word. Dié vreemde verskynsel kom al van Bybelse tye af aan.

’n Vriend skryf onlangs op Facebook hoe hy gedroom het hy ry op ’n onbekende pad. Skielik was dit pikdonker om hom en kon hy niks sien nie. Hy het paniekbeva­nge spoed verminder en gehoop om nie‘n groot ongeluk te maak nie.

Die volgende dag ry hy en sy vrou Struisbaai toe. Duskant Napier, teen ’n steilte af, was ’n trokkie ’n hele klomp voertuie aan’t verbysteek – in hul rigting.

Die trokkie sou nie tussen die ander voertuie kon inswaai nie, want die afstande tussenin was te klein. My vriend moes dringend dié dreigende kop-aankop-botsing vermy. Hy het drasties spoed verminder en so ver as moontlik op die smal pad se skouer gery. In asem-ophouoombl­ikke het die trok hul net-net gemis.

Was sy droom ’n waarskuwin­g dat hy daardie dag met meer as sy gewone versigtigh­eid en insig moes bestuur?

My ma is in April 2023 omstreeks 01:05 die nag in ’n ouetehuis oorlede. Ek kon daardie aand nie slaap nie. Om so 22:00 het ek God nog gevra om vir Mamma te gee wat sy benodig. My ma se verpleegst­er het later vertel hul dag het soos gewoonweg verloop: My ma het geëet, gesels, en haar gang gegaan.

“Wanneer het dinge begin verander?” wou ek weet.“Omstreeks 22:00,”het sy gesê.“Ek kon sien haar toestand was besig om te draai; sy was besig om te gaan.”

Wat ook interessan­t is, is dat my suster se seun, ongeveer toe ek die tyding van my ma se heengaan kry, ’n foto van Mamma saam met haar keinkinder­s op sosiale media geplaas het – sonder dat hy geweet het sy ouma het gesterf.

Die nag toe my neef gesterf het, het ’n geluid teen my kamervenst­er my so 03:00 die oggend wakker gemaak. Dit was ’n duif. ’n Gedagte het met sekerheid by my opgekom: Edward is heen. En dit wás so.

Mamma het ook altyd gesê as sy oor water en ’n sekere familie droom, dat ’n familielid of iemand na aan haar sou sterf.

Só het‘n neef‘n week voor mense se huis sou afbrand, gedroom hul meubels staan buite. Geen brandende gebou nie, net die meubels. Dit was vir hom vreemd. ’n Foto het later gewys hoe die huis brand en die meubels wat gered kon word, ’n entjie van die huis af staan – presies waar my neef dit in sy droom gesien het!

Soms kry ’n mens‘n dreigende gevoel van onheil – dat iets sleg gaan gebeur, al weet jy nie met wie, of hoe, of wanneer nie. Ek het eendag só gevoel. Toe bid ek dat God intree. Die gevoel het nie summier verdwyn nie, en ek het weer en weer gebid, tot dit uiteindeli­k weg was. Later het my pa vertel die voertuig waarin hulle gereis het, het amper oor ’n baie diep afgrond gestort. Tot vandag toe glo ek my gebede het dié ongeluk verhoed.

Toe ek jonk was, het ek eendag ’n ligkrans om iemand se kop gesien. Hy het lekker gesit en gesels. Ek het verwonderd besef dis ’n rare, vreemde verskynsel, maar niks gesê of verder daaroor nagedink nie. Tot ’n uur later . . . toe ek hoor hy is skielik aan ’n hartaanval oorlede.

Waar ek vandaan kom – ’n klein plekkie aan die soom van die Cederberge – glo die mense as mis op‘n sekere manier oor ’n sekere deel van die berg hang, gaan iemand sterf. Dan kom daar so ’n anderster kyk in hul oë as hulle sê:“Kyk hoe treurig lê die mis oor‘Krakkedouw’.”Ek was nog klein toe ek ’n ou vrou dit hoor sê het. Daardie nag is iemand toe wél heen.

Ek is seker daar is baie mense die land en die wêreld oor wat vreemde gewaarword­inge, drome of voorbodes kry. Soms haal ons die skouers op, tot iets gebeur en ons besef daar is moontlik ’n verband.

Gelukkig is nie alle voorbodes onheilspel­lend nie. Ek het al opwindende afwagting ervaar sonder om te weet waaroor dit gaan. Dan val ’n stuk geluk of goedheid my uit die bloute te beurt, en sien en verstaan ek die verband.

Is ’n voorgevoel ’n kans om jou voor te berei op wat moontlik kan gebeur, en jou beter toe te rus om daarop te reageer? Of is dit dalk genade, wat jou die geleenthei­d gee om te bid en moontlike tragedie en pyn te voorkom? Ék dink so . . .

Gelukkig is nie alle voorbodes onheilspel­lend nie . . .

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa