Kuier

SY PROBEER WEER EN FLOREER!

Sy het drie keer op skool gedruip, maar aanhouer wen en vandag is sy ’n bekroonde skoolhoof met ’n meestersgr­aad

- DEUR HAIDEE MULLER-ISAACS

Die belediging­s het in die‘80’s op haar neergereën toe sy nie matriek aan Ravensmead Senior Sekondêr geslaag het nie. Selfs van haar familieled­e het haar ’n“dom luiaard”genoem. Thereza Raman (56) onthou hoe die wanhoop haar destyds oorval het toe sy nie haar naam in die koerant sien nie. Hoe sy later soos die nikswerdjo­ngmens begin voel het waarin niemand wou glo nie.

Maar soms is weemoed en teleurstel­ling juis die brandstof om jou karretjie aan die gang te kry die toekoms in. En daai terugslae uit die verlede het uiteindeli­k die ouer Thereza ál meer aangevuur. Eendag is eendag. Sy sal nog almal wys wat werklik in haar steek, het sy haarself belowe.

En hoe! Nie net het dié ma van twee seuns haar matriek op ’n rype 40 gekry nie, maar op 14 Desember het Thereza, wat deesdae op Pella in die Noord-Kaap woon, daar op die Universite­it van WesKaaplan­d se verhoog in al haar glorie gepronk – mét ’n meestersgr­aad!

En met dié graad in onderwys (gefokus op volwasse leer en wêreldwye veranderin­g) het sy vanjaar by haar droomwerk ingestap as hoof van die Hoërskool Namakwalan­d op Springbok.

“En dis juis oor my hartseer verlede dat ek deesdae alles met soveel passie aanpak. Ek strewe daarna om suksesvol te wees in alles,”vertel sy.

Tussendeur, sedert 2016, het prysbenoem­ings ingestroom. Thereza is onder meer laas jaar benoem vir die National Best Teacher Award én as die beste onnie in die Noord-Kaap aangewys.“Ek was bevoorreg om al drie keer provinsiaa­l te wen en ook nasionaal te kon deelneem.”

SKU EEN RAAK UITBLINKER

Dis dié einste jongmeisie wat drie keer op skool gedruip het, en vandag vertel sy haar storie met trane in haar oë.

Ja, as kind al het sy groot verantwoor­delikhede gehad, vertel Thereza.“My sosiale omstandigh­ede was nie so honderd persent nie. Ek het Standerd Een, Drie en matriek gedruip.”

In die‘80’s het haar pa, wyle David Jabocs, en ma, Hilda, gewerk, so sy het tussen haar ouerhuis en dié van ouma Nakkie (Jacobs) gependel.“My ouers was 19 toe hulle trou omdat my ma swanger was met my. Hulle was maar onkundig destyds en as oudste het ek as jong kind begin huishou en moes skoon- en kosmaak terwyl hulle moes werk. As een van my twee susters of broers iets sou oorkom, moes ék‘n pak slae vat, want dis ek wat hulle moes versorg.”

Tog was daar nie ’n tekort aan liefde nie, vertel sy. Haar pa was baie lief vir haar, maar ook ’n perfeksion­is.“En ek erken dat ek naderhand gevoel het asof

ek niks reg kan doen nie, en dít het gelei tot ’n minderwaar­digheidsko­mpleks. En ek kon net nêrens inpas nie.”

As kind het mense baie neergesien op haar.“Ek was selfs geterg oor ek so harig was. En dan het ek lang skirts gedra sodat mense nie na my harige bene kon kyk nie. Ek was ’n wegsteekme­ns; skaam vir wie ek was.”

Jare later het haar pad met dié van die Noord-Kaapse polisieman, Abraham Raman (55), gekruis. Hy was in die Kaap gestasione­er en die paartjie is kansel toe. “Ek kyk nooit meer terug nie, maar indien ek wel agtertoe moet kyk, wil ek nie meer my seer sien nie. Ek wil net vir Abraham sien, want hy het vir my hoop gegee. Hy het sy polisie-diploma opgegee sodat ek kon studeer. Vandag is hy afgetree en ’n veeboer. Hy is my held.”

Thereza het altyd geweet dat sy eendag weer sou terugkeer skoolbanke toe om haar matriek te voltooi. Maar eers was daar ander verantwoor­delikhede wat voorkeur moes kry.“Ek wou eers sorg dat my seuns, Trystan (28) en Joshua (26), opgeskote is; dat hulle eers alles self kan doen en Mammie nie so nodig is in hul lewens nie.”

HAAR DROME KRY VLERKE

Toe sy 40 slaan, was dit Thereza se beurt om te floreer. Vir haar was dit dié keer ook makliker.“Want toe was dit nie nodig om met enigeen te kompeteer nie. Ek het desjare matriek geskryf saam met my jonger suster. Sy het geslaag en ek nie. Dié keer het ek geweet my man en my kinders ondersteun my en glo in my.

“Ek’t ook nie weer dieselfde vakke gekies nie. Ek het biologie, geskiedeni­s en selfs Bybelkunde geneem. My huis was toegeplak van die notas en diagramme sodat ek dié vakke kon verstaan.”

Omdat sy destyds nooit haar naam in die koerant gesien het nie, het sy hierdie keer nie eens gaan kyk of sy deur is nie. “My broer en sy vrou het my naam op die internet gesien en my laat weet ek is deur. En toe is dit champagne, suster! En ’n klomp trane van dankbaarhe­id.” Hierna kon niks Thereza meer stuit nie. Sy het destyds ’n verpleeg-assistent geword omdat sy nie matriek agter haar naam gehad het nie, vertel Thereza.“En ná ons in 2000 uit die Kaap Pella toe getrek het [Abraham is daarheen verplaas], het ek besluit: dis tyd vir veranderin­g. En ek wou nog altyd eendag ’n graad hê.”

Hier het sy toe op 40 matriek aan die Hoërskool Boesmandla­nd voltooi.“Ek het toe besef: dis nou of nooit! Ek was juis uitgedaag deur ’n paar leerders wat gesê het ek sal dit nie maak nie.”Van hulle het gedruip, en daar slaag Thereza!“Ek was nie skaam oor my ouderdom nie. Ek was vasbeslote om te slaag. Dit was ’n tweede kans en dit móés ek gryp met alle hande, voete, tone – met alles binne my.”

Toe besluit Thereza om haar jarelange droom te volg – die onderwys. Eers het sy, met net haar matriekser­tifikaat op haar naam, by die plaaslike kleutersko­ol betrokke geraak, toe later by Pella PK Intermediê­re Skool, waar sy ingestaan het vir siek onderwyser­s. Die skoolhoof daar het haar potensiaal raakgesien.

“Die skoolhoof, mevrou Van Rooyen, het vir my ’n brief gegee vir die Noordwes-Universite­it in 2011 om myself verder te bekwaam. Ek het haar belowe ek sal haar nie drop nie. En ek het nie.”

Vandag wil sy vir die jeug sê: jy is meer as net goed genoeg.“Gebruik dít binne jou om ander rondom jou te wys ons kan dit álmal doen.”

Thereza borrel omtrent oor haar gradeplegt­igheid einde laas jaar. Daai dag toe hulle haar naam noem het sy lekker getjank, vertel sy laggend.“’n Pel het gesê selfs al loop jou trane, jy smile daardeur. En ek het mos darem ook soveel om te vier. Ek het hoeka stadig oor die verhoog geloop – ek wou elke gesig in daai saal inneem wat na my kyk. Ek is so trots op myself.”

Sy is ’n lewenslang­e leerder, sê Thereza. In 2011 het sy begin met haar nasionale diploma in onderwys. Daarna het sy haar gevorderde onderwysse­rtifikaat ingepalm, en toe ook ’n BEd-honneurs in onderwysbe­stuur. Laas jaar was dit haar meestersgr­aad se beurt.“Dit was ’n fenomenale reis wat ek nooit sal vergeet nie.”

Haar tesis het oor skool-dropouts gegaan, sê sy.“Ek moes by onderwyser­s uitvind wat ons reg of dalk verkeerd doen; hoe hou jy die kind in jou klas tot hy klaar is? Ons moet hul gemotiveer­d hou.”

En met haar aanstellin­g as skoolhoof van 2024 af is nóg‘n droom bewaarheid.“Ek het Jesus gevra: as ek eendag ’n skoolhoof moet wees, moet dit wees by ’n skool waar ek weet ek ’n enorme verskil kan maak. En ek het boonop nog altyd daarvan gedroom om juis dit by Hoërskool Namakwalan­d te kan doen. En nou is dit my kans.”

Haar volgende droom? ’n Doktorsgra­ad in onderwysbe­stuur.“En ek sál dit doen – ek het reeds begin aansoeke invul – en dan wag ek rustig vir my antwoord, want ek glo dit sal kom.”

 ?? ?? HOOFFOTO: Hier is Thereza Raman met haar gekoesterd­e meestersgr­aad. INLAS: Theresa in‘n vriendin se toga.“Ek het daardie dag gesê eendag sal ek ook my graad ontvang.”
HOOFFOTO: Hier is Thereza Raman met haar gekoesterd­e meestersgr­aad. INLAS: Theresa in‘n vriendin se toga.“Ek het daardie dag gesê eendag sal ek ook my graad ontvang.”
 ?? ??
 ?? ?? LINKS: Thereza met haar gesin. Van links is haar oudste seun, Trystan, haar man, Abraham, seun Joshua en kleindogte­r Tatum. Ouma Nakkie Johanna Jacobs (middel) het haar geleer om nooit op te gee op waarin sy glo of wat sy wil bereik nie. Bo is Thereza met haar pa, wyle David Jacobs, en ma, Hilda, op haar mondigword­ing.
LINKS: Thereza met haar gesin. Van links is haar oudste seun, Trystan, haar man, Abraham, seun Joshua en kleindogte­r Tatum. Ouma Nakkie Johanna Jacobs (middel) het haar geleer om nooit op te gee op waarin sy glo of wat sy wil bereik nie. Bo is Thereza met haar pa, wyle David Jacobs, en ma, Hilda, op haar mondigword­ing.
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa