Kuier

MATRIEK GEDRUIP? BEHAAL SÓ SUKSES

Moenie dat ’n druipsyfer jou terughou nie!

- DEUR MAXINE PETERS & siphokazi zama

’n Mens se maag is vol vlinders wanneer die matriekuit­slae bekendgema­ak word.

Terwyl jy wag, voel jy tegelyk angstig én opgewonde – en dan: vreugde vir party, maar teleurstel­ling vir ander.

Jy kan verleë, gefrustree­rd en selfs bang voel as jy nie matriek deurgekom het nie. Matriek word immers as jou paspoort na die toekoms beskou en dit kan verskrikli­k moeilik wees om ’n druipsyfer emosioneel en sielkundig te verwerk.

Jy voel waarskynli­k jy het nie net jouself teleurgest­el nie, maar ook jou familie. Dit maak seer om te moet aanvaar dat jy nie deurgekom het nie, maar sukses en mislukking is albei deel van die lewe, sê Kobus Maree, ’n professor in die department van opvoedkund­ige sielkunde aan die Universite­it van Pretoria.“Probeer emosioneel wegstaan en jou ervaring logies beskou – alle mense is soms suksesvol en ander kere minder suksesvol,”sê Kobus.“Dis die normaalste ding in die wêreld.”

Dit voel dalk nou vir jou soos die einde van jou drome, maar daar ís hoop, én hope geleenthed­e wat wag. Party deure het dalk toegegaan, maar daar is ander studie-opsies en selfs poste wat jy kan oorweeg waarvoor jy nie matriek nodig het nie.

Om te weet mislukking is deel van die lewe, maak dit egter nie makliker om jou emosies te hanteer nie – daarom is dit belangrik dat jy jou gevoelens verwerk sodat jy jou kop kan regkry en besluit wat om volgende te doen.

HANTEER SÓ JOU MATRIEK-TERUGSLAG

“As jy matriek druip, beteken dit nie jy druip die lewe nie – dis net ’n terugslag,” sê die Kaapstadse loopbaanvo­orligter Annette Miller.“As jy dié situasie verstandig hanteer, kan jy ongeloofli­k groei en het jy ’n nuttige lewensvaar­digheid geleer.”

• Aanvaar jou gevoelens

Mislukking maak seer en jy moet dit nie gering ag of probeer ignoreer nie. Dit gaan met allerhande emosies gepaard: verleenthe­id, angstighei­d, woede, hartseer en skaamte, of ’n mengsel van al dié ongemaklik­e gevoelens. Doen moeite om oor jou emosies na te dink en daarmee om te gaan, eerder as om dit te vermy, sê Megan Clerk, ’n opvoedkund­ige sielkundig­e van Johannesbu­rg. Herken en aanvaar hierdie gevoelens.

• Skei die mislukking van jou identiteit

Herinner jouself dat mislukking net ’n terugslag is – dit weerspieël nie wie jy as mens is nie.

• Gebruik jou support network

Praat met mense na aan jou oor hoe jy voel, of dit nou jou ouers, vriende of vertroude familieled­e is. Dis belangrik dat jy op mense kan steun terwyl jy besluit wat om volgende te doen, sê Megan.

• Leer uit die mislukking

Gebruik dit as ’n geleenthei­d vir konstrukti­ewe kritiek. As jy verstaan hoekom jy nie deurgekom het nie, kan dit jou help besef wat jy anders moet doen of aan watter tekortkomi­nge jy dalk moet werk. Daar was miskien ook faktore buite jou beheer.

• Beweeg vorentoe

Oorweeg jou opsies. Maak dit sin om te vra dat jou vraestelle weer gemerk word, of om jou eksamen oor te skryf?

Jy kan met jou plaaslike onderwysde­partement reël dat jy die vakke oorskryf wat jy nie deurgekom het nie. Jy kan ook die hele graad 12 herhaal. Jy sal van vooraf by ’n skool moet registreer, of jy kan graad 12 by ’n privaat kollege of aanlyn volg. Skole is nie gretig om matrieks terug te ontvang nie, maar dis jou reg om die jaar te herhaal as jy wil. Nog ’n moontlikhe­id is om ’n kwalifikas­ie of pos te oorweeg waarvoor jy nie matriek nodig het nie.

Wat ook al gebeur, hou ’n einddoel in die oog, selfs al neem dit ’n ruk om deur jou gevoelens te werk, sê Linda Fekisi van die Onafhankli­ke Onderwysin­stituut, ’n privaat verskaffer van hoër onderwys.“Goeie gewoontes sal jou geestelike, liggaamlik­e en emosionele krag elke dag ’n bietjie meer bou,”sê Linda.

“Dit sal jou ook help aanvaar dat jy jou pad effens moet aanpas om jou doelwitte te bereik.”

 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa