Kuier

DIÉ VROU MAAK ’N PLAN

Zohra Sooliman, medestigte­r van Gift of the Givers, is ’n vrou wat altyd nuwe maniere vind om mense te help

- DEUR ROXANNE R MOONEYS

Meer as drie dekades gelede het sy en haar man ’n organisasi­e begin wat uiteindeli­k ’n wêreldwye verskil vir mense in van die moeilikste omstandigh­ede sou maak. Vanjaar vier Zohra Sooliman en haar man, Imtiaz – stigters van Gift of the Givers – nie net die organisasi­e se 32ste bestaansja­ar nie, maar ook 40 jaar van getroud-wees.

In Januarie het dié dinamiese vrou ’n groot droom bewaarheid toe sy by haar eie privaat praktyk as sielkundig­e ingestap het. Zohra (59) vertel sy het intussen kinders grootmaak en die organisasi­e help bestuur, maar altyd bly droom van studeer – en op die ou end het haar werk vir Gift of the Givers dié studierigt­ing beïnvloed.

“Daar het dikwels mense na Imtiaz (61) toe gekom om skenkings te gee of iets af te lewer, en dan was hulle vroue of iemand by. Ek het dan met die persoon gesels, en só het ek agtergekom dat daar nood was in ons gemeenskap vir mense om met iemand oor hul probleme te praat.”

Sy het toe in 1997 ’n hulplyn begin waarheen mense kon bel en met opgeleide vrywillige­rs praat oor probleme soos mishandeli­ng en alkoholmis­bruik. Maar Zohra het besef om hulle tot die beste van haar vermoë te help, moes sy ’n agtergrond hê wat haar die probleme in die gemeenskap sou help verstaan. Daarom het sy eindelik vir ’n sielkundeg­raad ingeskryf, wat sy in 2004 behaal het. Sy het verder gestudeer en in Mei 2022 haar meestersgr­aad verwerf en haar internskap as sielkundig­e gedoen, vertel dié ma van vyf en ouma van nege trots.

Vir haar meesterste­sis het sy haar op die ervarings van Moslemvrou­e in poligamies­e huwelike toegespits. Imtiaz is in 2007 vir ’n tweede keer getroud met Ayesha, ’n verpleegst­er wat hy op een van sy sendings ontmoet het. Zohra hoop om haar tesis in boekvorm te publiseer sodat ander vroue in dieselfde situasie dit kan lees.

Zohra vertel een van haar nuwe projekte was om ’n multidissi­plinêre span gesondheid­swerkers bymekaar te kry wat met kinders met verstandel­ike uitdagings in ’n agtergeble­we

gemeenskap in Pietermari­tzburg werk. “Ons wil ook opvoeders oplei en toerus met die vaardighed­e om psigo-sosioemosi­onele kwessies onder leerders te kan hanteer.”

Maar nee, daar wink nie ’n doktorsgra­ad nie, sê sy.“Ek wil nie opgeskeep sit met navorsing en akademie nie.”Want sy ken nét een manier: om tussen die mense te wees en hulle te help . . .

DIE ROEPING NA UITREIKWER­K

Toe ’n verwoesten­de sikloon Bangladesj in 1991 tref, kon Zohra en Imtiaz nie net toekyk hoe die mense daar ly nie. Dié toe jong getroude egpaar van Pietermari­tzburg moes íéts doen. Toe rol Imtiaz,‘n mediese dokter, en Zohra,‘n voorskools­e onderwyser­es, moue op.

Skenkings van kos, klere, en ander benodigdhe­de is ingesamel om Bangladesj toe te stuur. Maar eers moes hulle ’n plan maak om dit daar te kry.

“Die regering het ons toe ’n skip gegee waarmee ons die goedere kon vervoer. Al wat hulle gevra het, was dat ons op pad ’n paar vragmotors in Turkye aflaai,”vertel Zohra oor die beginjare van haar en haar man se uitreikwer­k.

In Turkye het die Soolimans besluit om ’n Sufi-sjeg (geestelike Moslemleie­r) te besoek van wie ’n vriend in Suid-Afrika hulle vertel het. Daar het hulle gesien hoe álmal by die sjeg welkom is, ongeag ras, kultuur of godsdiens – en dié ervaring was een van vele boustene in wat eindelik die humanitêre organisasi­e Gift of the Givers sou word.

Toe Imtiaz die sjeg later weer besoek, het dié hom die opdrag gegee om Gift of the Givers te stig.“Ons het vier kinders gehad, en Imtiaz het drie praktyke gehad. Ek kon die groter prentjie nie sien van dít wat hy wou hê ons moes doen nie,”vertel Zohra. Nogtans het hulle ingespring.

En terwyl Imtiaz in die beginjare op voetsoolvl­ak voorgevat het met hulpverlen­ing in lande soos Bosnië, het Zohra self ’n onskatbare bydrae gelewer deur die administra­tiewe kant van sake te hanteer. Sy moes briewe skryf vir banke en vorms invul om die geld wat hulle deur skenkings gekry het, uit die land te kon neem, en ook dokters reël om by Imtiaz se praktyke waar te neem.

En tussen alles deur was sy ook voltyds ma vir hul vier oudste kinders, Sumaya (36), Muhammad Rayhaan (35), Saffiya (33) en Saaleha (30). Hul jongste, Samee’a, is 22.

DAAI ROMANTIESE BRIEF

Haar glimlag is nooit ver nie, maar wanneer sy oor die begindae van haar en Imtiaz se liefdespad gesels, glimlag Zohra breed. Hy was ’n mediese student in sy vierde jaar en sy in matriek toe hulle saam ’n jeuggroep begin bywoon, en gereeld gesels het. Sy het hom die volgende jaar gevra of sy ’n boek kan leen waaroor hulle gesels het – en hy bring dit toe met ’n volgende besoek saam.“Ek het blykbaar net bloedrooi geword en my suster wou weet wat aangaan. Ek sê toe net nee, ek kyk na die boek,”vertel Zohra en lag.

Maar die rede vir die gebloos was die geel koevert met ’n briefie daarin, wat Imtiaz binne-in die boek gesit het. Hy hou van haar geesdrif en gedrewenhe­id, skryf die selfversek­erde jong man in die brief. En dan:“Ek vra maar net, as dit reg is met jou, of ek jou mag vra om te trou?”

Zohra, toe maar net 19, was uit die veld geslaan. Eers later het sy aan haarself erken dat sy self ook heelwat van Imtiaz gehou het.“Ek het altyd gedink as ek trou, moet dit met iemand wees wat goed gebalansee­rd is in sy werk, sy geloof en sy familie. En Imtiaz was presies dít.”

Haar groot droom in daardie stadium was om ’n onderwyser­es te word, maar haar ouers, Kulsum en Nur Muhammad, was bekommerd dat dit nie gaan gebeur as sy trou nie. Maar Imtiaz se ma, Farida, kon haar ouers gerusstel dat Zohra steeds kan gaan studeer, al ís sy getroud, en die verhouding het behoorlik begin blom.

Zohra en Imtiaz is in Januarie 1984 getroud. Hul eersteling, Sumaya, is in 1986 op Imtiaz se verjaardag gebore. Hy was ’n baie betrokke pa reg van die begin af, onthou sy.“As ek die baba klaar geborsvoed het, het hy winde uitgevryf. Maak nie saak hoe besig sy werk hom gehou het nie, hy was altyd daar vir die kinders.”

Toe Gift of the Givers deel van hul lewe word, moes Zohra gewoond raak daaraan om Imtiaz te groet elke keer wanneer hy na oorloggete­isterde lande gereis het, of lande waar natuurramp­e verwoestin­g gesaai het. Dit was moeilik vir haar én die kinders, onthou sy.“Toe hy die eerste keer Bosnië toe is, het ek met al die kinders op die lughawe gestaan. Saaleha was nog‘n klein baba van drie maande. Toe sê ek vir hom:‘Jy maak séker dat jy terugkom; ek gaan nie alleen dié vier kinders grootmaak nie’,”vertel Zohra.

Ja, sy was baie bang dat sy op ’n jong ouderdom ’n weduwee sou word, erken sy.“Maar Imtiaz het ongedeerd uit Bosnië teruggekom. Hy het ons vertel hoe daar bomme geval het op plekke waar hy net 10 minute tevore was, en ek het besef die dood sal nét kom op die tyd wanneer dit moet. Ek sê altyd ek het ses kinders. Gift of the Givers is nommer vyf en Samee’a nommer ses!”

En danksy haar toewyding kon dié vyfde kind al duisende in nood help.

 ?? ?? HOOFFOTO: Zohra Sooliman, medestigte­r van Gift of the Givers, het ’n hart vir mense. INLAS: Zohra en haar man, Imtiaz, vier vanjaar hul 40ste huwelikshe­rdenking.
HOOFFOTO: Zohra Sooliman, medestigte­r van Gift of the Givers, het ’n hart vir mense. INLAS: Zohra en haar man, Imtiaz, vier vanjaar hul 40ste huwelikshe­rdenking.
 ?? ??
 ?? ?? ONDER: Zohra en Imtiaz by hul kinders en kleinkinde­rs. Agter van links is Saffiya, Samee’a, Sumaya, Sadia, Muhammad Rayhaan, Saaleha, Muhammad Zubayr en Nusaiba. Voor sit Ziyaad, Zuhayr, Muhammad Ihsaan, Sahla, Zohra, Abdullah, Imtiaz, Abdur Rahman, Muhammad Rayaan en Muhammad Muadh.
ONDER: Zohra en Imtiaz by hul kinders en kleinkinde­rs. Agter van links is Saffiya, Samee’a, Sumaya, Sadia, Muhammad Rayhaan, Saaleha, Muhammad Zubayr en Nusaiba. Voor sit Ziyaad, Zuhayr, Muhammad Ihsaan, Sahla, Zohra, Abdullah, Imtiaz, Abdur Rahman, Muhammad Rayaan en Muhammad Muadh.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa