Kuier

VIER HANDE IS BETER AS TWEE

Sy het gedink ’n besoek aan ’n spa is al wat sy nodig het, totdat sy by haar ma se kombuis ingestap het . . .

- Deur LEVONA ARENDSE

Die hemel is helderblou en die warm son skyn hoog toe ’n opgewonde Lucy op ’n mooi lenteoggen­d oor die steenwerf van haar ma, Sofia, se huis stap. Sy belowe nou al hoe lank om te kom kuier. Hulle het lanklaas tyd saam gespandeer. Haar loopbaan hou haar besig en dis moeilik om tyd af te knyp.

Lucy vryf met haar hand oor haar skouer. Dis kliphard van die knoppe. ’n Dag by die spa is nét wat sy nodig het. By die huis se drumpel word sy gegroet deur die wit huishondji­e, Fluffy, wat om haar voete dans van blydskap oor die weersiens. Lucy glimlag en buk af. “Hallo, Fluffy. Ek het jou baie gemis. Het jy my ook gemis?”Sy vryf sy kop en Fluffy antwoord met ’n klein blaffie.

Lucy lag en staan weer regop. Sy kry die reuk van vars, tuisgebakt­e gemmerkoek­ies en haar mond begin sommer water. Dit laat haar terugdink aan haar kinderdae. Hoe sy en haar ma saam gebak het in die kombuis. Die nostalgie laat haar breed glimlag.

Lucy loop die klein kombuis binne met Fluffy wat agternahar­dloop. Haar ma is besig om die varsgebakt­e gemmerkoek­ies van die bakplaat af te haal. Sy sluip skelmpies nader. Sy wil haar ma lekker verras.

Sofia, onbewus van Lucy se plan, staan gefokus, besig om die koekies versigtig in die groot koekblik te pak. Lucy bekruip Sofia saggies van agter en sit haar hande oor Sofia se oë.“Raai wie?”Sy giggel hardop.

Sofia skrik só groot dat die groot koekblik amper omdop. Sofia draai vinnig om na Lucy.“Jou stouterd! Vir wat bekruip jy jou ma so?”Sy gryp haar vatlap en gee ’n wilde swaai in Lucy se rigting. Haastig koes Lucy uit die vatlap se pad terwyl sy terselfder­tyd een van die koekies gryp.

Sy gaan sit op een van die stoele aan die kombuistaf­el. Sy neem ’n hap uit die gemmerkoek­ie en proe die sagte, bros tekstuur wat dadelik in haar mond smelt.“Heerlik – nes ek Mammie se gemmerkoek­ies onthou.”

“Ja, jou gladdemond. Ek wou klaar gebak gewees het voordat jy kom,”laat haar ma hoor.

“Ag, Mammie het onnodig moeite gedoen. Ek kla nie, maar ons is veronderst­el om spa toe te gaan. Ek wil dan vir Mammie‘n bietjie spoil.”

“Ek sien jou deesdae so min, my kind. Dis hoekom ek vir jou jou gunsteling­koekies wou maak.”

“Haai, Mammie, ek video call darem gereeld.”

“Ja, maar dis nie dieselfde as om jou hier by my te hê nie,”sê Sofia.

“Oukei, Mammie.”Sy staan op en eet die laaste happie van die gemmerkoek­ie.“Ek gaan nou vir Mammie help klaar bak. Daarna gaan die twee van ons lekker uit.”

“Nee, sit. Jy’s seker moeg van die reis,” sê Sofia.

“Nooit nie,”antwoord Lucy.“Die kans om saam met Mammie te bak gaan ek nie mis nie! Dit gaan wees net soos toe ek klein was.”

“Goed dan,”sê Sofia en knik haar kop. “Moet tog nie vergeet om jou hande te was nie.”

“Natuurlik nie, Mammie,”sê Lucy en rol haar oë. Sy draai die kraan oop en hou haar hande onder die koue lopende water. Die nostalgie om saam met haar ma te bak, het haar oorstelp van opgewonden­heid.

Intussen is Sofia besig om nog deeg uit te rol. Sy sny die deeg versigtig met ’n koppie in netjiese sirkels en pak dit op die meelbestro­oide bakplaat.

Lucy voel sommer klaar meer ontspanne noudat sy weg van die stad se gejaag is. Weg van die deadlines wat altyd op haar hakke is. Weg van al die chaos wat haar teen die mure uitdryf.

Sy loer oor haar skouer na haar ma wat besig is om die bakplaat noukeurig met die ongebakte gemmerkoek­ies vol te pak. Met ’n glimlag kyk sy terug en spoel haar hande skoon onder die lopende water.

Die volgende oomblik is daar ’n harde lawaai wat deur die kombuis weergalm. Verskrik swaai Lucy vinnig om.

Sy sien die bakplaat op die vloer lê; die deeg lê uitgestroo­i oor die vloer.

Vir ’n oomblik is sy stil geskok en verdwaas. So lank as wat sy kan onthou, is haar ma altyd presies en versigtig. Glad nie een om lomp foute te maak nie. “Mammie, wat het gebeur?”vra sy.

“Ai, jitte tog,”sê Sofia waar sy kniel om die deeg bymekaar te skraap met haar hande.

Lucy sit op haar knieë en neem haar ma se hande in hare. Sy kan nie onthou dat sy ooit haar ma so verstrooid gesien het nie. Dís nie hoe sy haar ma ken nie. Dalk het sy haar ma te groot laat skrik vroeër?

“Mammie, moenie worry nie. Ek sal die vloer skoonmaak.”

“Maar ek het die gemors gemaak,”sê Sofia.

“Dis niks, Mammie. Kom sit.” Hand aan hand help Lucy haar ma tot by‘n kombuissto­el. Sofia sit en vryf haar hande onrustig teen mekaar. Lucy staan voor haar ma met haar hande om hare omvou. Sy kan nie help as om sleg te voel dat sy haar ma so‘n groot skrik op die lyf gejaag het nie. Dit was nie haar bedoeling nie.

“Moet ek vir Mammie ’n glas suikerwate­r kry?”

“Nee, dis nie nodig nie, Lucy. Kom sit. Fluffy maak klaar die vloer skoon.”

“Dis my skuld dat Mammie nou die accident gemaak het,”sê Lucy.

“Jy het niks verkeerd gedoen nie, kind,” sê Sofia.

“Vroeër toe ek Mammie skrikgemaa­k het. Ek wou Mammie net surprise,”laat Lucy hoor.

“Niks is jou skuld nie. Dis net nie maklik om oud te word nie.”

“Hoe bedoel Mammie dan nou? Mammie is dan nog so hups.”

“Daai dae is verby, my kind. Kyk na my hande,”sê Sofia. Lucy hou haar ma se hande stywer vas.“Mammie se hande is nog so sag. Watter cream gebruik Mammie?”

“My hande is nie meer sterk soos wat hulle eens was nie. Ek sukkel partymaal om die eenvoudigs­te ding te doen, soos jy kan sien ná wat nou gebeur het.”

Lucy kyk noukeurig na haar ma se hande wat in hare rus.

Die sagte hande wat altyd vir niks verkeerd gestaan het nie. Daar is bruin vlekke op albei. Sy kan nie onthou dat dit laas daar was nie. Lucy kyk op na haar ma se netjiese, lang vlegsel wat teen haar rug afhang. Dis gryser as wat sy onthou. Op daardie oomblik val die skille van Lucy se oë af: Sy besef skielik hoe die tyd aangeloop het. Haar ma het werklik ouer geword.

Met al die gejaag in haar daaglikse lewe het sy dit misgekyk. Sy het nie gesien wat reg onder haar neus gebeur nie. Tyd het aangeloop, sonder haar . . .

Later die aand sit Lucy en dink weer aan wat gebeur het en ’n oorweldige­nde berou brand diep in haar hart. Berou dat sy nie genoeg tyd gemaak het om met haar geliefde ma te spandeer nie. Dat sy tyd mors op dinge soos ’n loopbaan najaag, wat haar in elk geval net stres in die sak bring. Dis hoogtyd vir veranderin­g, besef sy nou.

Die volgende oggend gaan gesels sy vroeg met haar ma oor haar besluit. “Hoekom het Mammie my nie vertel dat Mammie problems met Mammie se hande het nie?”

“Ek wou jou nie pla met my ouvroukwal­e nie. Jy het jou eie lewe om te lei,” kom die antwoord.

“Ek is nooit te besig vir Mammie nie. Mammie moet by my kom bly, of ek sal by Mammie kom bly. Om na Mammie te kyk.”

”Ek het geweet jy sal jou lewe opgee as jy uitvind, en dís nie wat ek wil hê nie,” sê Sofia.

“Ek kom bly by Mammie en klaar. Dis afgehandel,”sê Lucy.

“Ai, net so stubborn soos altyd,”sê Sofia en skud haar kop.“Wat van jou loopbaan? Jy het so hard gewerk daarvoor.”

“Dis alles net tydelik. Van nou af gaan alles anders wees,”sê Lucy.

“Ek wil net hê jy moet gelukkig wees, my kind,”antwoord haar ma.

“Ek is happy,”sê Lucy en staan op. “Waarheen gaan jy nou, Lucy?” “Daar is gemmerkoek­ies wat gebak moet word. En vier hande is beter as twee.”

‘n Berou brand diep in haar hart dat sy nie genoeg tyd gemaak het om met haar geliefde ma te spandeer nie . . .

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa