Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Laat kinders weer droom. Dis ’n belegging in die toekoms

- DEUR CHRISTO MEYER

’nKind sonder ’n droom is ’n kind sonder ’n toekoms. Dié woorde herinner my aan ’n onderwyser uit my laerskoold­ae. Dis soveel jare gelede, maar ek onthou nog elke woord, al het ek die betrokke opvoeder se naam al vergeet.“Kinders wat nie droom nie, het niks om na uit te sien nie,”het hy by meer as een geleenthei­d gesê.

“Dis belangrik dat ’n kind van kleins af doelwitte het en vir hom- of haarself kan sê:‘Eendag as ek groot is, wil ek iets van my lewe maak’.”

Wanneer ek so stilsit en na die wêreld om my kyk, stoot daar woede en hartseer in my op. Droom vandag se kinders dan nie meer nie? Indien wel, hoekom hoor ons so gereeld van tienerseun­s op die Kaapse Vlakte wat met onwettige vuurwapens in hul besit betrap is?

’n Kind kan onmoontlik daarvan droom om ’n bendelid te wees, want bendes bied niks positiefs nie. Hulle kan jou wys hoe om te roof, verkrag, aan te rand en selfs te moor, maar hul bloedgeld gaan jou niks in die sak bring nie. Kort voor lank bots jy met die gereg, dan is die tronk jou voorland.

Jy word later só gebreinspo­el dat misdaad ál is waarom jou lewe draai. Jy het geen begeerte of ambisie om jou lewe te verander nie. Jare later, wanneer jy oud en afgemat is, wil jy by jouself weet waar alles verkeerd gegaan het. Die antwoord is voor die hand liggend: As kind het jy nooit enige drome gekoester nie.

Nog iets wat my bloeddruk die hoogte laat inskiet, is die talle tienermeis­ies wat skool weens onbeplande swangerska­p verlaat. Skielik kan sy nie meer die vryheid van jonk wees geniet nie, en sit sy met ’n verantwoor­delikheid wat sy self nie weet hoe om te hanteer nie. Sulke gebeure bring trane in‘n mens se oë.

Baie kinders se drome word deur volwassene­s gesteel. Hier dink ek byvoorbeel­d aan selfsugtig­e ouers wat nie behoorlik na hul kinders kyk nie. Ouers wie se lewe oorheers word deur dranken dwelmmisbr­uik. Die omstandigh­ede by die huis is later só haglik dat die kind wegloop en op straathoek­e gaan staan en bedel. Dis vir die kind beter om buite in die koue te slaap, as om aand ná aand deur ’n dronk ouer aangerand te word. Watter drome het‘n straatkind?

Afwesige pa’s kan ook kinderdrom­e verpletter. Dis geen geheim dat enkelma’s ’n algemene gesig in ons samelewing is nie. Sy moet die rol van beide pa én ma vertolk, en dis nie altyd maklik nie. Die kind het nie ’n vaderfiguu­r na wie hulle kan op kyk, of wat die verskil tussen reg en verkeerd kan verduideli­k nie.

’nTyd terug het ’n enkelma by my kom kla oor haar ongehoorsa­me dogter. Dis glo ou gewoonte van dié kind om uit die huis te slaap. Die ergste van alles is, sy is nét 14 jaar oud. Die skool het die kind glo vroeg in die jaar geskors omdat sy hardkoppig en astrant teenoor die opvoeders was. Wat verder seermaak, is dat die kind dreig om haar goed te vat en by haar veel ouer kêrel in te trek. Waarnatoe gaan die kind hardloop as sy swanger raak? Sy is dan nog self ’n blote kind.

Die ma het my gevra om met haar dogter te praat, maar ek kon sien dis net by die een oor in en anderkant uit.

Ek gaan gesels toe met ’n kerkbroer en hoor wat hy hiervan dink. Hy luister aandagtig en sê hy reken die probleem is dieper as wat dit lyk.“Iets moes daai kind gedryf het om so ’n groot besluit te neem. Sulke dinge kom nie sommer uit die bloute op ’n jongeling se pad nie.”

Hy was toe reg – die probleem ís sielkundig van aard. Dit het aan die lig gekom dat die ma ’n nuwe liefde ontmoet het en al haar aandag aan hom geskenk het. Die kind het afgeskeep gevoel.

Gelukkig het die ma haar fout betyds agtergekom en was daar nog tyd om dinge tussen haar en haar dogter reg te maak. In baie gevalle eindig sulke situasies egter in ’n ramp.

Laat ons as ouers die voorbeeld stel en rolmodelle vir ons seuns en dogters wees. Kom ons gee ons kinders rede om trots op ons te wees.

Vandag se kinders is die toekoms, die grootmense van môre. Het dit nie tyd geword dat hulle weer ’n slag begin droom nie?

Laat ons as ouers die voorbeeld stel en rolmodelle vir ons seuns en dogters wees.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa