BIBLIOTEKE IS VIR GEES EN SIEL
’n Skoolbiblioteek is ’n leerskool op sy eie, maar ook ’n veilige hawe in gemeenskappe waar dié ontvlugting soms die nodigste is
’nOrdentlike biblioteek is ’n luukse by duisende skole in ons land waar kinders reeds met lees- en leeruitdagings sukkel. Baie kom boonop uit huise waar daar skaars kos op die tafel is, wat nog van ’n boek wat jou op‘n verbeeldingsvlug kan vat. ’n Skoolbiblioteek blyk dus die oplossing te wees. Hier kan ’n kind ’n boek uitneem, terugneem en omruil – sonder dat ouers ’n sent betaal.
Om met begrip te kan lees, is van kardinale belang vir ’n suksesvolle skoolloopbaan, maar baie kinders het ’n leesagterstand en kan nie met begrip lees nie. Lees- en taalvaardighede begin ontwikkel reeds in die vroeë kinderontwikkelingsfase (0 tot 6 jaar).
Wanneer ’n kind lees, of selfs wanneer daar hardop vir ’n kind voorgelees word, neem dit daardie kind na nuwe hoogtes – letterlik én metafories, skryf Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder vir die Skolemark by Akademia.
Letterlik, ten opsigte van die kind se ontwikkeling, en metafories, omdat dit die verbeeldingswêreld van ’n kind ontsluit. Lees is ‘n noodsaaklike toegangspoort tot goeie taalvaardighede selfs voor ‘n kind kan praat.
Maar wat doen ons sonder boeke en biblioteke? ’n Verslag oor die geriewe by staatskole (wat in Augustus laas jaar uitgereik is) laat ’n mens koud. Daar was toe 22 597 staatskole waarvan 74,2% geen biblioteek of mediasentrum gehad het nie. Van die skole wat wel ’n biblioteek gehad het, het 43,1% nie voldoende boeke gehad nie.
Dit gaan die slegste in die Oos-Kaap, waar van die 5 046 staatskole slegs 354 wel skoolbiblioteke het. En slegs 215 van húlle het enigsins boeke.
Dan is daar verder die skrikwekkende 82% van graad 4-leerders wat nie met begrip kan lees nie. Dit is maar één van die bevindings wat die 2030 Leespaneel laas jaar in ’n verslag bekendgemaak het. Dié verslag wys verder dat meer as die helfte van leerders in skole wat nie skoolfonds vereis nie, nie die letters van die alfabet teen die einde van graad 1 onder die knie het nie.
LIG AAN TONNEL SE EINDE Daar is wel suksesstories wat hoop laat opflikker, van skole wat self ingespring het om ’n biblioteek deel te maak van hul leerders se opvoeding. Dis skoolhoofde, ouers en gemeenskappe wat besef hoe waardevol die wêreld van boeke en lees vir kinders is.
By Klipfontein Primary School in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte is die “biblioteek” ’n plek van inspirasie, verbeeldingstogte en leer, maar dit is bowenal ’n plek van veiligheid vir elke kind. Die skoolhoof, Ismail Meyer, sê in die 60 jaar wat die skool bestaan, is dit nou die eerste keer dat die kinders toegang tot ’n tipe biblioteek het.
Daar is nie net een plek waar kinders boeke kan uitneem nie, maar ook ’n hele paar plekke op die skoolterrein wat omskep is in leeshoekies met
boeke en bankies. Op met die trappe is daar rakke vol boeke oor die seelewe.
Voor die graad sewes se klas is die “taxi-biblioteek” wat kompleet soos die voorkant van ’n minibus-taxi lyk. Maak jy die deur oop, is daar ’n lekker leeshoekie binne. ’n Stoep aan die voorkant van die skool is toegebou met glas en aluminium, en dáár het ook die wyer gemeenskap toegang tot boeke.
“Omdat ons spasie so min is, moes ek ’n ander plan bedink. Ek besef toe ’n mens het nie ’n structured bilbioteek nodig nie. My leerders kom uit ’n baie arm gemeenskap waar die meerderheid ouers scrap herwin vir ’n inkomste. Daar is nie geld vir boeke nie en baiemaal nie vir kos nie. By die skool bied ons drie maaltye ’n dag, maar ons bied ook ontvlugting deur middel van boeke,” sê Ismail.
Tsietsi Mashiya is die bibliotekaris van die skoolbiblioteek by Kopanelang Thuto Primary School in Zamdela buite Sasolburg in die Vrystaat. Hy sê die skoolbiblioteek bestaan al ’n paar jaar en bedien kinders én die wyer gemeenskap. Hy sê hoewel die biblioteekspasie bitter klein is, het hulle boeke in Engels, Afrikaans, Sesotho, Tswana en isiXhosa. Daar is ’n fiksie-, niefiksie- en ’n naslaanafdeling.
Ná skool help hy kinders met huiswerk, asook dié wat sukkel om te lees. “Dit is vir my heerlik om te sien hoe opgewonde die kinders is oor die boeke en die ruimte wat ons hier vir hulle skep,” sê hy.
Leerders van die Laerskool Dr. G.J. Joubert in die Strand sien daagliks uit na hul biblioteektyd. Dit is vir die skoolhoof, Tauhira Fanie, ’n riem onder die hart as kinders vir haar kom vra wanneer is dit tyd om bib toe te gaan.
Die behoefte aan ’n skoolbiblioteek is versterk toe die dorpsbiblioteek, ’n hanetree van dié laerskool af, deur kwaaddoeners tot op die grond afgebrand is. Tauhira sê dit was die enigste sentrum in die gemeenskap waar kinders kon gaan om aan take te werk of net te lees vir genot.
Sy, die gemeenskap, ouers, die organisasies Strong Schools en Biblionef, kon toe die skoolbiblioteek se deure aan die begin van 2022 oopmaak. Dit is ’n ten volle funksionerende biblioteek met ’n wye verskeidenheid boeke, ’n opgeleide assistent wat die kinders help. Hier ontwikkel kinders ’n liefde vir lees, sê sy. “Ek wens jy kan sien hoe my leerders pouses in die biblioteek op hulle magies met ’n boek lê. Van hulle lê agter teen die kussings, sommige sit net daar met ’n boek. Dis soos ’n wegbreekplekkie vir hulle.
“Baie van ons kinders word in moeilike omstandighede groot, so baie van hulle bly in die middae en sit in die bib en lees. Vir my is dit nodig dat dit ’n veilige hawe is. Ek glo as ons ’n skool het met kinders wat kán, en lief is vir lees, gaan ons ’n skool wees met goeie akademiese uitslae.”
MAAK LEES ’N PRIORITEIT Christien Neser, ’n spraakterapeut wat dikwels skoolbiblioteke besoek, sê dis verblydend dat skole hul biblioteke opknap. ‘n Opgeleide in biblioteekkunde, ’n passie vir boeke, lees en veral kinders, is egter ‘n móét. “Baie skole het nie die luukse van ’n aparte personeellid om die biblioteek te beman nie.”
Sy sê die belangrikste is om kinders opgewonde en nuuskierig te maak oor lees.“Laat die kinders sommer op hulle magies lê of op die mat sit, en sê vir hulle, ‘maak nou toe julle oë, ek gee nie om of julle slaap nie, ek gaan nou vir julle lees’. Dis ’n plek waarheen ’n kind kan gaan om net af te skakel.
“Ons leef in ’n inligtingsoorlaaide wêreld, en wanneer jy dan vir daardie kind ’n boek oopmaak en vir hom lees, doen jy sy gees en sy verstand soveel goed.