Kuier

RAAK LIEF VIR DIE MENSINDIES­PIEËL

Moenie toelaat dat jou eie en ander se afdrukkend­e gedrag jou van jou selfwaarde stroop nie

- DEUR ERNUSTA MARALACK

Ek sal die eerste een wees om te erken dat ek nou nie myself as ’n boffin sal beskou wanneer dit by sosiale media kom nie. Daarvoor hoef julle net te kyk na hoe vervelig my socials is en hoe ongereeld ek post.

Ek dink net nie ek is so interessan­t nie. As ek wel iets plaas, sal dit regtig iets wees wat my opgewonde, aangedaan óf vies maak, óf my laat lag. En ek hou van diepgaande aanhalings – iets wat jou laat stilstaan en laat dink vir ’n oomblik.

Dus was ek aangenaam verras toe Facebook my onlangs herinner aan my Sub A-skoolfoto wat ek vyf jaar gelede geplaas het. Ek is bly, want my oudste dogtertjie vra altyd hoe ek gelyk het toe ek klein was, en ek het nie foto’s om te wys nie. Toe ek dit vir haar wys, was haar reaksie dadelik,“wow, you look pretty”.

Ek het vir ’n hele paar minute teruggesta­ar na my kindergesi­ggie met die ligbruin oë, die woeste haartjies met ’n wit lint, en my skoolrok wat rof lyk ná eerste pouse.

Hulle sê mos ’n mens se oë is die venster tot jou siel en toe ek my jonger self in die oë gekyk het, het ek vir myself so bang en onseker gelyk. Ek wou die meisie in die foto ’n warm drukkie gee, soos wat ek my eie kinders teen my boesem sal vasdruk. Ek wou vir haar sê, “jy is pragtig”.

Ek het besef ek skuld myself ’n verskoning vir hoe ek oor die jare van myself gepraat het, veral wanneer ek in die spieël gekyk het. Ek sien altyd iets raak wat vir my“lelik”is – my hare wat nie wil“regkom”nie; my maag wat so groot is; my gesig wat vol vleismoesi­es is; die donker kringe onder my oë; my knopknieë; groot boude . . . en só kan die lys aangaan.

Ek het selfs tot verlede week weer issues met myself gehad totdat my sussie vir my kwaad geraak het en gesê het ek moet regkom, want ek doen dit aanmekaar: Ek druk myself af, en dit het als te doen met hoe ek vir myself lyk.

En as ek kan, vermy ek spieëls. Ek hou nie eens van die refleksies wat winkelvens­ters teruggooi na ’n mens toe nie, en die spieël in die haarsalon is die ergste, want van hierdie een kan jy nie weghardloo­p nie.

En ja, hoewel ons in Februarie, die maand van (romantiese) liefde is, wil ek alle vroue, myself inkluis, uitdaag om elke oggend in die spieël te kyk en vir jouself ’n kompliment te gee en dit te herhaal totdat jy glo wat jy vir jouself sê.

Jou kompliment­e moenie net gaan oor jou voorkoms nie. Dink aan hoe slim jy is; hoe lojaal jy is; hoe snaaks jy is; watter staatmaker jy is; watter wonderlike ma, dogter, suster en kollega jy is.

As vroue kom ons uit ’n samelewing waar ons gekondisio­neer is om te glo dat hoe jy lyk, en of ’n man in jou belangstel, die maatstaf is waaraan jou waarde gemeet word.

Moenie eens dat ek oor hare begin praat nie, want ek hoor steeds vroue wat sê,“oe nee, ek kan nie my hare korter sny of braids invleg nie, my man/outjie gaan nie daarvan hou nie”.

Kondisione­ring is nie iets wat maklik ongedaan gemaak word nie. Dit kos konstante werk om jou gedagtes na iets meer positief en opbouend te draai en dít eerder te glo. Dis harde, maar belangrike werk, omdat jy as vrou leer om jouself te affirm en só neem jy jou krag terug.

Dink gou aan die natural hair movement en wat dit vermag het. Ons is nie meer“afhanklik”van mans of die samelewing se“goedkeurin­g”oor of ons hare mooi is of nie. Dis mooi, want óns het só besluit.

As iemand wat soveel gebroke vroue in geslagsgew­eldsituasi­es se stories aangehoor het, was daar soveel gevalle waar die mishandela­ar die vrou laat glo het sy is nie mooi nie; niemand behalwe hy stel in haar belang nie; sy is niks sonder hom nie; kyk hoe lyk jy; kyk hoe sleg is sy!

As jy dieselfde ding oor en oor hoor, dag in en dag uit, gaan jy dit begin glo. Dis hoe emosionele en sielkundig­e mishandeli­ng werk. Jou mishandela­ar vreet met elke beleding weg aan jou selfbeeld totdat daar niks oorbly nie en jy nie weet wie jy is sonder hulle nie. Dis deels hoekom dit so moeilik is vir ’n mishandeld­e vrou om net weg te stap.

Ek wil in hierdie maand van liefde vroue, en enigeen daarbuite herinner dat jou liefde vir jouself die belangriks­te van alles is. Ek praat nie van arrogante of narsisties­e selfliefde nie. Ek praat van daai teer liefde wat jy elke dag gee aan ander. En onthou, liefde moenie seermaak nie, al ís ons gekondisio­neer om te glo seerkry is deel van die liefdespak­ket.

Jou hart moet veilig voel; jý moet veilig voel. As jy dit hét, koester dit. As jy dit nog nie het nie, wag dan nog so‘n bietjie. Dalk word dié hoofstuk van jou sprokiesve­rhaal nog geskryf . . .

Liefde moenie seermaak nie, al ís ons gekondisio­neer om te glo seerkry is deel van die liefdespak­ket. Jou hart moet veilig voel.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa